LuShonda verkyk haar aan die vrou en het soveel vrae

akkreditasie

HI, SONLANDERS! Dié uncle kan dan nou nie anders as om nervous te voel nie. LuShondarella en Waanie gaan klop toe mos wraggies aan Waanie se “fairy godmother” se deur. Waanie glo vas dat dié antie LuShondarella se matriekafskeid- drome kan bewaarheid. Daar is aanvanklik geen response ná die gekloppery nie en LuShondarella begin dink dat haar vermoedens oor Waanie wat ’n liegbek is, tog waar is. Maar dan gaan die deur oop. En ’n vrou groet Waanie asof sy hom al jare lank ken, én sê dat sy bly is om finally vir LuShondarella te ontmoet. Geniet nou hoofstuk 4 van ELDRIDGE JASON se “LuShondarella”.

LUSHONDARELLA weet nie wat om te dink nie.

Is sy besig om te droom?

Sy kan natuurlik vir Waanie vra om haar te knyp, net om seker te maak dat sy wel by haar volle positiewe is.

Maar sy het al gesien hoe vuil Waanie se naels is en wil beslis nie deur hom geknyp word nie. Veral nie in ’n pikdonker load shedding-nag nie.

“Kom binne, kom binne. Dis koud hier buite,” nooi die vrou hulle gul in.

Sy volg Waanie na binne. Hy stap die huis binne soos iemand wat ’n huiskind is.

In die sitkamer sien LuShondarella waar die lig wat sy vroeër van buite gewaar het, vandaan kom. ’n Kaggel brand lekker helder en cosy.

Dan val haar oë op die koffietafel waarop daar twee platters met die heerlikste eetgoedjies staan. Ook ’n groot pot koffie.

Sy het hulle expect, kom dit dadelik by LuShondarella op. Maar hoe het sy geweet hulle gaan vanaand hier uitsteek?

“Julle is meer as welkom om te sit,” nooit die vrou hulle.

LuShondarella staar lank na haar.

Sy sukkel om die woorde te vind om die prentjie voor haar te beskryf.

Oud is die vrou voor haar glad nie. Maar ook nie jonk nie.

Sy wil nou nie klink soos Hare in haar klas wat vroeër in die jaar toe hulle ’n opstel oor hul familie moes skryf, sy ouers beskryf het as: “My ma en pa is lank, maar nie te lank nie.”

Die vrou se hare is nie grys nie. Dis… dis meer silwer.

Sy lyk asof sy ’n lekker ouderdom kan wees, maar daar is nie ’n plooi in haar gesig nie.

Moet seker maar die duurste van make-up wees, probeer Lu­Shondarella sin van dit maak.

Maer is nie sy, maar ook nie chubby nie. Sy het ’n lang gewaad aan wat glad nie soos pajamas lyk nie.

Dit het nie enige glitters op nie, maar daar is ’n glinstering in wat aanhou LuShondarella se aandag te trek.

Sy kan dit nie explain nie, maar dit is so amper asof die gewaad kommunikeer met haar.

Tog kan dit mos nie wees nie? Unlike Waanie, speel sy mos nie vir tik se eerstespan nie.

Iets aan die vrou se oë fassineer haar ook.

Die kleur daarvan kan sy nie mooi sien nie, maar daar is iets… iets bekend aan haar oë. So amper asof dit iemand anders se oë is.

“Koffie?” vra die vrou en glimlag vir haar. Sy het die mooiste, wit tande, dink LuShondarella verwonderd.

Daar is geen manier op aarde dat Colgate ’n mens se tande só wit kan polish nie.

Sy vat die koppie wat die vrou na haar uithou en mompel iets wat sy hoop soos ’n “dankie” klink.

Haar stem wil nie lekker saamspeel nie. Sy gaan sit op die couch wat die vrou aan haar uitwys en merk op hoe Waanie op ’n mission besig is om die een ná die ander hertzoggie te verorber.

