Lucien ry nog toe sy beskermengel skielik verskyn

akkreditasie

Hi, Sonlanders. Lucien van Wyk bevind hom op Vanrhynsdorp, waar hy ontbyt nuttig in ’n deftige restaurant. Skielik nader ’n vreemdeling hom en beweer dat hulle saam in ’n rehab in Worcester was. Toe die jong man wil hê dat Lucien sy fortuin moet lees, sien Lucien in ’n visioen hoe ’n groot trok die jong man doodry. Toe die visioen inderdaad waar word, vat Lucien hom onmiddellik uit die kol en jaag in Vanrhynsdorp se hoofstraat af. Geniet nou hoofstuk 2 van Salmon Smith se sci-fi rillerverhaal, “Die Atlantis-Phenomenon”.

LUCIEN van Wyk jaag vinnig in Vanrhynsdorp se hoofstraat af. Hy sien hoe twee polisievoertuie met loeiende sirenes in die teenoorgestelde rigting na die ongelukstoneel jaag. In sy tru-spieël sien hy hoe ’n groot skare versamel op die toneel waar ’n groot weghol tip loader-trok ’n jong man vergruis het – ’n ongeluk wat hy, wat Lucien is, voorspel het.

Nou moet hy so vinnig as moontlik uit die dorp pad gee voordat die mense hom hier ook as boos uitkryt.

Binne minute is hy uit die dorp in die rigting van die Vanrhynspas.

Bo-op die pas kyk hy af na die dorp daar in die verte. Hy voel eintlik jammer vir daardie jong man wat sy lewe so gruwelik moes verloor.

Hy het twee jaar gelede kans gehad om sy lewe te verander van die tikgewoontes af.

Maar hy het vasgeklou aan die dwelm wat so die gemeenskappe verwoes.

Ná ’n paar kilometer doem Nieuwoudtville voor hom op. Hy besluit om deur te druk tot op Calvinia.

Net voor Calvinia vul ’n ysige koue skielik sy motor.

Dit is ’n koue wat deur sy murg en been sny. Dit kan net een ding beteken…

Sy beskermengel, Ouma Saar Enoch, verskyn altyd op die onmoontlikste plekke aan hom om hom of van raad te voorsien of te waarsku van dreigende gevaar.

Toe hy van haar teenwoordigheid bewus raak, sluit hy onmiddellik sy oë. Dit verbaas hom nie dat hy deur sy geslote ooglede kan sien nie. Dít is as gevolg van die bonatuurlike verskyning van sy beskermengel.

Dit voel asof hy in ’n beswyming gaan toe hy haar silhoeët in die helder lig teen die voorruit gewaar. Hy bevind hom nou omring deur ’n digte mistigheid.

’n Verkeerskonstabel, besig met diens op die R27, wil nog in die pad spring om Lucien vir speeding af te trek, maar die kar verdwyn sommerso in die niet.

Met groot oë staar hy na die kol waar die voertuig nou net aangejaag gekom het.

Toe dit nou werklik by hom insink wat nou so pas gebeur het, gee hy een lang uitgerekte gil. Hy swaai hom om en hol na sy motorbike wat tussen die bosse versteek is.

“O, jarra, Beheer, hier het nou so pas ’n spookkar voor my oë verdwyn. Ek het myself nou bek@k!” gil hy in die handradio.

Hy skroef sommer ’n botteltjie Sea Breeze-soetwyn, wat hy skelmpies in sy bike se paneelkassie wegsteek, oop en gorrel dit uit.

“Lucien, kyk voor jou deur die windscreen!” weergalm Ouma Saar Enoch se stem deur Lucien se gedagtes.

Lucien sien hoe die mistigheid voor hom verdwyn. ’n Klein dorpie doem vanuit die niet voor hom op. Terwyl hy sy aandag op die dorpie vestig, klink ’n harde gerammel soos donderweer vanuit die hemel op. Dit is so intens dat die aarde om hom begin te skud.

Skielik verskyn ’n snaakse membraan hoog bokant die dorp.

Dit lyk soos die membraan van ’n seepbel, maar dit bestaan uit sulke vreemde groen, elektriese vonke.

Die gerammel raak ál harder en dit lyk asof die aarde enige oomblik voor hom oop kan skeur.

