Katinka vind uit sy is in Madame J se strafkamer...

akkreditasie

HAAI, Sonlanders. Katinka se ontvoering word onthul en ook wie daaragter sit. Tog verander dit nie haar situasie nie.

Katinka ontwaak in 'n koue, donker kamer met geen idee hoe sy daar gekom het nie.

Intussen word sy bewus van nog 'n teenwoordigheid in die plek waar sy aangehou word.

Sal Katinka dit regkry om te ontsnap? Geniet nou die vierde hoofstuk van GWEN KORDOM se verhaal Katinka.

‘EK HET 'n getuie wat jou met Katinka en 'n vreemde man hier sien uitloop het — 'n eerstejaarstudent vir wie Katinka met 'n taak help.

“Sy was in die gang op pad hierheen toe julle drie uitstap. Maar julle het haar blykbaar nie gesien nie.”

Dié keer rek Trudie se oë byna uit hulle kasse.

“Wie is dié man, Trudie, en hoekom is hy saam met Katinka hier weg?” vra Mathilda.

“Of het jy gedink niemand sal sien nie?

“Wat het jy met Katinka se verdwyning te doen? Praat!”

Dean beduie vir Mathilda om stil te bly.

“Trudie, dink mooi, dink oor wat jy volgende gaan sê. Die blote feit dat jy gelieg het, tel alreeds teen jou.

“Praat die waarheid,” sê Dean so kalm as wat hy kan.

“Ek weet nie wie die man is nie.

“Ek het hom hier in die kamer by Katinka raakgeloop.

“Toe ek instap, was hulle skielik baie haastig. Sy en die man is hier uit voordat ek enige vrae kon vra.”

“Trudie, ek is 'n baie geduldige man en hou daarvan om mense kanse te gee.

“Vir kriminele en bedrieërs het ek nie dieselfde tipe geduld nie. Jy sit en lieg deur jou tande, man.

“As jy my nie nou vertel wat hier gebeur het nie, sal ek sorg dat die polisie jou onmiddellik in ? sel smyt.”

“Wag, asseblief. Ek is jammer. Jy weet nie hoe moeilik dinge raak nie.

“Ek het nie ryk ouers wat my onderhou nie en toe die man my oor Katinka nader...”

Trudie sluk hardop.

“Ek het nog nooit soveel geld op een slag gesien nie.”

“Wie is hy en vir wie werk hy?” vra Dean.

“Ek weet nie; net gesê hy soek na Katinka en hy sal my betaal as ek hom ? guns doen.

“Hy het voorgestel dat ek koffie kry en gee my toe iets wat ek daarin moes gooi.

“Die res sou hy self doen.”

“Hoe kon jy!”

Dean moet tussenbeide tree toe Mathilda vir Trudie aan die hare gryp en woes rondpluk.

Dit neem 'n rukkie voordat hy die twee van mekaar afkry.

“Trap! Nou!

“Jy beter vir my voor daardie deur wag as jy weet wat goed vir jou is,” sis Dean terwyl hy 'n snikkende Mathilda vashou.

Dean besef Trudie was 'n pion.

Die man was hier vir Katinka en sou enige manier gebruik om haar te kry.

Dis dieselfde ou van die vorige aand.

Hierdie mense is gevaarlik.

Dis dalk tyd om Michael Donalds, die ondersoekbeampte, in te roep.

Hy kan net hoop dis nog nie te laat vir Katinka nie.

TERUG by Katinka in die donker kamer... Die hande is soekend en voel soos ysblokke op haar vel.

“Wie is daar?” vra Katinka deur droë lippe.

“My naam is Leila,” knars 'n stem deur die stilte.

Katinka tuur met branderige oë in die duister, maar kan niks voor haar sien.

“Leila, ek is Katinka. Hoe het jy hier gekom en hoe lank is jy al hier?”

“Water. Gee my 'n bietjie water, asseblief.”

Toe, ná 'n lang stilte: “Twee dae. Maak dit saak hoe ek hier gekom het?

“Ek gaan anyway hier vrek. As ek tog maar net wou luister.”

“Na wie?”

“Die ander. Het jy niks by jou nie? Asseblief, ek is rasend honger.” Leila se stem klink harder.

Asof sy nader aan Katinka beweeg het.

“Nee, ek het niks,” sê Katinka.

“Watse plek is dit dié?”

“Hel — of liewer: Madame J se strafkamer.”

Die noem van daardie naam laat Katinka se rugstring saamtrek.

Alles val in plek.

Haar vrese was toe nie ongegrond nie.

Sy was heeltyd op die mense se radar.

Dieselfde mense wat Shantell ontvoer het, het haar in die hande gekry.

Haar liefde vir Shantell het haar verblind.

Sy besef nou sy moes wysheid gebruik het. Nie vir Essie gekonfronteer het nie.

'n Anonieme tip-off vir die polisie gegee het, maar nee.

Daar staan sy oop en bloot in die publiek en vertel die ondersoekbeampte van Gino en Essie. Iemand het haar uitgelewer.

Natuurlik Essie.

Kyk wat moes sy in die eerste paar uur deurmaak.

As dit haar lewe gaan wees, sal sy Madame J vir 'n genadedood vra.

Niks kan erger wees as waaraan sy alreeds blootgestel is nie.

Sy het nie die durf en krag vir hierdie dinge nie.

Van kleintyd af leef sy in haar kop. In 'n wêreld wat ander nie sien.

’n Wêreld waar sy mooi drome het en sorgeloos lugkastele kan bou.

In 'n verbeeldingsplek waar sy die heldin is.

Sy onthou nadat Shantell by die huis aangekom het, was sy een van haar eerste besoekers.

Hoewel Shantell nie veel gepraat het nie, kon sy die blydskap op haar gesig nie keer toe Katinka instap nie.

Dit het haar hoop gegee.

Shantell het selfs toegelaat dat Katinka haar hand vashou terwyl hulle gesels.

Met elke besoek kon sy iets in Shantell waarneem.

Die blos op haar wange.

Die sprankel in haar oë. Sy is byna doodseker Shantell is bewus van haar.

Dis hoekom sy lewend uit hierdie hool moet kom.

Aan die ander kant wag Shantell Cloete en 'n pragtige lewe, dink sy vir haarself.

“Sjuut!” ruk Leila se stem vir Katinka uit haar gedagtes.

“Wat?”

“Kan jy nie hoor nie? Bruno en sy manskappe is terug.”

Katinka verstyf toe sy die stemme hoor.

Haar hart sit in haar keel en sy moet vra, want sy is verskriklik bang.

“Wat maak hulle hier?”

“Wat dink jy? Jy is die nuwe pond vleis, meisie.”

Katinka wag vir die duisternis om haar in te sluk, maar dit gebeur nie. Dit voel soos ’n ewigheid.

Die deur vlieg oop. 'n Skerp lig stroom in en sy sukkel om gefokus te kry.

Toe hoor sy 'n stem wat sê: “Vandag is jou gelukkige dag, Katinka.”

  • Lees môre verder
Sê jou sê
Moet die salaries van Eskom-werkers gesny word oor load-shedding?
Kies asb. 'n opsie Oeps! 'n Fout het ingesluip. Probeer asb. weer.
Resultate
Hulle moenie betaal word nie
47% - 75 stemme
Haai nee, shame - hulle het families
16% - 26 stemme
Eskom se push
26% - 41 stemme
Gee my krag, elke dag
9% - 14 stemme
Wat is load-shedding?
2% - 3 stemme
Stem
Jongste Son

30 Junie 2022

Jongste Son
Klik hier om te lees!
Begin lees