Wat Klaus vermag het, slaan Shonda se asem weg...

akkreditasie
Oom Sonnie
Oom Sonnie

HI, SONLANDERS! LuShondarella gaan maak vir ’n tweede keer ’n draai by Fay Oggenddou se huis, maar hierdie keer sonder Waanie. Dié is nêrens te sien nie en Fay deel haar later mee dat sy Waanie op ’n spesiale taak gestuur het. Lu­Shondarella ontmoet ook Fay se handlanger, Klaus Dopey, wat die onvriendelikste skepsel is. Maar volgens Fay is dit die einste Klaus wat vir LuShondarella onder hande gaan neem. Maar presies hoe, sal dié uncle baie graag wil weet. Geniet nou hoofstuk 8 van ELDRIDGE JASON se “LuShondarella”.

TWEE dae later staan Lu­Shondarella voor die spieël in Fay se slaapkamer. Die tweede keer wat sy haar voete hier sit. Die eerste keer was nourie aand toe Klaus haar daarheen gevat het om ’n rok te gaan aanpas. Die een vir haar matriekafskeid.

Dit was ’n slaan-my-om-mette veer-oomblik toe sy die rok sien.

’n Ligte, gouerige kleur aandrok wat haar na haar asem laat snak het.

Dit was ’n rok bestem vir ’n prinses en die oomblik toe sy dit aanpas, kon sy nie anders as om soos royalty te voel nie.

Vir die eerste keer het Klaus ook ontdooi en sy hande ingenome teen mekaar geklap.

Daar was ’n breë smile op sy gesig en dit is toe dat sy wat LuShondarella is, besef Klaus is eintlik ’n heel aangename mens – as hy met rokke en make-up kan werk.

Die moegheid het selfs van Fay se gesig af verdwyn toe sy voor haar in die rok gaan paradeer het.

“Jy lyk... jy lyk soos ’n prentjie,” het Fay geprewel. LuShondarella het besef dat sy nog nooit so gelukkig in haar lewe was nie.

Dit was ’n aand van aanpas en bypas met verskeie juweliersware wat ook uitgehaal is.

Klaus het by tye fronsend langs haar by die spieël gestaan en dit was al ounag voordat hy eers tevrede was.

“Ek weet al klaar in watter styl ek jou hare ook gaan sny,” het Klaus by die deur aan haar gesê toe sy eenvoudig moes gaan slaap.

En nou staan sy hier in Fay se slaapkamer en gaap na Klaus se handewerk.

Dit voel amper so vir haar asof die mens wat sy in die spieël sien ’n totale vreemdeling is. Dan val iets haar by.

“Oe gonna, die kaartjies! Ek het nie die tickets vir die matriekafskeid betaal nie.”

“Relax, girlfriend,” sê Klaus en vroetel weer met haar hare. “Wat sal jy jou dan bekommer oor goed wat klaar uitgesort is? Wag, draai jou so. Hmmm... ek het net die regte bag wat saam alles gaan gel.”

Klaus stap haastig die vertrek uit en LuShondarella draai bekommerd na Fay.

“Ek verstaan nie wat aangaan nie,” sê sy dan. “Die skool is baie strict oor betalings en ek weet virre feit my ma het nie geld gehad om die kaartjies te betaal nie.”

“Dis is uitgesort, soos Klaus gesê het,” paai Fay.

“Maar hoe?” hou LuShondarella dik. “Ek wil nie by die civic kom en dan word ek in die eyes gesteek as ek gevra word om die saal te verlaat nie.”

“Jy bekommer jou verniet,” antwoord Fay.

“Klaus het gister al skool toe gegaan en jou en jou partner se tickets gaan betaal. Gepraat van partners – jou skool allow julle mos om buite-partners te bring, ne? Dit hoef nie noodwendig iemand te wees wat daar skoolgegaan het, of nog skoolgaan nie?”

LuShondarella knik. “Dis reg so, ja. Maar weet jy, Fay, ek het nog nie eens aan ’n partner gedink nie. Nie een keer nie.

“Wie gaan my partner wees?”

Fay gee ’n geheimsinnige laggie. “Just you wait,” sê sy goedig. “Ek beloof dat dit ’n aangename verrassing gaan wees.”

