Waanie vertel LuShondarella iets interesting

akkreditasie

HI, SONLANDERS! Lu-Shondarella is diep mismoedig oor hul arm agtergrond wat haar daarvan weerhou om na haar skool se matriekafskeid te gaan. Maar haar straat se tikkop, Waa-nie, sê dan aan haar dat daar ’n way is. Dat sy net die fairy godmother moet gaan visit. Maar waarvan praat Waanie? Het hierdie ou al sy varkies op hok? Geniet nou hoofstuk 2 van ELDRIDGE JASON se “LuShondarella”.

LUSHONDARELLA weet darem nie so mooi of sy Waanie kan trust nie.Waanie is immers die een wat almal in Katjiepiering­straat oortuig het dat die Covid-lockdown net 21 dae lank sou wees. Hy het glad so ver gegaan om net ná daai voorspelling van hom oom George Versinneburgh te oortuig om sy hand-sanitiser-besigheid te verkoop en eerder sy eie ministry te begin.

Oom George Versinneburgh het Waanie nou nog nie vergewe nie en elke keer as hy Waanie sien, moet hy Psalm 23 kliphard opsê, anders kry hy ’n nervous breakdown.

So, hoe kan sy wat LuShondarella is Waanie vertrou?

“Waanie, het jy alwéér jou marbles innie pan gesit?” vra LuShondarella.

“Daar bestaan nie goed soos fairy godmothers nie.”

LuShondarella voel ongemaklik toe Waanie nader aan haar beweeg. Unlike wat die politicians ’n mens wil wysmaak, is Covid immers nog steeds ’n realiteit.

“Sy is real. En sy bly hier in Katjiepieringstraat,” sê Waanie met soveel oortuiging dat ’n mens wat hom nou moet aanhoor, sou glo dat dit moontlik is vir ’n Goeie Vrydag om op ’n Maandag te val.

“Hoop,” sê LuShondarella en sug dan soos ’n ou vrou. “Hoop is nie iets waaraan ons hier in Katjiepiering moet klou nie.

“Jy weet dan die lewe dish hier vir ons pierings vol disappointments uit.”

Waanie skud verwoed sy kop.

“Hoekom is dit so swaar vir mense om my te glo?”

“Err… want jy tik?”

Waanie gooi sy hande in die lig. “Ek mag nie tik nie, maar ander kan voor hulle getroud is saambly en klompie kinders hê?”

“Dis maar hoe die lewe werk,” sê LuShondarella en beweeg so ’n bietjie weg van Waanie af.

Sy weet nie hoekom nie, maar sy kry die idee dat Waanie se tokkies nou wakker geskrik het.

“Ek tik lankal nie meer nie,” sê Waanie. “Ek pretend nou al vir ’n hele ruk lank so, net omdat ek likes hoe almal hier in Katjiepiering my kan judge, maar nie een van hulle het ooit law gaan swot nie.

“God se waarheid, LuShondarella, ek sal nie vir jou lieg nie.

“Seker so ’n maand innie lockdown het ek hier in Katjiepiering rondgeloop, op soek na iets van waarde.”

“Om te steel?” vra LuShondarella en kry gedagte dat hul straat vir ’n tyd lank gebuk gegaan het onder inbrake.

“Ek is nie proud op die lewe wat ek gelei het nie, but ek kan met trots sê dat ek nog nooit ’n crime moes commit om my habit te onderhou nie.”

“But dwelmmisbruik ís dan ’n crime,” hou Lu-Shondarella haar onnodiglik slim.

“Toemaatou, toemytou,” antwoord Waanie net. “Anyway, gaan jy jou verbeel jy is familie van Judge Judy of wil jy hê ek moet jou die storie vertel?”

Daar is ’n paar oomblikke stilte voordat Waanie sy storie hervat.

“Anyhow, soos wat ek gesê het, was ek hier diep in die nag deur die hele Katjiepiering op soek na ’n bietjie van geluk.

