Gaste is genooi en Erica bly angstig oor die verlede...

akkreditasie

HAAI, Sonlanders! Praatjies van ’n reünie sit nie lekker met Erica nie. Ná ’n aand van klets en lag oor die past, vergeet sy ’n bietjie van al haar angs. Gaan die verlede opgegrawe word? Gaan daai aand se gebeure hulle kom byt?

Geniet nou die tweede hoofstuk van ESMÉ CUPIDO se verhaal: “Die Weersiens”.

‘MOET ons regtig voortgaan met die reünie, Ivan? Kom ons vergeet daarvan en gaan aan met ons lewens.”

“Ai, Erica. Ons het al hieroor gepraat... en ek dink dis tyd dat ons dit wat daai aand gebeur het, finaal agter ons sit. En wat ’n beter manier as om dit met ’n reünie te doen?”

“Ek wens ek kan so opgewonde soos jy en Cathy oor die hele ding wees. Dis net... dalk is daar vrae... en wat gaan ons dan sê?”

“Dis vyftien jaar terug se goed waaroor jy nou staan en worry. Daar het daai tyd nie vrae opgeduik nie en daar sal ook nie nou vrae wees nie. Ontspan.” Erica sug.

“Miskien is jy reg. Hoe staan sake nou?”

“Ons trek nou by tien mense, met ons ingesluit. Ek dink ons trek die streep hier. Die ander spul was mos nie eintlik deel van ons groep nie.”

“Die laaste een wat ons bygesit het, is Trixie en uhm…” Ivan draai die bladsy om. “Selwin.”

“Moet hy ook kom?”

“Natuurlik, hoekom vra jy nog?” vra Ivan verbaas.

“Miskien wil hy ook nie die verlede opgrawe nie.”

“My vrou, ons gaan nie die verlede opgrawe nie. Dit gaan net een aand van lag, kuier en ‘onthou jy nog?’ wees... Dis al.”

“So, wat nou verder?”

“Nou gee ons die name vir Cathy, sy gaan almal kontak. Ek hoop niemand sal ’n probleem hê met die Swarte Swaan se kos nie. Dis blykbaar ál goeie restaurant op die dorp wat ons groep kan akkommodeer.

“Dis ’n bietjie pricey, maar almal het twee maande tyd om geld te spaar.”

“Ek is bly ons ry sommer direk ná die ete terug huis toe. Ek wil beslis nie langer as wat nodig is op die dorp vertoef nie,” sê Erica stroef.

“Jy kan bly wees Ma verjaar die Sondag, anders het ek voorgestel ons slaap oor en ry die volgende dag terug,” terg Ivan.

“Dan het jy alleen reünie toe gegaan,” sê Erica kwaai. TWEE later kom Cathy vrolik by die deur ingewaai.

“Ek het goeie nuuuus!” borrel sy oor.

“Ek het ’n bietjie gesukkel om madam Justine en Sean in die hande te kry, maar almal is in, behalwe Sean. Hy sê hy werk die naweek.”

“Ek het gehoop almal het ander verpligtinge,” sê Erica suur en maak die deur agter Cathy toe.

“En raai wat?! Dwayne sê hul maatskappy verhuur ’n lekker vakansiehuis langs die Waterkloof-reservaat uit. Hy sê hy kan iemand se arm draai om dit gratis vir ons vir die naweek te kry.”

Erica skud haar kop.

“Nee wat, Cathy. Die reünie is net Saterdagaand. Geen naweek-houery nie. Dis tog waarop ons besluit het.”

“Maar ’n naweek weg klink tog goed, liefiedief. Onthou, ons het hierdie mense vyftien jaar laas gesien. Facebook-foto’s is nie dieselfde nie.”

Dis vyftien jaar te gou dat sy weer op Waterkloof kom, dink Erica later die aand toe sy in die bed klim.

Dit is nie dat sy nie uitsien om weer al haar klasmaats te sien nie.

Hierdie tien mense wat genooi is, het sedert graad agt saam beweeg tot in matriek en hulle het mekaar baie goed geken. Saam gelag, saam gespot, saam benoude oomblikke beleef, soms kwaad geword vir mekaar.

Sy, Ivan en Cathy het op die koshuis gebly, terwyl die res van Waterkloof is.

