’n Kykie in die kamer

akkreditasie
Uit Die Slaapkamer skop af op 6 Julie om 21:00.
Uit Die Slaapkamer skop af op 6 Julie om 21:00.
verskaf

DIE DStv-kanaal VIA is reg om sommer uit die slaapkamer te praat.

Dié kanaal het ’n nuwe geselsprogram, Uit Die Slaapkamer, wat sal verseker dat seks nie meer taboe hoef te wees nie.

Of jy enkellopend is, in ’n verhouding is of vrae het oor hoe om dáái gesprek met jou kinders te hê – jy sal kan baat by die program én selfs ’n ding of twee leer!

Dr. Elna Rudolph, ’n seksuoloog en mediese dokter, vat voor met die gesprekke oor seksuele gesondheid en die res van die paneel gesels saam oor intimiteit en ander kwessies.

Adri Vivier wat op die VIA-program Ouma Weet Mos raad gee, deel nou meer as nét sielkundige raad uit. Adri is ’n oud-onderwyser, ma van vier en deeltyds ook ’n aktrise. Haar raad beloof om te sorg vir ligter, dog insiggewende oomblikke, veral wanneer dit by ouerskap kom. Die sanger en aktrise Bianca le Grange bring haar prettige en reguit persoonlikheid wat sorg vir baie vermaak. Die akteur en aanbieder Neels van Jaarsveld gee veral raad en insae vanuit ’n manlike perspektief.

Die span gaan glo kykers se onbeantwoorde intieme vrae beantwoord. Die onderwerpe sluit in menstruasie tydens seks, lae libido, voorbehoeding vir tieners, seksspeelgoed vir vroue én mans, vaginale geboorte versus keisersnit... dít en nog baie ander interessante onderwerpe word gedek.

Inligting

“Ek is passievol oor seksuele gesondheid en om die regte inligting te gee, want daar is baie vrae en dikwels min antwoorde,” verduidelik dr. Elna.

“Meer kennis oor seksuele gesondheid hou twee voordele in. Hoe meer jy weet oor seks, hoe meer kan jy swaarkry rondom dit voorkom. En dan natuurlik ook: Hoe meer jy van seks weet, hoe groter is jou kans om jou seksuele plesier te verbeter wat voordelig is vir jouself en vir die gehalte van jou verhouding.

“Kykers kan uitsien na lekker uit die maag lag, daardie ongemaklike giggel of veelbetekenende glimlag oor al die verskillende dinge wat ons bespreek,” laat val dr. Elna.

“Ons vreeslose aanbieder en ongelooflike paneel het uit die staanspoor moeilike én soms persoonlike vrae met deernis en empatie hanteer,” sê Mareli Olivier, die regisseur.

Kykers kan vanaf 6 Julie elke Woensdag om 21:00 inskakel vir Uit Die slaapkamer.

Sê jou sê
Moet die salaries van Eskom-werkers gesny word oor load-shedding?
Kies asb. 'n opsie Oeps! 'n Fout het ingesluip. Probeer asb. weer.
Resultate
Hulle moenie betaal word nie
47% - 75 stemme
Haai nee, shame - hulle het families
16% - 26 stemme
Eskom se push
26% - 41 stemme
Gee my krag, elke dag
9% - 14 stemme
Wat is load-shedding?
2% - 3 stemme
Stem
Jongste Son

30 Junie 2022

Jongste Son
Klik hier om te lees!
Begin lees