Verorber is eintlik die verkeerde woord, want dit lyk of Waanie die tertjies abuse.

“Jy het baie vrae.”

Die vrou stel dit nie as ’n vraag nie, maar as ’n feit.

LuShonda knik haar kop en kan net ’n “uh-huh” uitkry. Dan vat sy ’n sluk van haar koffie en sit dan verbaas terug.

Dit ruik soos koffie, maar proe dan soos al die lekkerste lekkers van die lewe wat haar ma-hulle nooit kon afford om vir haar te koop nie! Die vrou oorkant haar smile.

“Ek dink ons moet by die begin begin,” sê die vrou.

“En as ’n mens by die begin moet afskop, sal dit natuurlik by my naam wees. My naam is Fay. Fay Oggenddou.

“Snaakse van, ek weet.

“Ek is as kind baie daaroor gespot, maar toe ek ouer raak, het ek besef dat daar min dinge in die lewe so mooi is soos die dou wat jy smôrens op die plante en blomme in ’n tuin kan sien.

“So… toe maak die gespot van die kinders nie meer saak nie.

“Kinders kan wreed wees, maar jy need to know wie en wat jy is, you know?”

“Sê ek oek mos elke dag,” tjaaim Waanie in.

LuShondarella kan nie anders as om vir Waanie se oopmond- etery te gril nie.

’n Tikkop met ’n oop mond is ’n prentjie waaraan ’n mens nie eintlik blootgestel moet word nie.

“Hy bedoel goed,” antwoord Fay, so asof sy LuShondarella se mind kan lees.

“Wanneer mense Waanie sien, dink hulle eers aan al die dinge aan hom waarvan hulle nie likes nie, as om te kyk vir iets positiefs.

“Baie sal dalk dink dat Waanie die pad byster geraak het, maar Waanie se grootste gift is dat hy op enige pad ’n way vir homself kan maak.

“Dis juis daardie vermoë van hom wat my en sy paaie laat kruis het. Teen hierdie tyd behoort jy al ’n vraag vir my te hê?”

Die koppie in LuShondarella se hand vries halfpad op pad na haar mond toe.

Sy weet nie of sy die vrae wat in haar kop maal, durf vra nie.

“Daar is geen vraag in hierdie leeftyd wat my ooit sal offend nie,” sê Fay in ’n gerusstellende stemtoon.

“Wie nie vra nie, weet nie.”

LuShondarella besef dat hierdie haar kans is. Haar pa sê mos altyd wie nie waag nie, is nie ’n waaghals nie.

Noudat daardie woorde haar byval, wens sy van oor af dat haar pa tog ook net vir een keer in sy lewe moet waag werk soek.

“Ons is wie ons is, en nie die eindresultaat van ander se tekortkominge nie,” sê Fay.

LuShondarella maak haar keel hard skoon. Waanie kyk gesteurd op vanaf die koekie waarna hy met verslind-gedagtes gestaar het.

“Jy kan minds lees.”

“So, jy begin met ’n statement, en nie ’n vraag nie.

“Ek likes daai,” antwoord Fay met ’n breë smile.

“Die antwoord tot jou statement is egter nie so eenvoudig nie.

“Ek reken dit is meer ’n geval van wat ek vir jou kan doen. Wat jou grootste droom op die oomblik is.

“Hoe ek daardie droom sy eerste skree in hierdie wêreld kan gee.”

  • Lees môre verder
Sê jou sê
Wat gebruik jy om Netflix, Showmax, etc te kyk?
Kies asb. 'n opsie Oeps! 'n Fout het ingesluip. Probeer asb. weer.
Resultate
My selfoon data
12% - 67 stemme
Ek het 'n selfoon-kontrak
1% - 5 stemme
Ek het wifi :-)
51% - 297 stemme
Ons is posh en het fibre!
36% - 208 stemme
Stem
Jongste Son

18 Augustus 2022

Jongste Son
Klik hier om te lees!
Begin lees