’n Dorpie se lot skok en Lucien loop ’n ou kennis raak

akkreditasie

Hi, Sonlanders, Julle onthou nog vir Lucien van Wyk. Hy is mos die reïnkarnasie van sy oorle oom Denver van Wyk. Lucien het ook vele spesiale gawes ontvang soos om in die toekoms te sien of onrus te voorspel deur net aan iemand te raak. Lucien is nou ’n volwasse jongman en ná sy ma, Maria, en haar verloofde, kapt. George Mentoor, se dood, is hy alleen, met geen familie. Nou swerf hy van dorp tot dorp. En in elke dorp wat hy aandoen, kry hy teëspoed. Dan vat hy maar net weer die pad.

Begin vandag lees aan nog ’n spanningsvolle sci-fi-avontuur van Lucien deur een van ons staatmakerskrywers, Salmon Smith. Hy noem dit Die Atlantis-Phenomenon”. Geniet nou die eerste hoofstuk.

‘AARDBEWING vee Noord-Kaapse dorpie van map af,” lees die opskrif op die voorblad van die koerant Son.

Wetenskaplikes krap kop oor ’n rare gebeurtenis wat hulle sommer gedoop het “The Atlantis Phenomenon”.

Twee dae gelede het ’n erge aardbewing van omtrent 9 op die momentgrootteskaal die Hantam-streek van die Noord-Kaap getref en die dorpie Springbokvlei totaal van die aarde afgevee.

Springbokvlei is geleë omtrent neëntig kilometer noordwes van Loeriesfontein net langs die R357-roete.

Die gehuggie met byna 200 inwoners het heeltemal in die grond weggesak. En die grond waar die dorpie gestaan het, is weer met ’n tweede aardbewing gelyk met die aarde gemaak.

Suid-Afrikaanse en internasionale geoloë vermoed dat die dorpie moontlik in ’n sinkgat verdwyn het — moontlik weens mynbou-aktiwiteite wat vroeëre jare daar kon plaasgevind het.

Maar die Suid-Afrikaanse mynwese het sommer onmiddellik in ’n verklaring bevestig dat daar nog nooit enige mynboubedrywighede in daardie streek was nie.

Tans is die hele gebied afgesper en reddingswerkers werk onverpoos om enige oorlewendes op te spoor.

Enige naasbestaandes van die inwoners van Springbokvlei word versoek om met hulle naaste polisiestasie in verbinding te tree sodat daar begin kan word om ’n databasis van die inwoners op te stel.LUCIEN van Wyk sit die koerant eenkant neer waar hy in ’n deftige restaurant sit, toe die vriendelike kelnerin sy ontbyt voor hom op die tafel plaas.

“Dankie,” prewel hy vinnig en begin sommer onmiddellik weglê aan die heerlike spek, worsies, eiers en roosterbrood.

Hy bevind hom nou tans op Vanrhynsdorp, hier op die grens van die Wes- en die Noord-Kaap. Ná sy ma se dood het hy nog nooit weer standvastigheid in sy lewe gehad nie. Hy swerf van een dorp ná die ander. Bly ’n paar dae of ’n week in hotelle, gastehuise of vakansieoorde op sy pad.

En die vreemde gawe wat hy het om in mense se lewe te kyk, dooies se laaste paar minute te ervaar as hy net aan hulle raak en die toekoms te voorspel, maak dit alles vir hom maklik. Oral waar hy kom, kryt die mense hom uit as ’n frats.

In die eerste dorp waar hy so ’n paar maande terug aangedoen het, Konnoterville, daar in die Weskus, wou hy hom vestig.

Maar ná sy gruwelike onderonsie daar met die Boerebevrydingsmag waarin hy byna met sy lewe geboet het, was hy genoodsaak om weer die pad te vat. Geld is nie ’n bekommernis nie, want hy het ryk geërf van sy ma. Hy hoop maar net dat hy tog eendag ’n regte plekkie kan raakloop waar hy hom kan vestig.

Van hier gaan sy paadjie na Calvinia, waar hy moontlik ’n paar dae gaan oorslaap. En daarna gaan hy besluit oor watter rigting hy weer gaan inslaan.

“Hey, ekke ken mos die bra wat hie’ sit!” ruk ’n vreemde stem Lucien uit sy gedagtegang.