Onwillekeurig dink hy terug aan daai berig wat hy daar in daai restaurant in Vanrhynsdorp gelees het van die aardbewing hier in die Noord-Kaap, wat daardie dorpie in die aarde laat wegsink het.

Terwyl hy nog wonder of dit verband hou met wat hy nou hier ervaar, bars ’n massiewe ruimtetuig in ’n vuurkolom deur die membraan.

Vasgenael kyk Lucien na die vreemde tuig waar dit nou bokant die dorpie kom hang.

Dit is so groot dat dit omtrent die hele area van die dorpie beslaan en sodoende die plek in donkerte hul.

Die tuig lyk na ’n groot, swart omgekeerde piering met sulke snaakse groen, elektriese golwe wat oor die hele tuig ronddans.

’n Eentonige biep-geluid klink op en skielik verdwyn die tuig en dorpie voor Lucien se oë.

Geskok staar Lucien na die plek waar die dorpie en tuig nog oomblikke gelede was.

“Lucien!” weergalm Ouma Saar Enoch se stem Lucien terug na die hede.

Lucien draai sy gesig na sy beskermengel se silhoeët voor hom op die voorruit van sy motor.

“Dit wat jy nou aanskou het, is die antwoord op die grootste misterie wat die mensdom hier op aarde jare lank só laat kopkrap!

“Wat tans besig is om hier te gebeur, gaan ’n ripple-effek hê op die hele wêreld as dit nie gestop gaan word.

“Jy gaan nou binne enkele minute iemand ontmoet wat alles aan jou gaan openbaar. Hy gaan jou hulp vra om daardie dorpie se inwoners te red. Jy gaan vreemde dinge sien en ervaar, maar jy moet nie vrees nie.

“As die nood druk, probeer so gou as moontlik by die water uitkom!”

Lucien probeer nog sin maak uit die snaakse woorde van Ouma Saar.

Toe hy sy mond oopmaak om iets te sê, verdwyn sy skielik, sonder om ’n woord te sê.

Hy staar verslae deur die vooruit na die eensame pad wat deur die barre vlakte loop.

Skielik besef hy dat hy nie meer op die pad na Calvinia is nie.

Voor die mistigheid hom omvou het, het hy nog duidelik gesien hoe ’n verkeersbeampte voor hom in die pad spring.

Toe skielik verdwyn die man sommerso in die mis.

Hy kyk vlugtig na agter. Ja, die hele wêreld lyk vir hom nou so vreemd. Hy tuur weer die verte in waar die hittegolwe so op die pad dans. ’n Man kom skielik vanuit die niet en hardloop blindelings voor sy motor in.

Instinktief trap Lucien die rempedaal. Die motor skuur rakelings verby die man en kom in ’n stofwolk op die rand van die pad tot stilstand.

Vir ’n wyle sit Lucien met ’n bonsende hart agter die stuur.

Vir een oomblik was hy alleen op die pad met geen siel in sig nie. En ewe skielik verskyn die vreemde man soos ’n spook hier voor hom.

Hy loer na agter en sien so ’n snaakse ou man met ’n lang wit baard daar staan.

Hy klim vinnig uit die motor.

“Is oom orraait? Joh, ek’t amper oom nou amper gestamp!” vra hy bekommerd. Die man se oë rek nou soos pierings.

“P-praat jy met m-my, Boeta? K-kan jy m-my dan sien?!” vra hy stotterend. Daar verskyn ’n frons voor Lucien se kop.

“H-hoe bedoel Oom nou?!” Die ou man kyk eers vir ’n wyle rond.

Hy lyk nou baie verward. Daar is ’n vreemde uitdrukking in sy oë.

  • “Dan het ek dit reggekry om uit hul dimensie te ontsnap!” kraak sy opgewonde stem oor die verlate vlaktes… Lees môre verder
Sê jou sê
Wat gebruik jy om Netflix, Showmax, etc te kyk?
Kies asb. 'n opsie Oeps! 'n Fout het ingesluip. Probeer asb. weer.
Resultate
My selfoon data
12% - 67 stemme
Ek het 'n selfoon-kontrak
1% - 5 stemme
Ek het wifi :-)
51% - 296 stemme
Ons is posh en het fibre!
36% - 207 stemme
Stem
Jongste Son

18 Augustus 2022

Jongste Son
Klik hier om te lees!
Begin lees