LuShondarella kry vir Waanie in sy feelings

akkreditasie

Hi, Sonlanders! ’n Splinternuwe week met hopelik minder load-shedding as laas week. Ons begin vandag met ’n splinternuwe verhaal.

“LuShondarella” is die jongste pennevrug van ELDRIDGE JASON. Geniet die eerste hoofstuk!

DIT is die lang wolwefluit wat haar diep omkrap.

Toe sy omkyk, raak sy ’n trap kwater toe sy sien wie dit is wat so by haar aanlê.

Waanie. Katjiepieringstraat se resident-tikkop. Die enigste ou wat sy ken wat ’n visgraat in tjoef het.

“Ek sê, babygirl, ek sal nogal as jy wil,” probeer Waanie haar ’n kaat skiet.

Sy gril toe sy Waanie se vuil naels gewaar en dieselfde gekreukelde klere wat hy nou al dae lank aaneen dra, die bloedbelope oë van iemand wat kwaad is vir die slaap, die geel tande weens ’n skietstilstand met die tandeborsel ...

“Ha-a, nee wag,” sê LuShondarella vies. “Moenie vir jou kom lastig hou nie, Waanie.”

Waanie gooi sy kop agteroor en bars uit van die lag.

LuShondarella gril tot in haar kleintoontjie toe sy sien dat Waa­nie vuil tot op sy gums is.

“Meisie, nee, kyk hoe lyk jou hare en dan wil jy vir jou sturvy kom hou?

“Ek sal jou nooit disappoint nie, babygirl. Jy moet my net ’n kans gee.”

LuShondarella kan nie help om haar neus op te trek nie.

“Ek het standaarde,” antwoord sy deur dun lippies.

“Haai, weet jy, ek ook,” antwoord Waanie vinnig. “Ek was mos darem tot standerd sewe toe innie skool, you know.”

“Seker standerd sewe deur die venster gekrip en toe nadat die skoolklok gelui het, gaan steel vir ’n lollie se ware.”

“Babygirl, jy kan mos nie so my feelings seermaak nie,” antwoord Waanie vinnig. “Jy moenie so alles glo wat die mense van my sê nie.

“Ek is mos eintlik ’n entrepreneur. Ek het ’n plan, you know. Dit moet net ge-patent word en dan is load-shedding iets van die verlede.”

Hierdie keer is dit LuShondarella wat nie anders kan as om uit te bars van die lag nie.

“Jislaik, Waanie. Eintlik is jy ’n groot joke,” sê LuShondarella met ’n breë glimlag.

“As ’n mens mooi daaraan dink, het ons eintlik meer load-shedding nodig sodat ons nie characters soos jy hoef te sien nie. Nie in die dag nie, ook nie in die nag nie.”

Vir ’n kortstondige oomblik lyk dit of Waanie regtig-egtigwaar feelings het. Daar is ’n vae hartseertrek om sy mond. Dit kan ook die lus wees vir nog ’n hit. Who knows.

“Oe, ek sien,” sê Waanie ná ’n oomblik van bepeinsing. “Jy kam jou hare so?

“Nee, maar dis oukei. Noudat jy ook mos in matriek is, dink jy dat jy dit gemaak het, ek het news vir jou: Ons bly in dieselfde straat.

“Daar is nie veel difference between jou swaarkry en my swaarkry nie.”

Waanie se woorde vang LuShondarella ietwat onkant en sy moet teen haar sin erken dat hy ’n punt beet het.

“Sorry,” sê sy dan ietwat ongemaklik. “Ek’t nie ge-mean ... anyway Waanie, jy fluit nie weer vir my asof ek ’n taxi queen is nie, hoor jy?

“Jy moet leer om vroue met respek te behandel.”

“Maar dis dan wie ek is,” protesteer Waanie. “Eintlik moes my eerste naam mos Mister Respect gewees het, but my taanie het mossie nie lank skoolgegaan nie.

“Toe gat gee sy maar my naam op as Maruwaan — genoem na daai sperm donor van ’n pa van my wat ek nog nooit in my hele lewe gesien het nie.”

