Lonnie vertel ná Frans se begrafnis hoe sy hom ken

akkreditasie

Hi, Sonlanders!

Ons vervolgverhaal kom uit die pen van Esmé Cupido.

Dit is getiteld Die Begrafnis.

Geniet nou hoofstuk 5.

DIS ’n bedeesde groepie wat die volgende oggend in die sitkamer koffie drink voordat hulle vir die begrafnis kerk toe gaan.

Ná die vorige aand se jolyt is almal stil, want skielik lê die besef waarom hulle hier is, nugter voor hulle. Oom Frans is dood en word vandag begrawe. Ná die begrafnis gaan hulle oppak en na hulle onderskeie huise teruggaan.

Daar is gereël dat oom Frans se huis verkoop word en die geld tussen die twee susters, ant Lettie en ant Kowa, verdeel word.

Die kerk blyk redelik vol te wees, want oom Frans was nou wel nie ’n gereelde kerkganger nie, maar die dorp se mense het van die joviale man gehou wat altyd iets oorgehad het vir ander.

’n Vrou in ’n pikswart rok en ’n swart kantdoekie op haar kop trek Ella by die deur aan die arm eenkant toe.

“Ek wou nog kom inloer, maar ek het die ghrênd karre by Frans se huis sien staan. Is julle sy familie?”

“Ja, Mevrou, oom Frans was my ma se broer. U kon tog maar gekom het,” sê Nonnie vriendelik.

“Ek wil nou nie snaaks wees nie, maar ek sê gist’raand vir Fien daai paartie was ’n bietjie … hoe sal ’n mens nou sê … e … nie eerbiedig teenoor die dooies nie. Ons is mos gewoond aan die kerrie-en-rys-ding ná die begrafnis — vir dié wat van ver kom, maar nou is daar niks nie,” sê die vrou beswaard.

“Wel, dis wat oom Frans wou gehad het. Gelukkig het Lonnie alles gereël en dit het goed afgeloop.”

Die vrou kyk vinnig rond en maak bakhand.

“Daai een … ha-a. Vandat sy die troue vir Kerneels se dogter gereël het, het sy ge-in en ge-uit hier by Frans. Net van êrens gekom, g’n mens weet iets van haar nie. Mense het omtrent gepraat. Frans kon haar pa gewees het.”

Ella kyk vinnig op haar horlosie.

“Ons moet seker ingaan, die diens gaan nou-nou begin.”

Maar die vrou hou haar nog terug.

“Is daar miskien tee en koek vir dié wat nie by die paartie was nie?” vra sy hoopvol.

In die kerk heers ’n gewyde atmosfeer. Oom Frans wou nie hê die kis moet in die kerk staan nie, maar ’n tafel met wit kerse omring ’n groot foto van hom. Boeta sit styf langs Lonnie, wat soos ’n geel kappertjie tussen swart treurendes blom. Dominee Attie se preek laat menige oog vol trane.

Ná die kerkdiens is die stoet begraafplaas toe. Die begraafplaas word soos ’n tuin netjies in stand gehou en oral is bome en struike geplant. Ant Kowa huil saggies en ant Lettie staar stroef toe die kis in die gat afsak.

’n Man wat eenkant op ’n sandhoop gestaan het, kom nader net toe almal na hulle karre begin terugstap.

“Hallo, Lonnie, long time no see.”

Lonnie kyk verskrik na die man en klou aan Boeta se arm vas.

“Ek het gedink ons sal mekaar in meer romantiese omstandighede weer ontmoet, maar ’n begraafplaas is net so goed soos ’n restaurant. Nog net so mooi soos altyd.”

“Hallo, Meneer, ek dink nie dis die aangewese tyd vir geselsies nie. As u wil, kan u by die huis ’n draai …”

“O, nog ’n lover van onse Lonnie. Sy laat nie op haar wag nie, nè.”

“Hey, ek gaan nie toelaat dat jy só van Lonnie praat nie.”

“Ag, come on. Noudat lover Frans in sy gat lê, kan ons mos weer die drade optel, of hoe, sugarbee?”

“Dis verby, Rompie! Al meer as drie jaar gelede het ek jou gesê die verhouding is verby. Los my uit, asseblief,” sê Lonnie.

