DIE sangeres Shakira (45) kan agt jaar in die tjoekie deurbring oor sy nie Jan Taks betaal het nie. Aanklaers in Barcelona sal ook ’n boete van byna €24 miljoen (sowat R405 miljoen) van haar eis.
Sy word daarvan beskuldig dat sy die Spaanse belastingkantoor uit €14,5 miljoen (sowat R245 miljoen) bedrieg het.
Shakira het Woensdag ’n pleitooreenkoms verwerp en gesê sy is “absoluut seker van haar onskuld”.
Aanklaers sê Shakira het in 2011 na Spanje verhuis toe haar verhouding met Gerard Piqué openbaar geword het, maar het amptelike belastingverblyf in die Bahamas behou tot 2015.
Die ster beweer aanklaers dring daarop aan om geld te eis wat verdien is tydens haar internasionale toere en die program The Voice.
Sy meen sy het nie daai tyd in Spanje gewoon nie.
Haar prokureurs sê dat sy tot 2014 die meeste van haar geld uit internasionale toere verdien het, eers in 2015 voltyds na Spanje verhuis het en alle belastingverpligtinge nagekom het. ’n Hof in Barcelona het in Mei ’n appèl van die sanger om die aanklagte te laat vaar, van die hand gewys.