Verbasend likes Anna haar werk, maar die pay...

akkreditasie

HAAI, Sonlanders! Dis maar ’n koddige begin vir Anna Baatjies en die res van die span by evangelis Johnny se call centre. Die skaam Rosemary, wat al ’n noue ontkoming van ’n spulse aard met die evangelis gehad het, ontpop egter in ’n life-saver wat die ander begin touwys maak. Maar Anna bly nog skepties, veral toe sy hoor wat die naam van die begrafnispolis is wat hulle moet verkoop: Do or Die. Geniet hoofstuk 5 van ELDRIDGE JASON se Anna Johanna Stoffelina en So Aantes...

ANNA kan nie anders as om aan haarself te erken dat sy haar job geniet nie.

Ná hulle intense train­ing slaag sy redelik daarin om kliënte te werf.

Sy kan hoor mense is skepties wanneer sy hulle bel en sê sy het ’n Do or Die-produk om hulle meer van te vertel.

Sommige is sommer pleinweg onbeskof en druk die foon ná ’n “Waar moet ek f*kken geld kry?”-skellery dood in haar oor.

Ander sien die funny side van die policy in en is dan in so ’n goeie bui dat hulle wel een uitneem.

Sy het haar sommetjies gemaak en skat dat sy haar eerste maand al lekker tjieng gaan maak.

Sy weet egter nie so mooi van Waanie nie. Dié klok elke dag in vir werk met pieringgroot pupille en energievlakke wat skrik vir niks, maar kan eenvoudig nie ’n deal deurgehak kry nie.

As Waanie net begin hakkel met “D-dd-d-d-do ooo-or Dddd-die”, dan druk die mense al die foon dood.

Weke lank nou al bel Waanie sonder enige sukses net airtime uit. Maar hy is elke dag in die span. Hy en sy groot pupille.

Sy wat Anna is, scheme Waanie se rekening is al net so sky-high by sy mert en dis die rede hoekom hy elke dag uitsteek vir werk.

Daar is een ding wat haar egter diep pla: Wanneer pay hulle? Dis al ’n paar dae ná payday, maar geen tieng-tieng notification het al op haar selfoon afgegaan nie.

Sy het al eenkeer in ’n lunch break gou bank toe gehardloop om seker te gaan maak dat haar bankrekening nog aktief is. Dit is. En volgens die konsultant wat haar gehelp het, is daar geen rede op hulle stelsels oor hoekom daar nie geld in haar bankrekening inbetaal kan word nie.

Maar sê dit nou vir evangelis Johnny, wat haar en haar ander kollegas soos die pes vermy.

Dit is nou al dae dat evangelis Johnny nie uit sy kantoor kom nie.

Hy bly verskoning maak dat hy in Zoom meetings is en daar bly ’n “Do not Enter”-bordjie op sy kantoordeur geplak. Soos watse toilet wat buite werking is.

Maar Rosemary in en uit daar soos wat dit haar please. Kamma-likes om strategie met evangelis Johnny te bespreek, as iemand haar daaroor uitvra.

En verder het sy wat Anna is al agtergekom Rosemary se lippe blink soos ’n spieël wanneer sy uit evangelis Johnny se kantoor uitkom.

Sy het agtergekom wat klap vir wat toe een cleaner op ’n dag gekla het van al die Streetwise Two boksies wat in evangelis Johnny se kantoor rondlê.

So, Rosemary word vet gevoer met al wat cholestrol-truuk is in die boek terwyl hulle wonder of payday darem voor Oordeelsdag sal wees.

Sy sit juis hieroor en peins, toe Waanie langs haar kom staan.

“Ek dink daai evangelist vat os virre gat.”

Dis die eerste keer dat Anna Waanie nie hoor hakkel nie.

“Die corporate wêrildt is skellim, evangelist Johnny is skelemre.”

Anna weet nie of daar ’n legit woord soos “skelemre” bestaan nie, maar die eerste keer dat sy kan onthou, maak Waanie sense vir haar.

