Praatjies van ’n reünie ruïneer toe Cathy se vrede

akkreditasie

HAAI, Sonlanders! Ons skop vandeesweek af met ’n splinternuwe verhaal uit die pen van Esmé Cupido.

Geniet nou die eerste hoofstuk van Die Weersiens”.

‘’N REÜNIE? Is jy mal?” Erica kyk fronsend na haar man, Ivan.

“Moet jou nie kwel nie. Ek weet wat, of liewer aan wie, jy dink.

“Dis vyftien jaar gelede se dinge. Hy sal tien teen een nie uitsteek nie,” paai Ivan. Erica skud haar kop.

“Nee, Ivan. Moenie slapende honde wakker maak nie.

“Ek wil nie herinner word aan wat daai aand gebeur het nie.” Sy ril en slaan haar arms om haar bolyf.

Hy sit sy hand gerusstellend op Erica se been.

“Moenie worry nie. In plaas daarvan dat ons die invite op Facebook plaas, stuur ons net vir sekere mense in ons matriekklas. Soos ou Davies en Dwayne en...”

Erica skud weer haar kop, staan op en maak die borde bymekaar.

Sy draai om en kyk Ivan kwaai aan.

“En wat gaan Cathy sê van hierdie simpel idee wat jy nou het?

“Los die verlede uit!”

Sy stap kombuis toe en begin verwoed die skottelgoed in die wasbak opwas.

Sy kyk hom sydelings aan waar hy afgehaal in die kombuisdeur kom staan het.

“Hoe lank het dit ons nie geneem om aan te beweeg nie? En nou kom jy met dié verspotte praatjies!”

“Bedaar, my vrou. Dit sal fine wees.”

Hy kom nader gestap en vou sy arms om haar lyf. Sy weier om toe te gee en hou haar lyf styf en ontoeganklik.

“Ek sê weer – moenie krap waar dit nie jeuk nie,” sê Erica voordat sy die vadoek neersmyt en uitstap.DIE volgende dag tydens haar etensuur gaan sit Erica op die trap van die munisipale gebou waar sy werk.

Sy haal haar selfoon uit, soek ’n nommer en bel.

“Hallo, Cathy,” sê sy stug.

“Kom maak vanaand by ons ’n draai.”

“Hi, girl! Wat klink jy so moerig? Toemaar ek ken jou nou al. What’s up?”

“Ek wil hê jy moet sin in daai man van my se kop kom praat.”

“Laat ek raai. Hy dink dis tyd en jy wil nie. Kinders,” voeg sy by.

“Ivan wil ’n matriekreünie reël,” sê Erica ernstig.

Sy hoor hoe haar vriendin haar asem intrek. Sy het geweet dis die één onderwerp wat haar borrelende vriendin dadelik gaan laat afblaas.

“Hy wil wát?”

“Jy’t my reg gehoor. Jy moet hom anders kom oortuig. Ek is nie gereed om...”

“Ek kom so 18:00. Ek bring ’n bottel rooi saam… of iets sterker.”

Later, net nadat Erica die macaroni-en-kaas-gereg in die oond gedruk het, is daar ’n klop aan die voordeur.

Erica sien op die muurhorlosie is dit 18:35. Erica is ’n hele 35 minute laat, soos gewoonlik.

“Haai, vreemdeling. As ek my ook nie self nooi nie, nè!” hoor sy Cathy se vrolike stem.

“En wie het ’n afspraak gehad toe ek en Erica laas week by jou wou kom draai het? Wie is die geheimsinnige man, hmm?” hoor sy Ivan tergend vra.

Hulle drie het nog altyd ’n hegte band sedert hoërskool gehad en die band het oor die jare eintlik net verstewig.

Veral ná daai aand.

“Naand, friendo.” Cathy snuif-snuif. “Wanneer laas het ek ’n lekker stukkie mac en cheese vir supper gehad?”

“En daar’s niemand in die wye wêreld wat dit so lekker soos my vrouliefie maak nie,” sê Ivan en kom plant ’n soen in Erica se nek.

“Ag toe, jy. Gooi solank vir ons ’n aptytwekkertjie terwyl ek en Cathy die slaai maak.

“Cathy, gee die tamaties daar agter jou aan, asseblief.”

Net nadat hulle klaar geëet en die skottelgoed opgewas het, sit hulle voor die kaggelvuur wat Ivan intussen aan die gang gekry het.

