Lucien hoor aliens het ’n dorp na hul dimensie verplaas

akkreditasie

HI, SONLANDERS. Op pad na Calvinia verskyn Lucien se beskermengel, Ouma Saar Enoch, aan hom. Sy gee hom ’n visioen van ’n vreemde tuig wat oor ’n dorpie hang. Kort daarna verdwyn die dorpie met tuig en al. Sy gee Lucien inligting oor die gebeure wat Lucien nie so lekker kan verstaan nie. Sy verdwyn en ’n vreemde man hardloop voor Lucien se kar in.

Het dit alles te doen met die vreemde aardbewing ’n paar dae gelede? Geniet nou hoofstuk 3 van Salmon Smith se sci-fi rillerverhaal, “Die Atlantis-Phenomenon”.

‘H-hoe bedoel Oom nou?!”

Daar is verwarring op Lucien se gesig terwyl hy die snaakse ou mannetjie aanstaar.

“As jy my kan sien, seun, dan het ek dit reggekry om uit hul dimensie te ontsnap,” verklaar die man en beduie veld in.

Nou is Lucien weer van voor af deurmekaar. Hy loer verward rond, maar sien net vlakte hier om hulle. “W-wie is die ‘hulle’ van wie Oom praat?”

Hy kyk die mannetjie ondersoekend aan. Hy lyk al diep in sy jare, moontlik oor tagtig. Hy het ’n snaakse gerimpelde bles, ’n lang, wit baard, ronderaam-brilletjie en ’n lang wit jas aan.

Die man ignoreer Lucien se vraag en mol skielik vir die passasiersdeur.

“Kom, ons kan nie hier gesels nie!”

Lucien wil nog keer, toe is die man al in sy motor. Hy spring ook nou haastig by die bestuurderskant in en trek in ’n stofwolk weg.

“Ry in die rigting van daardie stofwolk dóér op die horison!” beveel die man. Lucien sit voet in die hoek en toe hulle nader kom, sien hy daar is ’n hele gewerskaf hier aan die gang. Die hele plek is afgekordon met polisievoertuie en noodhulp-voertuie die hele wêreld vol.

Oral is laaigrawe besig om te grawe en eenkant staan twee groot karavane wat as kantore ingerig is.

Daar is ook drie massiewe tente opgeslaan, waarvan een ’n groot rooi kruis op het. Dit word seker ingespan as ’n veldhospitaal, want hier waar hulle nou is, is ver van beskawing af.

“Jy moet seker gehoor het van die sogenaamde aardbewing wat ’n hele dorpie ingesluk het?” kraak die ou man se stem skielik hier langs hom. Lucien stop die kar net daar langs die pad. “W-wat bedoel jy nou met ‘sogenaamde aardbewing’? Dit was dan in die koerante ook,” sê hy en kyk die man snaaks aan.

“Daar was nie werklik ’n aardbewing wat Springbokvlei in die aarde laat wegsak het nie! Daar is nie ’n sogenaamde Atlantis Phenomenon nie!” kap die ou man terug. Hy beduie na die gewerskaf.

“Daai groot reddingsoperasie wat jy daar sien, is ’n mors van staatsgeld. Hulle gaan niks dorp en dooie inwoners onder daai kluite kry nie,” begin die man verduidelik.

Nou is Lucien baie nuuskierig.

“Daardie dorpie het nie onder die grond weggesak nie. Nee, dis na ’n ander dimensie verplaas, inwoners en al.”

Lucien staar die man grootoog aan. “H-hoe… w-waarvan praat jy?!”

“Ek is Juan Lieber, ’n wetenskaplike wat verbonde was aan die staat se geheime ruimteprogram, The Orion. Ons soek vir extra- terrestrial lewe in ons heelal of enige tekens dat dit bestaan.

“Ja, Suid-Afrika het ook so ’n afdeling van die weermag diep in die Kalahari-woestyn. Min mense weet daarvan. Van toentertyd af is die wêreld behep met lewe daar buite.

“Hulle stuur ruimtetuie op, gaan snuffel op die maan rond en plaas vaartuigies op Mars. Dít alles om te kyk vir ander lewe. Maar hulle doen dit almal verkeerd!”

Hy beduie na die gewerskaf en gaan toe voort. “Jy sien daardie sogenaamde reddingsoperasie daar?

