MENSE gaan beslis die nuwe treffer “Ghetto” van Nate Johnson voel.
Johnson vertel die hele idee van die song is dat mense dit moet voel. “Die lyrics praat oor van waar ons kom — die ghetto-lewe.”
Johnson sê hoewel die lyrics meer op die ghetto-lewe op die Kaapse vlakte gebaseer is, wys die musiekvideo beelde uit die plek waar hy grootgeword het, die ghetto in Hawston.
Oorspronklik
Volgens die rapper het hy die musiekvideo daar geskiet om die gemeenskap van Hawston te uplift.
“Die konsepte van die musiekvideo kom van baie rou gedagtes van hoe ons as kinders opgegroei het.
“Ek het dit baie oorspronklik probeer hou sodat mense daarmee kan relate.”
Johnson sê musiek moes al destyds sy uitkoms gewees het, maar nóú is dit uiteindelik sy uitkoms.
“Musiek is my lewe. Ek kan met enige iets relate deur musiek.
“Ek moes al dáái tyd my stories vertel het, maar ek was ’n bietjie gruwelik.”
Johnson glo dat alles tyd vat en dat God sy grootste gevegte aan sy sterkste soldate gee.
“Nou kan ek die jeug adviseer,” sê hy.
Johnson, van Mandalay in Kaapstad, sê hy is nie een oomblik spyt oor sy loopbaankeuses nie.
Hy het in 2019 eers uit sy dop geklim en besluit om sy musiek ’n kans te gee en van daar, vertel die rapper, het sy musiekloopbaan net voorwaarts beweeg.
Johnson, wat sy loopbaan in die gesondheidsbedryf vroeër vanjaar opgegee het om voltyds musiek te maak, sê hy is gelukkig met waar hy is.
Droom
Wanneer hy nie self musiek maak nie, is hy besig met sy musiekmedia-produksiemaatskappy wat hy met die rapper Illrow bestuur.
Sy droom is om eendag terug te gee op ’n wyse om diegene te help wat dit nie kan bekostig om hulle musiek daar buite te kry nie.
Johnson laat val dat ’n volle nuwe musiekprojek teen einde Julie van hom verwag kan word.