
DIE internasionale spreker en skrywer Erik Kruger het onlangs sy tweede boek – Dangerous – uitgereik.
Tracey McDonald, van Tracey McDonald Uitgewers, het bevestig dat dié hoogs-inspirerende boek – kort nadat dit landwyd op boekrakke verskyn het – die vyfde plek ingeneem het op Exclusive Books se Top 10-besigheidsboekelys.
Kruger sê die boek herinner lesers om weer beheer te neem, risiko’s te vat en te groei.
“Dit is ongelooflik om te sien hoe goed die boek ontvang word. Ek dink dit is omdat dit die regte boodskap op die regte tyd bied. Mense is al vir meer as twee jaar in oorlewings-modus en dit is nie meer goed genoeg nie.”
“Dangerous gaan daaroor om weer beheer te neem van jou lewe. Dit moedig jou aan om ’n bietjie meer “gevaarlik” te wees op ’n manier wat ons help om die bedreigings in ons lewens te oorkom, sodat ons terselfdertyd ook diegene vir wie ons omgee, kan beskerm.”
Herontdek
Erik spog met verskeie grade aan die Universiteit van die Witwatersrand (WITS), insluitend ’n BSc in fisioterapie, ’n nagraadse diploma in bestuur, en ’n meestersgraad in bestuur en uitvoerende afrigting.
Gedurende sy leeftyd, moes hy homself al verskeie kere herontdek en vestig.
Jy kan Dangerous by enige boekwinkel landwyd koop.