Shonda se aand begin kwaai, maar sy kry ’n opdrag

akkreditasie

HI, SONLANDERS! Dit lyk so wraggies of LuShondarella se fairytale-drome begin waar word. Die aand van haar matriekafskeid het aangebreek en Fay Oggenddou het selfs ’n geheime metgesel vir haar gereël. Maar wie kan dit wees? Geniet nou die voorlaaste hoofstuk van ELDRIDGE JASON se vervolgverhaal “LuShondarella”.

LUSHONDARELLA se knieë hou dit net-net tot by die voordeur.

Die nuuskierigheid knaag behoorlik aan haar.

Sy breek haar kop oor wie haar partner kan wees, maar daar is geen naam wat by haar kan opkom nie.

Sy is nie juis die gewildste meisie op skool, of selfs in haar klas nie.

Die ander girls is altyd katterig met haar en die outjies vat nie veel note van haar nie.

By haar skool werk dit so: Óf jy is in die “A-team” van gewildheid óf jy bestaan eenvoudig net op ’n klaslys.

As jy buitendien nooit klasse bunk of verseg om jou huiswerk te doen nie, hou min maar van jou — so het sy maar nou al oor die jare dinge uitgefigure.

Toe Fay die voordeur oopmaak, voel dit vir LuShondarella of haar mind vries.

Die outjie hier voor haar is geklee in ’n deftige swartpak, met ’n bypassende strikdas. Sy hare is spoggerig agteroor gekam en sy fênsie swart skoene blink soos ’n spieël.

Die gesig ... die gesig wil-wil bekend lyk, maar sy wat LuShondarella is, kan dit eenvoudig nie plaas nie.

“Net betyds,” sê Fay. “Hoe was die verkeer, darem orrait?”

Toe die outjie antwoord, toe skrik LuShondarella haar amper boeglam: Dis Waanie! Dis Waanie!

Waanie glimlag breed toe hy haar sien.

“Hallo, Shonda! Gaan dit goed?”

Shonda voel hoe haar mond oopval. Sy kan nie ’n woord uitkry nie.

“Haai, het jy dan nou jou tong ingesluk?” vra Fay. “Hoekom groet jy dan nie vir Waanie nie?”

Shonda se mind werk oortyd. Kyk, sy het al make-over shows gekyk en sy likes dit. Maar die prentjie voor haar ... dis iets wat haar mind sukkel om te verwerk.

Dit is nie ’n make-over nie, dis ’n miracle! Haar verstand wil eenvoudig nie glo dat Waanie so ’n ekstreme gedaanteverwisseling ondergaan het nie.

Weg is die slordige, newwermaaind look wat sy Waanie al jare lank sien jak het.

Die outjie voor haar sal selfs vir al die sexy celebrities ’n kaart kan skiet.

Waanie trippel ongemaklik rond met Shonda wat hom so aangaap.

Fay basta trek die twee die huis binne en lei hulle na die sitkamer, waar daar platters en platters eetgoedjies staan.

Weereens kan Shonda nie glo wat sy sien nie, want dit was dan nie vroeër daar nie.

“Klaus se handewerk,” verduidelik Fay. “Julle weet mos Klaus leef om sulke goed te organise.

“Hy moan en skel baie, maar is meer as bereid om ander mense happy te maak.

“Gepraat van happy — daar is nog ’n verrassing.”

Fay se woorde is skaars koud, toe lui die deurklokkie.

“Bly julle net hier,” sê Fay en haas haar na die voordeur.

Shonda kyk na Waanie, maar hy trek net sy skouers op. Sy spits haar ore, maar maak net gedempte stemme uit. Sy kan nie hierdeur uitmaak wie dit kan wees nie, behalwe dat dit soos meer as een persoon klink.

Dan begelei Fay hulle na die sitkamer en Shonda se oë rek weer. Dis haar ouers. Haar ma, spoggerig uitgevat en haar pa, verbasend nugter. Haar ma smile van oor tot oor. Haar pa kan haar nie in die oë kyk nie.