“Hulle doen daardie operasie in ons dimensie. So, hulle gaan op niks afkom nie.”

“Nee, jarrie, wat se dimensie-stront is dit met jou, ou man?” gaan Lucien gal af.

“Okay, seun, nou moet jy mooi luister,” gaan Lieber voort.

“Ons lewe in die derde dimensie. Dan kry jy entities wat in ander dimensies lewe, soos spoke. En dan praat ons slim mense ook van ander parallelle universes.

“Nou, ons stuur vaartuie op ruimte toe en plaas vaartuigies op ander planete. Foto’s word aarde toe gestuur van barre landskappe waar geen tekens van lewe is nie. Die rede vir dit is ons soek in ons eie dimensie rond. Ruimtevaarders dwaal in die ruimte rond, in ons eie dimensie.

“Neil Armstrong se ‘gaint leap’ was in ons eie dimensie.

“Daai vaartuigie op Mars is in ons eie dimensie. Natuurlik sal hulle geen tekens van lewe opspoor. Want hulle soek in die verkeerde dimensie!”

Lucien staar hom oopmond aan. Dit begin nou vir hom al duideliker raak waarheen die gesprek lei. Daar gaan nou ’n lig vir hom aan. Daardie visioen van daardie massiewe, dreunende ruimteskip wat Ouma Saar aan hom gegee het, verskyn weer voor sy geestesoog.

“Dit wat jy nou so pas aanskou het, is die antwoord op die grootste misterie wat die mensdom hier op aarde jare lank so laat kopkrap!” maal haar vreemde woorde deur sy kop.

Lieber haal ’n klein apparaat uit sy sak en plaas dit op die dashboard van die kar. Dit lyk soos ’n miniatuur oorhoofse projektor met ’n mini-sleutelbord, klein skermpie en ’n lens aan die voorkant.

“Ná jare se navorsing het ek dit uiteindelik reggekry om in ander dimensies te gaan snuffel,” gaan Lieber voort. Hy beduie na die apparaat.

“Ek noem dit Apparatus Dimentia. Hiermee het ek die ruimtewesens waarna ons soek in ander dimensies ontdek. En dít is hoekom ek uit die program geskop is omdat hulle glo ek het my siel aan die duiwel verkoop en kommunikeer nou met demone.

“Maar dit is nie waar nie. Hulle moes net my navorsing aanvaar het.

“Hulle sou dus met nuwe aandag na die ruimte daar buite kon kyk.” Lucien skud sy kop.

“Sjoe! Dis interessant!” Hy beduie na die reddingsoperasie wat nog in volle gang is.

“En waar pas Springbokvlei by hierdie bisarre prentjie in?”

“Toe ek in een van die dimensies gaan rondkrap het, het ek kontak gemaak met die aliens. Hulle het skielik belangstelling in my getoon, maar ek’t vinnig ontsnap. Ek los toe per ongeluk ’n portal oop. Hulle het toe deur daardie portal gekom met hul groot moederskip op die plek waar Springbokvlei is… of was.

“Die aarde is vir hulle mos ’n vreemde terrein en nou is hulle besig met hul eie navorsing oor ons aardlinge. En om ongesiens met hul taak voort te gaan, moes hulle alles om hulle, mens en geboue en al, transfer na hul eie dimensie.

“Die gevaar hierin is hulle gebruik nou die inwoners as proefkonyne in experiments wat hul dood kan veroorsaak. Ek het gaan loer daar en gesien hoe teleport hulle inwoners een vir een met ’n energie-beam in hul ruimteskip in. Ek sidder vir wat nog voorlê. Ek het net betyds ontsnap.”

Lieber kyk Lucien smekend aan.

“Seun, jy moet nou saam met my teruggaan en daardie hele dorp, en so ook ons hele wêreld, red.”

  • Lees môre verder
Sê jou sê
Wat gebruik jy om Netflix, Showmax, etc te kyk?
Kies asb. 'n opsie Oeps! 'n Fout het ingesluip. Probeer asb. weer.
Resultate
My selfoon data
12% - 67 stemme
Ek het 'n selfoon-kontrak
1% - 5 stemme
Ek het wifi :-)
52% - 298 stemme
Ons is posh en het fibre!
36% - 208 stemme
Stem
Jongste Son

18 Augustus 2022

Jongste Son
Klik hier om te lees!
Begin lees