Shonda gee in en gaan na die fairy se huis toe

akkreditasie
Oom Sonnie
Oom Sonnie

Hi, Sonlanders! Dié uncle weet darem nie of Waanie getrust kan word nie. ’n Fairy godmother in hul straat wat al LuShondarella se matriekafskeid-drome kan bewaarheid? Klink darem veels te dik vir ’n daalder, of hoe? Maar wie weet? Kom ons check maar hoeveel waarheid in Waanie se woorde skuil. Geniet nou hoofstuk 3 van ELDRIDGE JASON se “LuShondarella”.

SY WAT LuShondarella is, byt maar swaar aan Waanie se storie. En wie kan haar blame?

’n Fairy godmother wat enige plek in die wêreld kan bly, maar sy bly hier? Hier in Katjiepiering-straat van alle plekke?

“Maar jy kon dan nie eens aan my vertel hoe hierdie fairy godmother lyk, hoe sy klink of wat sy aangehad het nie.

“Smaak my loadshedding is besig om met jou mind te speel,” sê LuShondarella en frons.

“Ek weet wat ek gesien het,” antwoord Waanie kortaf.

“En sy is die een wat jou kan help, nes sy my gehelp het.

“But as jy my nie glo nie… hoekom kom jy nie vanaand saam met my en dan gaan ons na daai huis toe nie?”

LuShondarella lag. “Hoe klink dit dan jy het planne met my?”

“Dis nie… dis nie wat jy dink nie,” antwoord Waanie. “Ek is nie so ’n mens nie. Ek is ’n-”

“Changed man, ek weet,” val LuShondarella hom in die rede.

“Waanie, ek gaan nou teen my better judgement en ek moet regtig by die laai’brie (stet) uitkom.

“Maar kom ek gee jou die benefit van die doubt en entertain hierdie storie van jou.

“My skoolvakansie is anyway so boring. Wat is jou plan? Stap ons net tot by daardie huis en gaan klop aan die voordeur?”

Waanie lyk eensklaps soos iemand waarin daar nuwe lewe geblaas is.

“Dis nie so eenvoudig soos dit nie,” sê hy opgewonde. “Luister nou mooi. Hier’s hoe ons moet operate…”

Die aand 23:45 loer LuShondarella vir die soveelste maal deur haar slaapkamergordyne. Waanie is laat.

Hy het gesê hulle gaan voor die klok middernag slaan, aan die fairy-antie se deur klop. Maar nou is Waanie so missing soos ’n dag sonder loadshedding.

Gepraat van loadshedding, sy wat LuShondarella is, kry diep koud. Hul krag is al van 20:00 al af en sy begin wonder of die knoppie-drukkers by Eskom nie aspris van hulle vergeet het nie.

Só diep in haar gefrustreerde gedagtes is sy, dat sy nie opmerk hoe ’n silhoeët-figuur oor hul muur spring en katvoet na haar kamervenster aangesluip kom nie.

Sy wip van die skrik toe iemand teen haar kamervenster klop.

Die eerste ding wat sy gevaar, is die oopbek voor haar waarvan die voortande missing is. Waanie.

LuShondarella maak haar kamervenster oop.

“Is jy dja... Waanie, moet jy my so laat skrik?” fluister sy kwaad.

Sy is lus vir skel, maar wil nie in die proses haar ouers wakker maak nie.

“Ek dog jy sien my aankom, jy staan dan hier voor die venster,” fluister Waanie terug.

LuShondarella blaas haar asem saggies uit. Sy kan nie vir hom kwaad wees nie. Sy het oop oë staan en slaap.

Dit is met die grootste van ’n gesukkel wat LuShondarella deur haar kamervenster beur. Vir haar is dit ’n pynlike reminder dat sy op ’n dieet moet gaan as sy in haar matriekafskeid rok wil pas.

Sy het hoeka iewers gelees van daai nuwe intermittent fasting waaroor almal so rave...

Wonder bo wonder, en met die minste van hulp van Waanie se kant af, kom sy deur die venster.

