LuShondarella se pa is vol skimpe oor die vorige nag

akkreditasie

HI, SONLANDERS! So, arme ou Waanie is toe nie die liegbek-tikkop waarvoor almal hom altyd aansien nie. Fay Oggenddou en haar magic kom na die party en sy vervul LuShondarella se wens dat dit moet sneeu. Maar bestaan daar iets soos magic? En indien wel, is daar nie dalk ’n price tag daaraan waarvan min van vertel word nie? Geniet nou hoofstuk 6 van ELDRIDGE JASON se “LuShondarella”.

DIT is ’n steeds verwarde LuShondarella wat die volgende oggend aan die ontbyttafel sit.

Veel van slaap het sy nie gekry nie, maar sy kan nie dat haar ouers dit agterkom nie.

Nou sit en wurg sy maar haar ma se stywe, smaaklose Jungle Oats af.

In hul huishouding word daar mos met suiker gewerk asof dit net so duur soos petrol is.

Die gebeure van die vorige nag speel oor en oor in haar mind. Sy kan steeds nie glo wat sy gesien het nie.

Magic is nie net iets wat sy in die movies sien of in ’n boek van gelees het nie. Magic is alive en kicking, in Katjiepiering-straat van alle plekke.

Sy wat LuShondarella is, het aan Fay gesê dat sy tyd het nodig om te dink, alles te verwerk voordat sy kan sê wat haar wense is.

Fay was heel tegemoetkomend en het hiertoe ingestem.

Maar hulle moet vanaand weer ontmoet, het Fay gemaan. Magic, nes brood en melk, het ook ’n vervaldatum, het Fay bygevoeg.

So, toe kom hulle ooreen om weer voor twaalf vanaand te ontmoet. Hoekom juis daardie tyd, verstaan sy nie so mooi nie.

Maar Fay en Waanie druk baie hard op hierdie presiese detail.

Van Waanie gepraat, sy het hom nie weer gesien vandat hy met haar terug huis toe gestap het nie.

Toe sy vanoggend wakker skrik, was die eerste ding wat sy gedoen het om deur haar kamervenster te loer. Maar die sneeu was gone. Witweg. Skoonveld. Dit was weer hul ou, vaal pad met die nevermind speed hump.

Haar ma het vanoggend voor die stove gestaan en kla dat dit die vorige aand kouer as gewoonlik was.

Haar pa het ingekom en gesê dat global warming hom nou dwing om meer OBS as bier te drink.

Sy wat LuShondarella is, het maar net na hul gepraat geluister.

Sy kon immers nie aan hulle sê dat sy presies weet hoekom dit gisteraand so koud was nie.

Die kanse dat haar ma haar gaan glo, is nul.

Sy sal onmiddellik sê dat dit iets van die duiwel af is en dat sy haar pastoor gaan vra om hier te kom bid sodat die duiwels hulle moet uitlos.

Haar pa sal eerstens wil weet of Fay water in drank kan verander én Fay daarna dwing om vir hom ’n kantien in hul huis te bou.

Een met ’n wynkraantjie wat nooit droogloop nie.

Sy sug swaar en gaan was die bakkie waarin haar pap was by die wasbak uit.

Hierna gaan ruim sy haar kamer op en gaan sit dan buite onder die afdakkie.

Sy skrik toe daar ’n skaduwee oor haar val. Haar pa, met sy gewone bloedbelope oë en al.

“Dit was koud gisteraand, nè?” probeer haar pa ’n geselsie aanknoop.

Uit ondervinding weet sy hierdie is die voorloper vir iets wat haar pa soek.

Gewoonlik is dit om uit te vind of daar nog tjieng op haar Sassa-kaartjie is.

“Dit was,” antwoord sy min lus vir ’n conversation.

“Die drank het weer vuiste gehad. Toe moes ek laatnag toilet toe,” sê haar pa.

