
EEN ding is vir seker, Machine Gun Kelly (MGK) het nie al sy varkies op hok nie!
Dié musikant het op die TV-program Late Night with Seth Meyers verduidelik waarom hy self sy kop teen ’n glas gekap het dat die bloed so by sy gesig afstroom.
Volgens die 32-jarige punk rocker het hy probeer om ’n skare se aandag te trek toe hy besluit het om ’n glas teen sy gesig te slaan, wat veroorsaak het dat hy Dinsdagaand vol bloed was.
“Jy weet wanneer jy ’n sjampanjeglas met ’n vurk klink om soort van mense se aandag te trek?
“Ja, ek het nie ’n vurk gehad nie. So, ek het dit net op my kop geklink.”
Toe MGK die eerste keer sy intog op die NBC laataandprogram gemaak het, het Meyers gevra vir ’n update oor hoe dit ná die bloederige voorval met hom gaan.
Jip, daar is meer as net ’n skroefie los hier, nè?