Is dit Katinka se verlede wat nou by haar spook?

akkreditasie

HAAI, Sonlanders! Ons skop die week af met ? nuwe verhaal uit die pen van GWEN KORDOM. Sy noem dit ,“Katinka”. Geniet nou die eerste hoofstuk van dié vervolgverhaal.

DAAR is dit weer. Die vreemde geluid vanuit die gang. Katinka Huisamen lig haar voorlyf en tuur in die donker na die toe slaapkamerdeur. Sonder haar bril voel sy hulpeloos en kan slegs hoekige skaduwees in die donker sien. Haar bril lê dalk iewers op ’n plek waar sy dit vergeet het.

Haar lyf is die ene bibberasie en sy het hierdie aaklige gevoel dat iets skort. Die afgelope twee weke kry sy ook die idee iemand agtervolg haar.

Wanneer sy oor haar skouer loer, is daar niemand nie, tog voel sy die oë op haar. Dalk is dit haar verbeelding wat haar al hierdie dinge wysmaak.

Sy kan egter nie die nare gevoel afskud nie. Soms weet ’n mens net. Dit het begin ná die tyd toe haar vriendin Shantell Cloete ontvoer is. Shantell het weke vantevore tussen oog en neus verdwyn. Sy is weer veilig terug by haar ouerhuis op Concordia en die lewe hier op kampus het voortgegaan. Almal probeer die aaklige storie agter die rug sit, maar dit spook by Katinka, veral oor haar eie aandeel.

Die ondersoekbeampte Micheal Donalds het haar egter verseker dat haar naam nêrens genoem is nie. Hy het gesorg dat sy nie getuig nie, veral toe Gino Kwartet self bos los oor die mensehandel-sindikaat en staatsgetuie draai. Niemand weet van haar nie.

Of het Essie, Gino se niggie, haar daardie betrokke dag gesien? Toe sy oop en bloot met die ondersoekbeampte gesels het? Wat anders het sy verwag? Haar eie lewe op die spel geplaas en nou sit sy hier in die stikdonker en hoor geluide.

Die ander twee meisies wat saam met haar ’n kamer deel se rustige asemhaling is ? aanduiding van hoe lekker hulle slaap.

Waar sy met 'n ooraktiewe verbeelding kiertsregop sit en die dood van iewers inwag.

Môre skryf sy ’n belangrike toets. Dan is daar die storie waaraan sy op die oomblik skryf. Die een oor haar en Shantell, en haar eie seksualiteit waarmee sy al van kindertyd wroeg.

’n Klapgeluid laat Katinka orent wip en byna uit die bed val. Sy gryp die kombers en spring blindelings agter die slapende Mathilda se rug in.

Die beweging laat Mathilda se lyf effens roer terwyl Katinka asemloos na die naderende voetstappe luister. Sweet-pêrels slaan op haar voorkop uit. Toe haar senuwees dit nie meer kan hou nie, skud sy Mathilda wakker.

Dit neem Mathilda ? paar sekondes om te ontwaak. “Wat gaan aan?” wil sy deur die slaap weet.

“Jy moet wakker word. Daar is iemand by die deur.”

“Wat?”

Op die ander bed is beweging. Trudie van Jaarsveld se stem breek deur die stilte. “Is dit nodig om so ’n kabaal op te skop, julle twee? Jislaaik, het julle enige idee hoe laat dit is?” vra sy en pluk haar selfoon uit.

“Sjuut! Daar is iemand by die deur,” fluister Katinka. Op dieselfde tyd hoor al drie hoe daar aan die deur se handvatsel gevroetel word.

Hul gille skeur soos een deur die nagstilte. Katinka klou soos ? kat aan Mathilda, terwyl dié vergeefs onder haar hande probeer uitkom.

Trudie het haar kop bedek en lê nou doodstil aan die ander kant.

Die deur waai oop en in die dowwe lig sien Katinka die donker figuur staan. Sy gil so hard as wat sy kan. In die verte hoor sy stemme.

Die een staar vir ’n rukkie in haar rigting, toe verdwyn hy buite sig. Een van die ander studente, Judy Petersen, staan nou in die deuropening.