Buite hoor hulle ’n lekker reënbui val. Ivan maak keel skoon.

“Cathy, ek weet Erica het jou vertel van die gedagte om ’n reünie te beplan en ek weet dit mag dalk... herinneringe terugbring, maar...”

“Ek dink dis ’n fantastiese idee, Ivan! Ek sal graag wil sien hoe almal nou lyk, veral Justine wat haar altyd so hoog gehou het.

“Onthou julle nog vir J...?”

“Cathy!” val Erica haar in die rede.

“Hoe kan jy hier sit en praat asof ons na ’n merry-go-round toe gaan? Jy weet hoekom hierdie… reünie-ding nie ’n goeie idee is nie.”

“Ek het ’n rede waarom ek weet dis ’n goeie idee.

“Ek het nadat ek vroeër met jou gepraat het, ’n draai by die slaghuis gaan maak waar James werk, die een waarvan ek julle al vertel het.

“Hy’t eendag mos laat val sy ma en antie Margie is verlangs niggies.”

“Antie Margie? Maar het iemand nie gesê sy is dood nie?”

“Blykbaar lewe sy nou eers. Ontslaan uit die gestig en so aan.

“Maar... die goeie nuus is dat hy al ’n paar jaar in Zimbabwe woon.”

“Leon?”

“Los hierdie storie, asseblief.”

Erica druk haar ore toe.

“Ek wil nie sy naam hoor nie. Ek sê vir julle hier kom moeilikheid,” waarsku sy skerp.

“Liefdiefie, ontspan. Jy hoor dan nou hy sit in Zim.

“Ek gaan haal gou ’n bladsy, dan maak ons ’n lys van almal wat ons by die reünie wil hê, maar nie meer as tien nie, hoor?”

“Sit net vir Justine bo-aan die lys. Ek wil sien wat van dié mêrrim geword het.

“O, en Dwayne ook. Dwayne Martin, daai rugbyspeler. Hy was nie die slimste nie, maar daai smile van hom. Hy was omtrent hot!” sê sy en waai kamma haar gesig koel.

Ivan kom met ’n afgeskeurde stuk bladsy en potlood terug.

“En wie kan vir ou Betsie vergeet?! Almal was skrikkerig vir haar.

“Dis mos sy wat hoeka vir Dwayne eendag al klipgooiend gejaag het tot by sy huis.”

Erica word, sonder dat sy wil, ingetrek by die opstel van die gastelys en kort voor lank lag en gesels sy saam.

“Ek wonder wat van Trixie geword het, daai deurmekaar enetjie.

“Sy’t gedurig gelyk asof sy uit ’n wasgoedmandjie gekruip het.”

“Oe, jinne, en haar skryfboeke was altyd vol vetkolle,” lag Cathy.

“Shame, julle. Tog was sy die slimste in die klas,” sê Ivan.

“Ai, en ou Dingetjie, wat is sy regte naam nou weer? Sean. Hy’t nooit gepraat nie, mos net gelag. Shame.

Maar hy’t ’n ogie op jou gehad, Cathy!”

“Wat kan ek sê? Jy het dit of jy het dit nie!”

“En jy het dit, ou suster!” Hulle lag. “Enigeen vir koffie?”

Nadat Cathy, ná baie gelag, later huis toe is, sit Erica nog by die gloeiende kole terwyl Ivan gaan stort. Sy staar ingedagte voor haar uit. Sy kan net nie die gevoel van onheil van haar afskud nie.

Sy skud haar kop, sug, maak die koppies bymekaar en dra dit kombuis toe. Dis vandat Ivan oor die reünie begin praat het. Van hóm gepraat het. Leon Jagers.

Die een mens wat sy nooit weer in haar lewe wil sien nie.

  • Lees môre verder

Let wel, asseblief, dit was Vrydag die slothoofstuk van Salmon Smith se Die Atlantis Phenomenon. SON vra verskoning vir die fout.

Sê jou sê
Wat gebruik jy om Netflix, Showmax, etc te kyk?
Kies asb. 'n opsie Oeps! 'n Fout het ingesluip. Probeer asb. weer.
Resultate
My selfoon data
12% - 53 stemme
Ek het 'n selfoon-kontrak
1% - 4 stemme
Ek het wifi :-)
51% - 227 stemme
Ons is posh en het fibre!
37% - 164 stemme
Stem
Jongste Son

8 Augustus 2022

Jongste Son
Klik hier om te lees!
Begin lees