“Ek het darem vir jou die snaaksste goed gesien. Soos dat die Livingstones glattie daai ‘living their best life’ moments het soos wat hulle op Facebook spog nie, want so diep in die nag soos wat dit was, so laat het hulle gesit en rooi jam en brood eet. So whalla!”

Waanie druk sy wysvinger in sy mond en basta-soen dit as bewys dat hy nou besig is om die waarheid en niks anders as sy version van die waarheid te praat nie.

“Dan wil ek nie eens van oom Koot Punani praat nie. Daai man is ’n freak! Hy het ’n hele collection swepe wat hy mee… wag, laat ek maar liewers nie daarvan praat nie.

“Ek kry nou nog nightmares oor wat ek deur sy oop gordyne gesien het.

“Anyhow, so stap ek mos toe deur die hele Katjiepiering tot by die huis op die hoek.”

“Die een waar die gordyne altyd bottoe getrek is?” vra Lu-Shondarella.

Sy is nou diep nuuskierig. Iets sê haar Waanie is kliphard besig om bacon met haar te skiet, maar wie kan dan nou nee sê vir ’n goeie storie? Selfs al is dit heel moontlik ’n liegstorie?

“Exactly!” antwoord Waanie heel opgewonde.

“Mens sien mos nooit die mense wat daar woon nie. Eintlik, sien ek toe daai aand daar is daar net een mens wat daar woon. Ek het iets in die jaart gesien glinster in die nag en gedink good shot… iets wat worth die moeite is om oor die fence te spring.

“Ek spring mos nie sommer in mense se jaarte nie, but ek was despe-rate, you know.”

“Ek was amper by die ding wat so geblink het. Ek kan dit nie describe nie. Dit was die mooiste, mooiste bright lig.

“En toe ek net afbuk en my hand uitsteek om dit op te tel, toe gaan die blerrie voordeur oop.”

Daar is ’n oomblik stilte. Waanie staan met sy oë toe, so asof hy daardie oomblik herleef.

“En toe?” por LuShondarella hom ietwat ongeduldig aan.

Waanie maak sy oë oop. Daar is ’n vreemde skynsel in sy oë wat haar ongemaklik laat voel.

“En toe… toe sien ek haar,” antwoord hy in ’n prewelstem.

“Die fairy godmother. Haar mond het beweeg. Ek het nie woorde gehoor nie, maar ek het verstaan wat sy sê.

“Amper so asof ek in ’n trance was, is ek saam haar die huis binne. Sy het vir my tee gemaak en gemmerkoekies gegee om te eet.

“En toe ek daar uit is, was ek ’n changed man. Dit het vir my gevoel of ek net vyf minute in daardie huis was, maar toe ek buite kom, toe sing die son al sy middag-tune. Van daardie dag af is ek ’n changed man en het my hande of lippe nooit weer aan ’n tiklollie gesit nie.”

LuShondarella skud haar kop.

“Dis ’n baie interesting storie, Waanie. Eintlik moet jy movies maak. But ek kan nie sien hoe help dié storie van jou my nie.”

Waanie sug.

“Moet ek dan als vir jou uitspel? Het jy niks gehoor wat ek jou vertel nie?”

“O, ek het als gehoor. Ook dat jy heel moontlik vir die eerste keer in jou lewe gemmerkoekies geëet het,” antwoord LuShondarella heel snipperig.

“Verder sal jy seker ook sweer dat die gingerbread man ook in die huis op die hoek bly?”

  • Lees môre verder
Sê jou sê
Wat gebruik jy om Netflix, Showmax, etc te kyk?
Kies asb. 'n opsie Oeps! 'n Fout het ingesluip. Probeer asb. weer.
Resultate
My selfoon data
12% - 67 stemme
Ek het 'n selfoon-kontrak
1% - 5 stemme
Ek het wifi :-)
51% - 296 stemme
Ons is posh en het fibre!
36% - 207 stemme
Stem
Jongste Son

18 Augustus 2022

Jongste Son
Klik hier om te lees!
Begin lees