KIM Syster bring hulde aan kleurvolle bruin vroue in die TV-reeks Dinge van ’n Kind.
Die reeks is gebaseer op Marita van der Vyver se bekroonde roman met dieselfde titel. Die reeks het gisteraand op kykNET (DStv-kanaal 144) afgeskop.
Kim Syster (Skemerdans) vertolk die rol van Janine, ’n trotse bruin vrou wat met ’n bruin man, Pierre, getroud is.
Die aktrise vertel sy het baie van haarself en haar kultuur by haar karakter ingebring.
Sy lag toe sy sappig vertel: “Te veel. Ek het te veel van myself in Janine gesit.
“Dit is altyd vir my lekker om saam met mense te werk wat daardie eienskappe van myself in my karakter uitbring. Ek probeer om in al my karakters ’n bietjie van myself te sien.
“In een van die scenes dra Janine ’n swirl-kous en dit is iets wat ek ook dra.
“Ek was baie bly toe ek daardie stukkie in die reeks kon uitbring.”
Sy vertel ons ’n bietjie meer oor haar karakter: “Ek vind Janine baie snaaks. Sy is ook ’n baie sterk vrou en baie familievas.
“Ek hou van haar en haar man se verhouding, want hulle is soos besties.
“Hulle twee kom al van varsity-dae af. Hulle is op pad Londen toe en daar is nog ’n hele paar goedjies wat gebeur, maar ek kan nie nou te veel daaroor uitwei nie.”
Ons het Maandagaand die geleentheid gekry om die eerste twee episodes van dié reeks te kyk en die gehoor het elke oomblik gelove.
Daar is baie klein details in die reeks wat al die temas mooi saamvat. Byvoorbeeld die jong meisie wat in ’n gebroke spieël kyk terwyl sy aan ’n gebroke selfbeeld ly.
Dan is daar die rasse-verdeeldheid wat ook eufemisties uitgebeeld word. Jy sien hoe die swart werkers in die agtergrond verskyn terwyl hulle hard aan die werk is.
Daar is selfs tonele in ’n restaurant waar daar “slegs blankes” staan terwyl die swart mense in ’n lang tou buite staan. In dié reeks van tien episodes ontmoet kykers Mart Vermaak.
Die ontnugtering van haar grootwordjare vind plaas teen die politiese agtergrond van die onstuimige laat-1970’s.
Dít terwyl ’n ouer Mart haarself in ’n ontnugtering van ’n ander aard bevind.
Rolverdeling
Die rolle van Mart word in die TV-reeks vertolk deur onderskeidelik Melissa Myburgh, Cintaine Schutte en Susanne Beyers.
Ander akteurs wat in die rolverdeling is, sluit in Jana Kruger, André Weideman, Andahr Cotton, Deànré Reiners, Wilhelm van der Walt, Quanita Adams, Zenobia Kloppers en Ludwig Binge.
Dis ook Mienke Ehlers en Augusta Zietsman se eerste groot TV-rolle. Mienke speel die rebelse Dalena en Augusta vertolk die rol van Suna.
- Dinge van ’n Kind saai elke Dinsdag om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uit.