“Katinka, wat gaan hier aan?” vra sy met ’n kwaai frons. Sy is nie in staat om ’n dooie woord te uiter nie. Sy kan skaars haar lyf roer en elke senuweepunt voel styf gespan van die stres. Haar keel is kurkdroog en die trane stroom oor haar wange.

Judy Petersen kom nader. Haar oë fokus op die ander twee. “Kan iemand my asseblief vertel wat hier gebeur het? Mathilda?”

“Daar was ’n man in die deur,” sê Mathilda.

“Hy het ’n masker opgehad,” voeg Trudie by.

“Hoe is dit moontlik? Hier was dan niemand in die gang toe ek my kamerdeur oopmaak nie.”

“Ek sweer daar was ’n man, Judy,” sê Mathilda.

“Vir jul streke het ek nie tyd nie. Veral nie dié tyd van die nag nie. Julle het basies die res van die inwoners saam met julle wakker geraas. Besef julle dit?”

“Ons lieg nie,” sê Mathilda terwyl Katinka kliphard agter haar rug snuif.

“Iemand bring kalmeerpille en water,” beveel Judy. “Wanneer ek hier uitstap, wil ek nooit weer iets hoor oor ’n gemaskerde man nie. Verstaan ons mekaar?” vra sy aan die verskrikte drie meisies.

“Ná die kalmeerpille beter julle rus. Môre is nog ’n dag.”

Nadat sy by die deur uit is, draai Mathilda na Katinka.

“Hoekom was ’n man by ons kamerdeur, Katinka?”

Katinka se trane het opgedroog. Sy staar voor haar uit en trek haar skouers op.

“Ek weet nie.”

“Dalk weet jy, maar wil ons nie sê nie,” gee Trudie antwoord.

“Trudie, kan jy nie sien Katinka ly aan skok nie? Have a heart, magtig.”

“My gut vertel my Katinka weet presies hoekom die man hier was,” hou Trudie vol.

“Katinka? Is Trudie reg?”

“Dit was nooit my bedoeling om betrokke te raak nie,” sê Katinka. “Wat anders kon ek doen? Iemand se lewe was op die spel.

“Wat sou jy gedoen het as ek of Mathilda verdwyn en jy het geweet daar is ’n manier om ons te kry? Sê my, Trudie, wat sou jy doen?”

“Ek sou die greintjie verstand wat ek het, gebruik om my bek te hou,” sê Trudie briesend.

“Trudie, dis nie nodig om ’n heks te wees nie. Katinka is alreeds in ’n toestand.”

“Sodra die eerste lig deurbreek, is ek hier uit,” sê Trudie.

“Dit was in elk geval Shantell se eie skuld. Sy moes van beter weet.”

“Wat het jy gesê?” vra Katinka.

“Jy het my gehoor. Meng jou met die semels, dan gebeur die ondenkbare.”

“Ignoreer haar,” sê Mathilda. “Jy kan die res van die aand hier langs my lê. Ek kan sien jy is doodbang.”

Noudat sy doodseker is iemand is op haar spoor, moet sy seker Shantell se neef Dean Cloete nader. Hy het haar immers help opspoor. Hy sal weet wat om te doen.

Dis met nuwe moed wat sy die kombers stywer om haar vou. Mathilda se warm, sagte lyf teen hare laat haar gedagtes dwaal.

Dan skud sy die gedagte af. Sy het nie meer komplikasies in haar lewe nodig nie. Haar hart behoort in elk geval aan Shantell.

  • Lees môre verder
Sê jou sê
Wat gebruik jy om Netflix, Showmax, etc te kyk?
Kies asb. 'n opsie Oeps! 'n Fout het ingesluip. Probeer asb. weer.
Resultate
My selfoon data
12% - 53 stemme
Ek het 'n selfoon-kontrak
1% - 4 stemme
Ek het wifi :-)
51% - 227 stemme
Ons is posh en het fibre!
37% - 164 stemme
Stem
Jongste Son

8 Augustus 2022

Jongste Son
Klik hier om te lees!
Begin lees