Maar die dag nadat hulle hul laaste vak geskryf het, kon sy nie gou genoeg uit die dorp padgee nie.

Daai oggend 06:00 het sy in die taxi geklim en nooit weer haar voete op die dorp gesit nie.

Sy skakel die bedlig af en draai op haar sy. Ivan kyk nog sokker, iets wat haar glad nie interesseer nie. In matriek het sy en Ivan van mekaar gehou, maar dis eers vier jaar later toe hulle mekaar by ’n restaurant raakgeloop het dat hulle weer begin gesels het.

Weer moes gesels het.

Sy het hard probeer om daai aand te vergeet. Sy’t in die Kaap werk kom soek en blykbaar het Ivan en toe Cathy dieselfde idee gehad.

Die noodlot het hulle weer saamgevoeg, hier in dieselfde stad. Dis net Selwin wat op Waterkloof agter gebly het.

Maar sy het alle kontak met Waterkloof se inwoners opgeskort, want sy wil nie herinner word aan wat daai aand gebeur het nie.

Nou ná vyftien jaar het die gebeure weer na die oppervlak gespoel. Die angstigheid oor watter implikasie daai aand steeds kan hê, maak haar kortasem.

Sy vee die vogtigheid van haar voorkop af en gooi die duvet van haar af. Haar slaapklere voel ook klam ten spyte van die koue.

Sy staan op om badkamer toe te gaan en stoot die venster wyd oop om haar af te koel.

Die yskoue stroom lug help, en ná ’n ruk maak sy weer die venster toe.

Wat as mense begin vra vrae? Ongemaklike vrae. Want almal het geweet dat hulle vyf die aand saam was.

Sy, Cathy, Ivan, Selwin en Leon. Net hulle weet wat gebeur het en hulle is tot geheimhouding geforseer. Hy gaan vir ons kom as ons durf praat…

’n Week voor die reünie, toe Erica een Saterdagoggend besig is om huis skoon te maak, is daar ’n klop aan die deur.

Ivan is buite besig om in die tuin te woel, so sy maak die besem teen die muur staan om die deur oop maak.

Sy hoop nie dis Teresa van die kerk wat make-up verkoop nie. Haar selfoon lui net toe sy die deur oopmaak.

“Hallo, Erica!” Sy staan versteen, klouend aan die raamwerk van die deur.

Vir ’n oomblik weet sy nie wat om te sê nie.

“Nou toe nou! Selwin.”

Ivan, in ’n groen overall, het om die draai met ’n hark in sy hand kom stap. Hy kom nader en steek sy hand uit.

“Sjoe, dis ’n verrassing!”

In die huis het die selfoon ophou lui.

Steeds staan Erica bewegingloos.

“Ek hoop nie julle gee om nie, met die POPI Act en alles, maar ek het jul adres by Cathy gekry.

“Gedink ek wil by julle ’n draai maak terwyl ek hier in die Kaap is. Ek was so verbaas om te hoor julle twee is toe getroud.”

Hy lag en druk Ivan se hand en draai na Erica toe.

“Hallo, Selwin,” sê sy amper uitasem en gee die man ’n ligte drukkie. “Ja-nee,” sê Ivan gesellig.

“Ek was gelukkig om haar nog ongetroud te vind, mater. Maar kom ons gaan in. Dit lyk asof dit binnekort weer gaan reën.”

Terwyl Ivan en Selwin gesels, verskoon sy haarself om koffie te gaan maak.

Sy tel haar selfoon op en sien daar is ’n boodskap van Cathy af. Haar hart mis ’n slag toe sy na die skerm kyk.

“Selwin is op pad na julle toe. Moenie skrik nie, maar hy sê Leon is terug op Waterkloof.

  • Lees môre verder
Sê jou sê
Wat gebruik jy om Netflix, Showmax, etc te kyk?
Kies asb. 'n opsie Oeps! 'n Fout het ingesluip. Probeer asb. weer.
Resultate
My selfoon data
12% - 67 stemme
Ek het 'n selfoon-kontrak
1% - 5 stemme
Ek het wifi :-)
52% - 298 stemme
Ons is posh en het fibre!
36% - 208 stemme
Stem
Jongste Son

18 Augustus 2022

Jongste Son
Klik hier om te lees!
Begin lees