“Nog nooit nie?” vra LuShondarella geskok. “Daai’s bad.”

“Tell me about it,” sê Waanie ’n bietjie vriendeliker as vroeër. Sy gevoelige ego blyk nou iets van die verlede te wees.

“Hy het glo sy CV by Simba gaan ingooi, en is toe nooit weer gesien nie.

“Daai is die storie wat my taanie my gespin het, but ek weet darem nie so mooi van daai nie, want die taanie ken nie eens die differ­ence tussen ’n CV en ’n CV joint nie.”

LuShondarella kan nie anders as om te lag nie.

“Hei, wag,” sê sy dan haastig. Ek is mos eintlik op pad library toe om ’n taak te gaan klaarmaak.”

“Innie skoolvakansie?” vra Waanie.

“Girl, is jy dan nie suppose om te relax nie?”

LuShondarella trek haar skouers op.

“Jy weet self hoe dit hier in Katjiepieringstraat gaan. My ouers het nie geld om my verder te laat studeer nie. Ek sal hard moet werk om beurse te kry.”

“En dit help ook nie dat jou outoppie virrie eerste span suip nie,” sê Waanie.

Toe hy die seer in LuShondarella se oë gewaar, sê hy dadelik verskonend: “Ek mean nie om jou te dis nie. Dis net —”

“Dis oukei, regtig,” val LuShondarella hom in die rede.

“Soos jy weet, kan ’n mens nie jou family choose nie.

“Ek mean maar, hier kruip die eindeksamen al hoe nader en voor dit is dit nog die matriekafskeid ook.

“Ek dink nie ek gaan nie.”

“Nooit,” sê Waanie vurig.

“Kykie, ek might nou wel nie skool klaargemaak hettie, but ná soveel jaar van na die skoolklok moet luister, deserve jy mos om na julle matric farewell te gaan.”

“Met watter geld?” vra LuShondarella mismoedig. “Jy weet hoe dit hier in Katjiepiering gaan.

“By elke tweede huis is Sassa die broodwinner. Ek kan nie onthou of my pa al ooit in sy lewe gewerk het nie, my ma werk haar in haar tjops om kos op die tafel te sit, dan sit Eskom die ligte innie aand vir ure af, wat maak dat ek nie eens met my skoolboeke kan sit nie.

“Ek weet nie, Waanie, ek weet nie. Dit voel net vir my of ek elke dag ’n bietjie meer aan die verdrink raak.”

Daar is ’n radeloosheid in Lu­Shondarella se stem. Dit roer Waanie. Hy kan dit self nie explain nie, want vir iemand wat lankal nie meer ’n hart het nie, voel dit in sy binneste of iets of iemand besig is om snare met ’n teelepeltjie offe ding te roer.

“Weet jy wat ek doen as ek so depressed raak?” vra Waanie.

“Jy ... ’m ... tik?”

“Nee, man, tik is vir mense soos daai antie wat vir Murder She Wrote-hulle op daai tikmasjientjie altyd getik het,” antwoord Waanie.

LuShondarella het nie ’n clue waarvan hy praat nie — nes die res van haar generasie.

“Ek maak ’n plan,” sê Waanie en daar is ’n ernstige trek in sy oë. “Ek maak ’n plan wat my dag sal ophelder en ek dink dís wat jy ook moet doen.

“Wat jy nodig het, is ’n fairy godmother wat hierdie matric fare­well droom van jou ’n ware waarheid gaan maak.”

  • Lees môre verder
Sê jou sê
Wat gebruik jy om Netflix, Showmax, etc te kyk?
Kies asb. 'n opsie Oeps! 'n Fout het ingesluip. Probeer asb. weer.
Resultate
My selfoon data
12% - 67 stemme
Ek het 'n selfoon-kontrak
1% - 5 stemme
Ek het wifi :-)
51% - 296 stemme
Ons is posh en het fibre!
36% - 207 stemme
Stem
Jongste Son

17 Augustus 2022

Jongste Son
Klik hier om te lees!
Begin lees