“Is dit Klaus?” kan LuShondarella nie anders as om te vra nie. Maar Fay knipoog net vir haar en rep nie ’n verdere woord hieroor nie.

Kans om dik te hou is daar ook nie vir LuShonda nie, want Klaus kom ingestap met die oulikste van handsakkies. Wat haar egter meer interesseer, is die klein skoen- boksie in sy ander hand.

“ ’n Prinses is nie ’n prinses sonder ’n ordentlike paar skoene nie,” sê Klaus. Hy gloei behoorlik soos ’n energie-saver-lampie wat nog nie vir Eskom beskore is nie.

LuShondarella maak die boksie met bewende hande oop. En toe slaan haar asem weg. Regtig weg. Só erg dat Klaus haar ’n hou of twee agter die blad moet slaan.

Voor haar is iets waarvan drome aanmekaar geweef word.

Die skoene is helder van kleur, byna deurskynend. Daar is sulke fyn, blink spikkeltjies op dit.

“Amper soos regte, egte diamantjies,” fluister sy.

Klaus lag bo uit. “Wat laat jou dink ons is mense wat hou van kamma-likes?”

LuShondarella se mond val oop.

“Bedoel jy? Bedoel...”

“Maar natuurlik, girlfriend,” antwoord Klaus verontwaardig.

“Daar is niks fake omtrent Fay en die dinge wat sy maak nie.

“Het jy dit dan nog nie agtergekom nie. Diamonds are a girl’s best friend. Soms jou enigste.

“Ja, dit ís regte, egte diamantjies en jy sal nie glo wat dit als geverg het om dit betyds klaar te kry nie.

“Likes jy dit?”

“Likes ek dit? Ek love dit!” antwoord LuShondarella in ekstase. Dan skiet haar oë vol trane.

“Hierdie is too much, julle. Ek kan mos nie hierdie goed afford nie.

“Elke liewe ding... die rok, die earrings, hierdie pragtige hangertjie om my nek...om nie eens van hierdie beautiful skoene te praat nie... dit alles kos seker ’n plaas se prys.

“En soos my pa altyd sê, is niks in die lewe verniet nie. So, wat is die vangplek hier? Wat soek julle? My siel?”

Klaus draai na Fay en dan bars hulle altwee uit van die lag. Hulle lag so lekker dat LuShondarella half-verleë daar staan. Die twee lag so lekker dat die lagtrane oor hul wange rol.

En hoe meer hulle lag, hoe jonger en vroliker lyk hulle.

Dit tref LuShondarella soos ’n vuishou onder die ken. Kan dit wees? Kan dít regtig die prys wees wat Fay en Klaus uit die deal score.

“En hoekom kan dit nie wees nie?” vra Fay. Die lag is uit haar gesig, maar die gloed van lekkerkry glinster nog in haar oë.

“Ek sien jy het dit uitgefigure, Shonda, maar ek het ook niks minder van jou verwag nie.

“Jy is ’n clever meisie en nee, ek het nie ’n kristalbal nie, maar ek weet nou al jy gaan baie goed die einde van die jaar in die eindeksamen vaar.”

Dit lyk asof Fay nog iets wil sê, maar sy word onderbreek toe die deurklokkie lui.

LuShondarella skrik. Sy het nie eens besef daar is wel ’n deurklokie nie.

“Jou date vir die aand is hier, kom,” sê Fay. Daar is ’n tinteling van opgewondenheid in haar stem.

Maar dis ’n saak van bewend, jellie-knieë vir LuShondarella wat saam met haar voordeur toe stap...

) Lees môre verder

Sê jou sê
Wat gebruik jy om Netflix, Showmax, etc te kyk?
Kies asb. 'n opsie Oeps! 'n Fout het ingesluip. Probeer asb. weer.
Resultate
My selfoon data
12% - 67 stemme
Ek het 'n selfoon-kontrak
1% - 5 stemme
Ek het wifi :-)
51% - 296 stemme
Ons is posh en het fibre!
36% - 208 stemme
Stem
Jongste Son

18 Augustus 2022

Jongste Son
Klik hier om te lees!
Begin lees