“Wat maak julle hier?” prewel-vra Shonda.

“Dis dan jou groot aand,” antwoord haar ma. “Dis mos iets wat ek vir niks anders in die wêreld sal misloop nie.”

“En Daddy?” vra Shonda. “Kyk hoe smart lyk Daddy.”

Haar pa mompel iets wat Shonda sweer klink soos “What happens in Vegas” en dan pyl hy af op die tafels vol platters.

Shonda se ma kom tot by haar gestap en neem albei haar hande in hare.

“My kind, jy lyk soos ’n droom. Fay het my al ’n paar dae gelede hiervan gesê, maar ek moes stilbly om nie die surprise te spoil nie.

“Ek is só trots op jou.”

Haar ma se oë skiet vol trane. Shonda sluk met moeite haar trane terug. Sy kan immers nie nou haar make-up spoil nie. Klaus sal haar nooit vergewe nie.

So asof hy vir hierdie cue gewag het, kom Klaus die vertrek binne.

Hy groet almal verbasend beleef en loop dan reg op Shonda se pa af. Shonda hoor haar ma nog al aan tjommel, maar haar aandag is by Klaus en haar pa.

Sy sien Klaus oorleun en iets in haar pa se oor fluister. Dié was op die punt om ’n samoesa in sy mond te prop, maar die driehoek-delight vries halfpad op pad na sy mond.

Sy kan nie uitmaak wat Klaus aan haar pa sê nie, maar sy sien sy oë vol trane skiet.

Dan, tot almal se verbasing, bars haar pa kliphard in trane uit.

Nog nooit in haar lewe het sy haar pa so snot en trane sien huil nie. Hy huil so hard dat haar ma ophou praat en nader nael om hom te gaan troos.

Klaus kom staan by haar.

“Wat ... wat het jy vir my pa gesê?” vra sy nuuskierig.

“Ag, nie veel nie,” antwoord Klaus nonchalant. “Net dat drank een van die dae net so duur soos petrol gaan wees.”

Shonda bars uit van die lag. “Jy is nie ernstig nie?”

“Girlfriend, hoe ken jy my?

“Maar op ’n hoë noot van erns. Ek het aan jou pa gesê dat dit tyd is dat hy sy plek in julle huis moet volstaan.

“Dat sy grootste taak op aarde is om jou te help om jou drome te bewaarheid.

“Anders... anders wag daar ’n spesiale plek in die hel vir hom waar daar niks van happy hours of ’n dop te drink is nie.”

Shonda is diep en innig dankbaar vir Klaus se gebaar.

Woorde ontbreek op die oomblik by haar en al wat sy kan doen, is om Klaus se hand dankbaar te druk.

“Hierdie is jóú aand,” sê Klaus self lekker aangedaan.

“Ek beloof ek kan môre die hero in die verhaal wees.”

“Jy sal jou wat verbeel,” antwoord Shonda laggend.

Fay onderbreek die emosiebelaaide oomblik toe sy haar hande teen mekaar klap.

“Righto, mense, dis nou die jongmense se tyd. Waanie ... Shonda, julle moet ’n ongelooflike tyd het. Maar onthou net, dis absoluut belangrik dat julle teen middernag terug hier is.”

“Hoekom?” vra Shonda.

“Gaan ek in ’n pampoen verander as ek nie so gaan maak nie?”

“Daai is nog niks. Iets baie ergers as daai,” antwoord Fay ernstig. Shonda kry die feeling dat Fay glad nie ’n joke maak nie ...

  • Môre: Slot
Sê jou sê
Wat gebruik jy om Netflix, Showmax, etc te kyk?
Kies asb. 'n opsie Oeps! 'n Fout het ingesluip. Probeer asb. weer.
Resultate
My selfoon data
12% - 67 stemme
Ek het 'n selfoon-kontrak
1% - 5 stemme
Ek het wifi :-)
51% - 297 stemme
Ons is posh en het fibre!
36% - 208 stemme
Stem
Jongste Son

18 Augustus 2022

Jongste Son
Klik hier om te lees!
Begin lees