Sy kop ruk op en hy kyk vas in die puisiegesig van ’n vreemde jongman langs sy tafel. Op daardie bakkies is die breedste Colgate-glimlag wat hy al ooit gesien het. As dit nie vir sy ore was nie, dan was daardie grynslag reg om sy kop.

Lucien kyk vlugtig in die rondte en weer terug na die man.

“Sorry, maar praat jy met my? Ek ken jou nie!” sak hy koud af.

“Ja, man, jy ken my!” antwoord die man en trek sommer ’n stoel oorkant Lucien uit.

“Asseblief … ek soek nie enige geselskap nie!” wil Lucien nog protesteer, maar die man laat waai sommer onmiddellik met sy verbal diarrhoea. “Ek was mos een van die ouens wat saam met jou in daai rehab was daar in Worcester, so twee jaar gelede. Onthou jy nou? Ek was daar vir tik, maar ek is nou weer op tik. Maar dit maak’ie saak’ie.

“Jy is mos die ou wat so visioene sien. Jy’t mos daai heks, suster Van Breda, se fortune gelees en haar vertel van haar man en haar kind wat besig is om dood te brand! Joh, toe’s dit regtig so... hulle het toe sat gebrand. Maar toe hol jy mos weg dat die k@k so wit sit!”

Die man werk nou regtig op sy nerves. Lucien loer vlugtig in die rondte. “Asseblief, ek wil net my kos in vrede eet!” fluister hy dringend.

“Nee, ek wil hê jy moet mý fortune ook lees,” hou die man dik. “Ek wil weet of Christal eendag vir my boulery gaat val? Ek werk nou wel nie, staan net heeldag hier oppie hoeke met my brasse. Maar sy het ’n kwaai job, ’n lekker kar en ’n huis. Ek smaak haar rooi en wil graag met haar trou.”

Lucien verstik amper aan sy kos, vir die man hier voor hom. Die ding walg hom tot in sy dikderm.

Die man gryp skielik Lucien se hand vas. “Asseblief, sê my of sy ook vir my gaan lief is!”

Daar gaan ’n elektriese skok deur Lucien, gevolg deur ’n ysige koue wat oor hom kom. Hy kyk die man geskok aan.

“ ’n Weghol-trok gaan jou binne sekondes van nou af vergruis.

“Jy gaan ’n aaklige en pynlike dood sterf!” sê Lucien sonder om ’n oog te knip. Die jongman se oë skiet groot soos pierings.

“Jy’s mal! Jy’s mettie duiwel besete! Jy’s van uit’ie hel gestuur!” gaan hy gal af. Die ander gaste kyk ook nou nuuskierig in hulle rigting.

Voor Lucien nog op sy uit uitbarsting kan reageer, spring die man op en nael by die restaurant uit.

Lucien wil nog opspring en agterna hol, maar ’n harde rammelende geluid buite trek sy aandag.

Geskok kyk hy deur die groot venster van die restaurant en sien hoe ’n groot tip loader-lorrie bestuurderloos in Vanrhynsdorp se hoofstraat afgejaag kom. ’n Man wat lyk asof hy die bestuurder kan wees, kom al skreeuend agterna gehardloop. Asof in slow motion sien Lu­cien hoe die jongman roekeloos voor die trok inhardloop. Die trok tref hom met ’n dowwe slag en sleep hom dwarsoor die straat saam tot vas teen die muur van die koöperasie. Gille van skok weergalm deur die restaurant en daar buite.

’n Wyle staar Lucien in stilte na die aaklige toneel. Hy loer toe vlugtig na die ander besoekers en werkers in die restaurant.

Toe hy sien hoe een van die kelnerinne onseker met haar wysvinger na hom beduie, haal hy vinnig geld uit sy sak, gooi dit op die tafel neer. Toe nael by die restaurant uit, na sy kar verder in die straat af ...

  • Lees môre verder
Sê jou sê
Wat gebruik jy om Netflix, Showmax, etc te kyk?
Kies asb. 'n opsie Oeps! 'n Fout het ingesluip. Probeer asb. weer.
Resultate
My selfoon data
12% - 67 stemme
Ek het 'n selfoon-kontrak
1% - 5 stemme
Ek het wifi :-)
51% - 297 stemme
Ons is posh en het fibre!
36% - 208 stemme
Stem
Jongste Son

18 Augustus 2022

Jongste Son
Klik hier om te lees!
Begin lees