Shonda is die belle of the ball en min gespin oor die tyd

akkreditasie

HI, SONLANDERS! Dit lyk of Lu­Shondarella uiteindelik haar sprokiesmatriekafskeid kry. Fay verras haar voor die event deur haar ouers ook oor te nooi. Die grootste verrassing vir Shonda is egter Waanie wat behoorlik uitgevat is, lyk soos ’n million dollars en haar partner vir die aand is. Maar voor hulle gaan, waarsku Fay hulle om voor middernag terug by haar te wees. Shonda dink Fay maak ’n grap, maar die vrou met die magiese powers is doodernstig. Geniet nou die slothoofstuk van ELDRIDGE JASON se “LuShondarella”.

LUSHONDARELLA voel soos iemand wat ’n flat gekoop het op Cloud 9 toe sy en Waanie by die civic opdaag.

Die civic lyk asemrowend. Glad nie soos die plek waar mense altyd kom moan oor hulle agterstallige waterrekening of die min koopkrag wat hulle kry nie.

’n Fênsie rooi mat lê by die ingang, waarvandaan die matrieks en hulle partners dan die gebou binnewals.

Klaus stop reg voor die ingang en remind die twee ’n laaste keer aan hulle middernag deadline, voor Shonda en Waanie uitklim.

Waanie draai na Shonda toe Klaus wegry.

“Nou, hoe moet ons by die huis kom as ons lift dan nou ’n lange gooi?”

Shonda trek haar skouers op. Dis steeds moeilik vir haar om Waanie se gedaanteverwisseling klein te kry.

“Daai is worries vir later,” antwoord sy dan en steek haar arm uit. “Vir eers moet ons die aand enjoy. Kyk ... kyk hoe hou die mense ons dop.”

Die twee stap die civic binne en Shonda voel skoons ongemaklik met die honderde pare oë wat op hulle brand.

Soveel aandag is sy nie gewoond nie. Sy besef dat sy, haar rok en Waanie op die oomblik die talk of the town is.

Binne die saal is Shonda aangenaam verras met die dekor. Die tema is “Snowing ... flêtse style”. Sy sien die moeite wat gedoen is om die venue in ’n sneeu-wonderwêreld te omskep.

Voordat sy en Waanie deur een van die graad 11’s na hulle tafel begelei kan word, pyl hulle skoolhoof, meneer Ahaambey, op hulle af. Meneer Ahaambey het ’n lang tong en rave seker vyf minute lank sonder brieke oor hoe stunning LuShondarella lyk.

Dit is duidelik dat meneer Ahaambey ook nie vir Waanie herken nie, anders sou hy onthou het dat Waanie so ’n paar jaar gelede by sy kantoor ingebreek en al sy slabs tjoklits gesteel het.

Toe hulle finally gaan sit, sê Waanie: “Ek sien jy gloei behoorlik. Is jou droom bewaarheid?”

“Jy vra nog,” antwoord Shonda laggend. “Dit voel of ek in ’n movie is. Knyp my dat ek net kan seker maak ek is nie besig om te droom nie.”

Dit is nie sy bedoeling nie, maar Waanie knyp haar hard. Soveel so dat sy ’n gilletjie los.

Almal loer hulle kant toe. Selfs ’n blinde kan sien hoe naar die hoofmeisie, Whitney Hugh-Stoney is toe sy Shonda se outfit betrag.

Whitney wil mos altyd die centre van die winkelsentrum van attention wees, maar Shonda besluit daar en dan dat Whitney se panga-kyke nie haar aand gaan spoil nie.

Selfs die hoofseun, hulle skool se hartebreker, Bradley Pitteman, kom maak ’n draai by hulle tafel en flirt openlik met haar.

Shonda weet nie hoe om haar sit op haar stoel te kry nie. Nes die ander girls by haar skool, het sy maar nog altyd ’n crush op Bradley gehad. Maar hy en Whitney was mos maar altyd nog ’n item. En soos wat sy nou aan Whitney dink, kan sy voel hoe daai girl se oë groot gate in haar rug brand.