Imelda, die kerkbasaar-dief wat haar verbeel sy is die nôi van sturvy, moes hulle gesprek gehoor het, want sy staan ook nader.

“Is net Rosemary wat by die vleispotte van Kanaän vriet,” sê Imelda.

Daar is ’n hoogmoedige uitdrukking op haar gesig, maar Anna is nie seker of dit is weens ’n stomp potlood waarmee Imelda dalk vir haarself wenkbroue geteken het nie.

Imelda wil nog verder praat, maar daar staan skielik ’n hele groep mense in Anna se cubicle.

Die space raak eensklaps ’n gebrom oor mense wat kla van kinders wat nie meer kiembies het nie, hulle wie se travelling geld opraak, tot mense wat agter hulle aanbel vir hulle skuldgeld.

Rosemary kom ook daar aan en probeer haar bes om die groep weer aan die werk te kry.

Maar niemand is in die mood om na hulle cubicle-kraal toe gejaag te word nie.

Nie eens haar belofte dat sy met evangelis Johnny oor die issue gaan praat, oortuig die groep om met hulle werk voort te gaan nie.

Ontevrede stemme klink al hoe harder op. Plek-plek skimp iemand kliphard van strike en koerante toe hardloop.

Die rasery raak so hard dat evangelis Johnny geen ander keuse het as om te kom kyk wat aangaan nie.

Anna voel die evangelis blame haar dan nou oor die mini-mutiny toe hy haar die skerpste panga-kyk gee wat ’n gelowige allowed is om te gee. Sy trek haar skouers op en sê aan die godsman: “Ek het niks gemaak’ie.

“But evangelist Johnny kan nie stry nie: payday het gekô en gegaat, but hie wêk os dan nog steeds nie ee’s vi’ spek en boentjees nie.”

Evangelis Johnny trippel ongemaklik rond soos iemand wat agterstevoor om leer salsa. Hy kan nie een van die werkers voor hom straight in die oë kyk nie.

“Ek ... ek wag nog op... ’m... payment van die client,” sê hy dan ná ’n ruk.

Almal gluur hom skepties aan. As evangelis Johnny nou gesê het hy is familie van Judas, sou die groep hom nog geglo het.

“K*kpraat,” laat Waanie weer sonder om te hakkel van hom hoor. Anna wonder of Waanie se hakkel wintertye verdwyn, maar skud dié gedagte vinnig uit haar kop.

“Ek wiet ek gaatie bai hierie maand pay nie, but hiesa is mense wat heelmaand hul gat afgewêk het,” sê Waanie kwaad.

“Is oukei as evangelist vannie poelpit af lieg, of vi’ evangelist ’n pit bull koep, but dit issie fair om soe vi’ os te liegie.

“Die client het noggie ’n payment gemaak’ie? But djy en Rosemary vriet elke dag KFC agte’ toe deure?”

’n Be-amende gebrom klink op. Anna sien hoe Rosemary bloedrooi soos ’n All Gold-tamatie word en dan haar oë vloer toe laat sak.

“As ossie nóú pay nie, ga’ hal ek my brasse en dan brand os die hele plek af,” dreig Waanie weer sonder sy hakkel-baadjie.

Evangelis Johnny besef dat Waanie nie bluff nie. Waanie het immers eenmaal sy ma se wendy afgebrand, hoewel sy ma later die saak teruggetrek het.

Dit is op daardie oomblik dat die kerkman besef sy Streetwise Two-dae is iets van die verlede... 

  • Lees Maandag verder
Sê jou sê
Moet die salaries van Eskom-werkers gesny word oor load-shedding?
Kies asb. 'n opsie Oeps! 'n Fout het ingesluip. Probeer asb. weer.
Resultate
Hulle moenie betaal word nie
47% - 75 stemme
Haai nee, shame - hulle het families
16% - 26 stemme
Eskom se push
26% - 41 stemme
Gee my krag, elke dag
9% - 14 stemme
Wat is load-shedding?
2% - 3 stemme
Stem
Jongste Son

30 Junie 2022

Jongste Son
Klik hier om te lees!
Begin lees