
DIE Showmax Original riller-reeks Pulse is van gister af beskikbaar om te stream.
In dié reeks ontdek ’n groep speletjie-ontwikkelaars dat oorlewing nie meer slegs ’n spel is nie.
Dit wanneer ’n elektromagnetiese polsbom elke elektriese stroombaan in hul hoë kantoorgebou en mense se gesonde verstand laat brand.
Die aktrise Tarryn Wyngaard beskryf Pulse as ’n grinterige sielkundige riller oor ’n groep mense wat probeer om uiterlike malligheid en hul innerlike waansin te oorleef.
“Hulle moet hulself en die wêreld om hulle oorleef.”
Wyngaard speel Jaz, ’n videospeletjie-ontwerper en vrou wat ’n leier in haar veld is, wat dan hierdie groep na veiligheid moet lei.
“My karakter is net so amazing!”
“Vir haar is videospeletjies haar kuns op dieselfde manier as wat ek toneelspel sien.
“Sy sit als daarin. Dit is nooit net ’n speletjie vir haar nie.
“Aanvanklik was dit intimiderend, maar ek het geweet die rol het baie vleis om die lyf en gaan wonderlik wees, so dit was iets wat ek wou doen.”
Waarsku
Vir Wyngaard was die hoogtepunt wanneer hulle besig was met verfilming en hulle kruip deur lugtoevoer-stelsels sonder om haar te waarsku, maar met die kamera steeds op haar gefokus.
En dan laat iets klap of ontplof, sodat sy skrik.
“Dit sou altyd ’n rukkie neem om weer ná die tyd te kalmeer.”
Wyngaard sê die moeilike deel was om so lank weg van die huis af te wees tydens Covid-19.
“Gelukkig was ons op ’n eiland waar jy saam met dolfyne kan gaan swem, wat opgemaak het daarvoor.”
Pulse is nou beskikbaar om te stroom op Showmax.