“Toe sien ek jou kamerlig brand nog. Ek het geklop, maar daar was geen antwoord nie.

“Jy weet mos ek kom nie sommer in jou kamer nie, maar toe gaat ek maar binne en toe…”

Haar pa laat doelbewus sy laaste sin in die lug hang.

“Wat soek Daddy?” vra LuShondarella.

Sy weet dit is verkeerd van haar, maar sy kan eenvoudig nie die irritasie in haar stem verbloem nie.

Haar pa trek sy skouers op.

“Nie veel nie. Maybe so ’n drinkdingetjie se geld en maybe ook ’n explanation oor hoekom die pad gisteraand so vol sneeu was?

“Ek het deur jou oop kamervenster gaan loer en toe sien ek dan vir jou en daai tikkop Waanie in die sneeu dans.

“Jy weet jou ma gaan nie daarvan hou nie. Haar kerkmense hou klaar nie van my nie.

“Imagine net die hel wat gaan los wees as jou ma moet uitvind jy en Waanie, you know,”

As afpersing nou ooit ’n person was, was dit haar pa, dink LuShondarella vies.

Sy spring sonder ’n verdere woord op en stap die huis binne om haar bankkaartjie te gaan haal.

Toe sy weer buite kom, sê sy: “En Daddy trek net R200.

“Daar is nie meer baie geld nie en ek moet nog vir my toiletries koop.

“As ek hierdie maand nie vir my pads kan koop nie, gáán ek vir Mammie sê van Daddy wat altyd so geld by my kom loaf.

“En regarding gisteraand: Waanie help my met ’n projek. Almal sien hom as ’n tikkop, maar hy kan sneeu maak met ’n klomp chemicals wat hy mix.

“Ons moes dit in die aand doen as die straat stil is, want hier is ’n klomp mense in Katjiepiering wat hul neuse in ander se sake wil druk. Daddy weet ek is nie ’n los meisie nie.”

Haar pa blyk heel in sy skik met haar lieg-verduideliking te wees. Of dalk is dit net dat hy te hêppie is dat hy sy dogter se bankkaart het.

Hy mompel iets wat soos “what happens in Vegas” klink en stap dan met lang treë na die voorhekkie.

Hy verdwyn net om die draai, toe haar ma uitloer.

“Hoekom loop jou pa dan nou so met ’n huppel in sy stap, amper soos iemand wat die Powerball gewen het?” vra haar ma.

LuShondarella trek haar skouers op.

“Ek weet nie. Hy het iets gepraat van vir oom Jan Skieloog te gaan kuier,” lieg sy vinnig.

Haar ma frons kwaai.

“Daai Jan is so skeel soos watseding, maar drank sien hy altyd raak.

“Jou pa might lui wees vir werk, maar hy is baie fluks om ander mense se drank te gaan help uitsuip,” skel haar ma en verdwyn dan weer die huis binne.

LuShondarella sug. Vanaand moet gou aanbreek, dink sy.

Sy gaan die kans vat en wens dat al haar drome moet waar word. Elke liewe een van hulle.

Sy staan op, loop by die voorhekkie uit en loer pad op in die rigting van Fay se huisie.

In die daglig lyk dit maar net vaal en onversorg soos die res van Katjiepiering se huise.

Maar dis waar haar drome vlerke gaan kry. Elke liewe een van haar hart se begeertes!

  • Lees môre verder
Sê jou sê
Wat gebruik jy om Netflix, Showmax, etc te kyk?
Kies asb. 'n opsie Oeps! 'n Fout het ingesluip. Probeer asb. weer.
Resultate
My selfoon data
12% - 67 stemme
Ek het 'n selfoon-kontrak
1% - 5 stemme
Ek het wifi :-)
51% - 297 stemme
Ons is posh en het fibre!
36% - 208 stemme
Stem
Jongste Son

18 Augustus 2022

Jongste Son
Klik hier om te lees!
Begin lees