Lucien en Lieber gaan deur portal om dorpie te red

akkreditasie

Haai, Sonlanders! Lu­cien ontmoet vreemde man wat homself doktor Juan Lieber noem. Lieber noem aan Lu­cien dat hy verbonde was aan ’n geheime regeringsprogram wat lewe in die ruimte bestudeer. En dat hy aliens in ander dimensies opgespoor het en per ongeluk ’n portal oopgelos het. Nou is hulle besig met hulle eie navorsing op die mense van Springbokvlei. Nou moet Lucien help om die mensdom te red.

Lees nou verder aan hoofstuk 4 van die spanningsvolle sci-fi-verhaal van Salmon Smith wat hy “Die Atlantis Phenomenon” noem.

LUCIEN staar Lieber oopmond aan. “Wil jy hê ek moet saam met jou in daardie dimensie teruggaan en teen gevaarlike gedrogte van die buitenste ruim gaan baklei!?” hyg hy die vraag uit toe hy sy asem terugkry.

“Nee, wie het van baklei gepraat?” vra Lieber. “Ek wil hê jy moet saam met my teruggaan en my help om in daardie ruimteskip van hulle te kom. Ek moet by hulle hoofrekenaar uitkom om ’n virus daar te plant.

“As my navorsing reg is, dan is dit so dat daai aliens se hele energie-network van hulle hoofrekenaar afhang. As ek dan ’n virus daar plant, sal dit hul ander rekenaars beïnvloed.

“En soos ek agtergekom het toe ek hulle bestudeer het, funksioneer hulle hele wese – liggame, organe, alles, op elektriese impulses wat vanuit daardie ruimteskip kom. So, as ek die virus in hulle hoofrekenaar plant, kan ek hulle disoriënteer.

“En dan sal ons sien watter effek dit dan gaan het op hulle bestaan hier. Maar sodra ons twee daardie dimensie betree, moet ons eers in daardie dorpie uitkom en uitvind hoeveel inwoners agtergebly het.

“En terwyl ek in daardie ruimteskip is, moet jy almal wat nog lewe, op ’n oop stuk veld laat versamel. ’n Mens weet nie wat kan gebeur as ek hulle krag afskakel nie.”

Lucien skud sy kop in ongeloof. “Joh, dit klink unreal. Maar ouma Saar Enoch het genoem die antwoord van die grootste misterie wat die mensdom deur die eeue heen so laat kopkrap, word nou hier geopenbaar. Ons bespiegelinge oor aliens het nou ’n antwoord gekry. Hulle bestaan wel in die groot heelal, maar in ander dimensies!”

“Net so, seun. By the way, wie is ouma Saar Enoch?”

“Nee, dit is sommer iemand in my mind,” lag Lucien dit vinnig af.

“Maar sê my eerder, hoe gaan jy ’n virus in hulle hoofrekenaar laai?” vra hy vinnig toe hy sien Lieber kyk hom skepties aan. Lieber hou die apparaat wat hy om sy nek hang omhoog.

“Met dié Apparatus Dimentia is ek nie net in staat om in ander dimensies in te gaan nie. Dit is ook ’n mini-rekenaar, wat ek aan hulle hoofrekenaar gaan konnekteer en sodoende die virus daar aflaai.

“Maar ek moet eers daar kom om hulle setup te bestudeer en dan my strategie beplan.”

Lucien snap nou die hele plan van Lieber. Hy hoop dit kan werk, anders is die hele wêreld gedoem. Hy draai nou sy kop na waar die reddingsoperasie nog onverpoos aan die gang is.

Skielik strike iets hom. Sy oë verstar terwyl hy sy kop na Lieber swaai.

“As jy dit gaan regkry om daardie dorpie te bevry vanuit die aliens se kloue, gaan dit mos terugkeer na ons dimensie … reg?!” hyg hy dit uit.

Lieber knik. “Reg so!”

Lucien wys nou na die reddingsoperasie.

“Maar dit beteken daardie noodhulpspanne kan ook in gevaar wees. Daardie huisies en geboue kan dan op hulle presiese liggings waar hulle gestaan het voor die verdwyning, verskyn en dan bo-op daardie noodhulpspanne beland!”

Lieber snap nou wat die impak kan wees en hy swaai om.