Sy stoot dit weer saggies toe. Hierdie is die eerste keer wat sy uit die huis glip en sy voel ’n bietjie sleg daaroor. Maar haar nuuskierigheid is groter as die guilt wat sy nou voel.

Met behulp van Waanie se selfoonflitsie, vind hulle hul weg deur die jaart, tot buite in die straat.

Dis pik, pikdonker. Só donker dat sy nie eens haar hand voor haar kan sien nie.

Só min lus het hul straat se honde vir Eskom se loadshedding-gedagtes dat nie een van hulle eens blaf nie.

Sy en Waanie stap die straat af tot by die huis op die hoek. Daar waar die fairy godmother volgens Waanie bly.

Waanie skakel sy selfoon se flits af en staar dan na die tyd.

“Ons is net betyds,” fluister hy en maak dan die hekkie oop.

Die hekkie maak met ’n aardige kraak-geluid oop – soos in daai scary movies waar die karakters eerder moes weghardloop as om na ’n creepy huis te stap, kan LuShondarella nie anders as om te dink nie.

Sy laat Waanie toe om haar aan die hand te vat. Solank dit net by die handvattery bly. Waanie los die hekkie half oop.

“Vir just in case ons vinnig moet wegkom,” fluister-verduidelik hy oor sy skouer.

Dis ook net ’n skelm wat sal dink aan wegkom, dink LuShondarella, maar sê nie ’n woord nie. Dis donker, so sy kan nie veel sien nie. Sy sien darem dat die geplaveide voetpaadjie waarop hulle loop netjies is.

Sy loop in Waanie vas toe hy skielik voor haar stop. Voor sy nog kan skel, klop hy teen die voordeur. Kliphard.

LuShondarella merk ook nou op dat daar ’n lig deur die venster skyn. Waar kry hierdie vrou lig as die hele Katjiepiering-straat op Stage 99 is? wonder LuShondarella.

Dis doodstil. Só stil dat jy drie spelde kan hoor val. Dan klop Waanie weer. Dié keer selfs nog harder as die vorige keer.

“Hier’s niemand nie,” fluister LuShondarella. “Ek dink dit sal beter wees as ons omdra-”

Die woorde stol in haar keel toe sy voetstappe van agter die deur hoor. Skuifelende voetstappe. Soos iemand wat ’n paar cheap Mr Price-kapalangs aan het.

LuShondarella voel hoe haar hard woes aan’t klop raak. Haar keel voel meteens kurkdroog.

“Waanie,” prewel sy.

“Relax,” probeer Waanie haar gerusstel. Maar sy kan nie anders as om te hoor dat hy ook maar lekker nervous is nie.

Dan draai die deurknop, en die deur swaai stadig oop. LuShondarella kruip agter Waanie weg.

As die bullets gaan fly, kan dit maar Waanie tref wat mos hoeka die lewe altyd kwaad maak, reken sy.

“Ek het geweet jy sal terugkom,” sê ’n stem. ’n Mooi stem. ’n Stem wat vir LuShondarella soos die mooiste lovesong klink.

“Het jy haar saamgebring?”

“Ek het,” antwoord Waanie en beweeg weg sodat LuShondarella alleen daar staan. So alleen soos ’n payslip wat heelmaand moet hou.

“Hallo, Shonda. Ek mag seker maar vir jou Shonda sê? Ek wag al so lank vir ’n aand soos vanaand.”

  • Lees môre verder
Sê jou sê
Wat gebruik jy om Netflix, Showmax, etc te kyk?
Kies asb. 'n opsie Oeps! 'n Fout het ingesluip. Probeer asb. weer.
Resultate
My selfoon data
12% - 67 stemme
Ek het 'n selfoon-kontrak
1% - 5 stemme
Ek het wifi :-)
51% - 297 stemme
Ons is posh en het fibre!
36% - 208 stemme
Stem
Jongste Son

18 Augustus 2022

Jongste Son
Klik hier om te lees!
Begin lees