Ná al die boring speeches waar veral meneer Ahaambey weer al die shine wou vang, begin die groot paartie. Almal mol straight dansvloer toe.

Shonda was nog nooit in haar lewe veel van ’n danser nie, maar sy kry nie kans om net stil te sit nie soos wat al die outjies net met haar wil dans.

Niemand, maar niemand vat Whitney en haar besties vir ’n spin op die dansvloer nie.

Op ’n kol verloor Shonda sig van Waanie, want die outjies gee haar eenvoudig nie kans om asem te skep nie.

So kwart voor middernag tik Waanie haar op die skouer terwyl sy met ’n outjie staan en blues.

“Ons moet gaan,” fluister hy in haar oor. “Dis amper twaalfuur.”

Shonda skop teen die karre.

“Ek gee dan nog my lyf so ’n lekker tyd,” protesteer sy. “Fay moenie nou so ’n paartie spoiler staan en wees nie.”

“Maar rules is rules,” hou Waa­nie dik. “Fay vra nie baie nie, net dat ons gehoor moet gee.”

Shonda trek haar skouers op.

“Ek speel nie saam met Fay se rules nie. Hierdie is mý aand.”

Waanie trek sy skouers op en stap weg. Shonda is min gespin.

Meer as een outjie het in haar oor gefluister dat daar ’n after-paartie ná die event is. Sy gaan nog eers daarheen, want nog nooit in haar ganse skoolloopbaan is sy al ooit na ’n partytjie genooi nie. Die aand is immers nog jonk, en so ook sy.

Dis seker eers hier vier-uur-goeters in die oggend toe Shonda teen hulle voordeur vasstrompel. Sy sukkel om haar balans te hou. Haar voete kry koud, want sy het net die een skoen aan. Wat van die ander een geword het, het sy nie die vaagste benul van nie.

Net toe sy aan die deurknop wil draai, gaan die deur oop. Sy staar in haar ma se betraande gesig vas, en skrik haar uit haar cider-waas uit.

“Mammie?”

“Ai, my kind,” prewel haar ma. “Ek het jou try bel, maar jou phone was die hele tyd op silent. Jou pa ... het ’n massiewe stroke gehad. Oppie kop twaalfuur. Die ambulansmense het hom reguit morgue toe gevat.

“Maar asof dit nie erg genoeg was nie ... weet jy, daai huis op die hoek, daar waar ’n mens mos nooit mense sien nie ...”

“Ja?” vra Shonda en voel hoe haar hart woes begin klop.

“Dieselfde tyd toe jou pa sy laaste asem uitblaas, toe slaan daai mense se huis ook aan die brand. Dit kan nie load-shedding wees nie, want daai is mos nou history.

“Anyhow, Waanie kom toe hier verbygehardloop en hardloop die brandende huis binne. Jy weet mos hy was maa’ hoeka nie lekker in sy kop nie. Anyhow, niemand het Waanie ooit weer sien uitkom nie. Die brandweermense het ook so ’n paar uur gelede Waanie se lyk in die afgebrande huis gekry. Snaaks genoeg, daar was niemand anders in daai huis nie. Apparently het daar altyd ligte gebrand, maar daar het niemand gewoon nie. Is dit nou nie vreemd nie ...”

Shonda luister nie verder na haar ma nie. Sy merk geskok op hoe haar rok besig is om uitmekaar te val.

Oe, as ek maar net die tyd nou kon terugdraai, dink sy hartseer en begin bitterlik huil ...

  • Slot
Sê jou sê
Wat gebruik jy om Netflix, Showmax, etc te kyk?
Kies asb. 'n opsie Oeps! 'n Fout het ingesluip. Probeer asb. weer.
Resultate
My selfoon data
12% - 67 stemme
Ek het 'n selfoon-kontrak
1% - 5 stemme
Ek het wifi :-)
52% - 298 stemme
Ons is posh en het fibre!
36% - 208 stemme
Stem
Jongste Son

18 Augustus 2022

Jongste Son
Klik hier om te lees!
Begin lees