“Kom, ons sal hulle moet probeer waarsku!”

Saam hardloop hulle oor die veld en kruip onder ’n veiligheidsafskorting deur. Hulle nael in die rigting van ’n mobiele gebou wat hulle dink die hoofkantoor van die gewerskaf kan wees. Voor die gebou word hulle voorgekeer deur iemand in ’n blou oorpak en reflector bib.

“Hokaai, julle is nie veronderstel om hier te wees! Dit is ’n restricted area!”

“Ons moet onmiddellik met iemand in beheer praat! Dit is dringend!” kap Lieber terug.

’n Polisieman met dikke rangtekens op sy skouers kom by die geboutjie uitgestap. “Wat gaan hier aan, Smittie?”

“Brigadier, die twee wil met u praat. Hulle sê dis dringend!” antwoord sers. Smith grootoog. Die brigadier frons toe sy oë op die snaakse, kort mannetjie met die verrimpelde bles en lang wit baard val.

“My naam is brigadier Holster. Wat is so dringend?”

Lieber bestorm hom sommer.

“Brigadier Holster, ek is Juan Lieber. U moet asseblief nou mooi luister na wat ek te sê het!”

Grootoog staar Holster en Smittie na Lieber terwyl hy hulle sy teorie vertel. Hulle monde hang oop aan die einde van die relaas. ’n Rukkie staar hulle roerloos na Lieber en Lucien, hulle gedagtes nou ’n hele warboel.

Holster kyk vlugtig na waar sy spanne, disaster management en noodhulpspanne onverpoos voortgaan met die grawery. Hy wend hom toe weer tot Lieber.

“Okay, watter versekering kan jy my gee dat wat jy nou hier kwytgeraak het, nie ’n klomp bog is nie?”

“Brigadier, al wat ek jou kan verseker, is dat daar nie ’n Atlantis Phenomenon is nie! En dat jy jou mense sou gou moontlik hier moet wegkry, anders gaan mense baie lelik seerkry!” kap Lieber terug en peuter skielik aan die apparaat wat om sy nek hang. Hy wend hom toe tot Lucien.

“Seun, ek’t vir ons ’n portal hier op die spot. Gee my jou hand. Ons kan nie langer wag nie.”

Skielik, voor die verdwaasde oë van Holster en Smittie, verskyn ’n snaakse spiraalvormige energieveld nie ver van hulle af nie. Lam van skok sien hulle hoe die twee manne daarin verdwyn.

’n Wyle staar hulle na die plek waar die portal verskyn het. Dit is toe Holster wat eerste tot verhaal kom.

“O jarriiiee, Smittie, ek moet nou onmiddellik die generaal oppie lyne kry!” gaan hy gal af.

Agter Lucien en Lieber gaan die portal weer toe.

Nou is dit weer Lucien se beurt om oopmond te staar na dít hier voor hom.

Hy sien die vreemdste en grootste lugvaartuig wat hy al ooit gesien het in die lug.

Dit lyk presies soos die een wat hy in sy visioen gesien het. En onder die donker, pieringvormige tuig lê die dorpie Springbokvlei.

Vanuit die tuig is daar ’n dik energiestraal wat tot in die middel van die dorpie strek.

“Dis die straal waarmee hulle die inwoners een vir een opslurp tot in hulle tuig vir eksperimente. Ek moet nou daardie beam veilig bereik sodat ek tot in hulle tuig kan kom.”

’n Geluid agter hulle trek egter hulle aandag. Hulle swaai gelyk om en dit voel asof die bloed in hulle are stol.

So 50 meter van hulle af kom twee snaakse wesens op massiewe, renosteragtige gedrogte op hulle afgejaag en hulle lyk bloeddorstig …

  • Lees môre verder
Sê jou sê
Wat gebruik jy om Netflix, Showmax, etc te kyk?
Kies asb. 'n opsie Oeps! 'n Fout het ingesluip. Probeer asb. weer.
Resultate
My selfoon data
12% - 53 stemme
Ek het 'n selfoon-kontrak
1% - 4 stemme
Ek het wifi :-)
51% - 227 stemme
Ons is posh en het fibre!
37% - 164 stemme
Stem
Jongste Son

8 Augustus 2022

Jongste Son
Klik hier om te lees!
Begin lees