“Dit voel soos gister toe ek en jy … ons kan weer try, ek gaan change, man. Jy weet mos hoe dit is.”

“Jy het haar gehoor. Los haar nou uit. Kom, Lonnie.”

Boeta knyp Lonnie se arm onder syne vas en stap vinnig verder.

“Ja, sien jou weer, ou Lonnie. Ons gaan mekaar weer ontmoet.”

By die huis gekom, is oompie Izak besig om tasse in hulle kar te laai en die vroue hark nog die laaste goed bymekaar.

“Boeta, ek dink ek is aan julle verduidelikings verskuldig oor my en … Frans,” sê Lonnie skigtig.

“Ek is bly jy sê dit, want ek sou gevra het, veral ná die insident by die begraafplaas. Kom ons roep almal bymekaar en dan kan jy praat.”

Toe almal sit, vroetel Lonnie eers senuagtig met haar hande voordat sy liggies sug en begin praat: “My lewe was ’n gemors voordat ek Frans leer ken het. Ek was in ’n afbrekende verhouding en my besigheid wou nie op dreef kom nie. Boonop was my ma baie siek. Toe sterf sy en onder haar bed kry ek ’n boksie met briewe.

“My ma het altyd vir my gesê my pa is dood voordat ek gebore is, maar … toe kom ek af op briewe wat my pa aan my ma geskryf het en elke jaar se verjaardagkaartjies wat hy aan my gestuur het.

“Ek het besef my ma het al die jare gejok. Ek was eers kwaad, maar later het ek met dominee Attie daaroor gaan praat en hy het gesê hy gaan my help om my pa te vind.

“Boeta se gesig verstrak toe hy besef waarheen die storie moontlik kan lei, maar Lonnie druk sy hand gerusstellend.

“Maar toe ek my pa probeer opspoor, moes ek hoor hy is ’n maand tevore oorlede. En sy prokureurs probeer my juis ook opspoor, want ek is die enigste begunstigde van sy boedel.

My pa het iemand aangestel as eksekuteur van die boedel, hierdie persoon was …

“... Frans Kotze. Ons het begin kommunikeer oor die bepalings en hy het dadelik belang gestel in die werk wat ek doen. En my aanbeveel by sy vriend oom Kerneels, wat toe ’n beplanner vir sy dogter se troue gesoek het. En dis waar ons mekaar die eerste keer gesien het. Hy’t gevra ek moet hom op sy naam noem.

“Frans het ’n groot invloed op my lewe gehad … ek kon dit regkry om uit die verhouding te stap en vir my ’n naam begin bou as geleentheidsbeplanner. ’n Paar maande gelede het Frans ’n boodskap gestuur om te sê hy is effens siek en ek moet die reëlings hanteer as hy iets sou oorkom.

“Toe ek die oggend hier kom, was dit te laat …”

“Ai, my kind. Ek het geweet daar is ’n storie wat vertel moet word. Frans was ’n verstokte vrygesel en ek het geweet hy sou nie op sy oudag halsoorkop by ’n jong meisie betrokke raak nie. Dis net nie hy nie,” sê ant Kowa verlig.

“Welkom in ons familie, Lonnie,” sê Ella.

“Oom Frans se vriende is ook ons s’n.”

“Nou, ja, toe, appels is ook vrugte. As jy in die Boland kom, kan jy maar kom ‘hallo’ sê. Boeta sal seker nie omgee om jou die wynplase te wys nie,” sê ant Lettie.

“Dankie, julle. Ek gaan Frans se huis koop sodat dit ’n hawe kan word vir enigieen wat wil wegkom om te ontlaai en te herlaai.”

  • Slot
Sê jou sê
Moet die salaries van Eskom-werkers gesny word oor load-shedding?
Kies asb. 'n opsie Oeps! 'n Fout het ingesluip. Probeer asb. weer.
Resultate
Hulle moenie betaal word nie
47% - 76 stemme
Haai nee, shame - hulle het families
16% - 26 stemme
Eskom se push
25% - 41 stemme
Gee my krag, elke dag
9% - 14 stemme
Wat is load-shedding?
2% - 4 stemme
Stem
Jongste Son

30 Junie 2022

Jongste Son
Klik hier om te lees!
Begin lees