Fay wil graag aan Shonda bewys sy kán haar vertrou

akkreditasie

HI, SONLANDERS! Sal dié oom dan nou staan en goosebumps kry! Dit blyk of Waanie tog die waarheid gepraat het en daar wel ’n misterieuse vrou in die huis woon. Dié vrou stel haarself aan LuShondarella voor as Fay. Fay Oggenddou. En Fay wil dit laat klink of sy LuShondarella se matriekafskeid wens waar kan laat word. Maar hoeveel waarheid steek hierin? Geniet nou hoofstuk 5 van ELDRIDGE JASON se “Lu­Shondarella”.

FAY Oggenddou is nie besig om grappies te maak nie.

Dít kan LuShondarella sommer sien. Daar is ’n erns aan dié vrou wat LuShondarella laat besef dat Fay elke woord wat sy uiter, self glo.

“Ek het nie geweet ’n mens gee geboorte aan jou drome nie,” sê LuShondarella skepties. “Kraam mens dan nie net babas die wêreld binne nie?”

Fay smile. “Dink jy dan die goed wat jy droom, val uit die lug uit?

“Dit moet tog iewers vandaan kom, so hoekom kon dit nie sy eerste lig diep binne jou wese gevind het nie?

“Liewe Shonda, daar is baie dinge in die lewe waarvan jy nog nie weet nie. Baie dinge sal duideliker word hoe ouer jy raak, ander sal eenvoudig jou hele lewe lank ’n mystery bly.

“Dit is mos maar nou eenmaal hoe die lewe werk. Maar sien is glo, so glo meeste van ons mos maar.

“So wat moet ek doen om jou te oortuig dat wat ek hier met jou praat, die waarheid is?”

“Kan jy op water loop?” tjaaim Waanie weer in. “Ek’t nog altyd gedink om op water te loop is cool.

“Oe, nee wag... kan jy brood maak wat klaar met peanut butter en jam op uit die oond uitkom?”

Fay bars uit van die lag.

“Waanie, jy darem,” sê sy dan gemoedelik. “Wat laat jou dink dat my tweede naam Sasko is?

“Al die antwoorde van die lewe vind nie sy weg na die maag nie.

“Jou honger is nie net iets fisies nie. Jy sal moet begin werk aan jou honger om in die lewe raakgesien te word ook.”

“Maar mense hou hulle dan blind,” antwoord Waanie in ’n kerm-stem.

“Nie almal wat ’n optometrist gaan sien en agterna bril, het die vermoë om meer as net die pad vorentoe te sien nie,” antwoord Fay byna oombliklik en draai dan weer na LuShondarella.

“Wel, as sien glo is, wat is daar wat jy graag sou wou sien?”

“Sneeu.”

Dié woorde is uit voor LuShondarella haarself kan keer.

“Girl, is jy dan dja...”

Waanie sluk die res van sy woorde toe hy Fay se vermanende blik gewaar. “Sorry, antie Fay, but dis dan al klaar so vrekkoud. ’n Mens wat in hierdie yskoue winter wish vir sneeu, is mossie reg in sy kop nie.

“As dit ék was, sou ek gewens het vir die Lotto-wennommers en al my lost lovers om terug na my te kom soelat ek vir almal van hulle sorry not sorry kan sê en dan in my Porsche weg te jaag laat die tyres brand.”

“Maar dis nie jou droom nie,” antwoord Fay in ’n paaiende stemtoon.

LuShondarella wonder waar sy al haar geduld vandaan kry, want as dit sý moes wees wat nou met Waanie moes praat...sy sou sy kop tot by sy adamsappel afgebyt het. Literally, natuurlik.

“En omdat ander mense nie dieselfde drome as jy het nie, beteken dit nie hul drome is minder belangrik nie,” gaan Fay voort.

“Baie is so behep met hulself dat hulle nie besef dat jou droom net ’n masterpiece kan wees as dit ineengevleg word met ander se drome nie.

“Die lewe is immers nie ’n eiland nie. Jy kan nie vleis jou hele lewe lank alleen wil eet en nie worry oor ander wat net tevrede met die sout bokkoms van die lewe moet wees nie.

“Alright’ie then. Sneeu, sê jy?”

Fay maak haar oë toe. LuShondarella merk op dat die vlamme in die kaggel meteens hoër en helderder brand.

Sy hoor ’n song, so asof iemand buite die voordeur sing.

Maar dan besef sy met verwondering dat dit die wind is wat sy hoor waai.

Sy hoor iets teen die sitkamervenster ritsel en kyk daarna. ’n Vreemde tinteling spoel oor haar toe sy na die venster kyk en sien dat dit ’n boomtakkie is wat vir haar waai.

Sy draai na Fay en Waanie om hulle te vra of hulle ook kan sien wat sy sien.

Maar dan val haar mond oop toe sy die vreemde gloed reg rondom Fay gewaar.

Woorde ontbreek om dit te beskryf. Dit lyk, dit lyk... magical.

LuShondarella is half spyt dat sy nie met ’n ander woord kan opkom nie, maar dit is ’n dowwe, goue gloed wat sy nog nooit, ooit in haar lewe gesien het nie.

Sy hoor weer iets teen die venster kap en toe sy daarheen loer, sien sy skarlakenwit donsies wat soos veertjies neer wieg en op die vensterbank te ruste kom.

Dan besef sy met ’n skok dit lyk darem baie soos iets wat sy eendag op ’n YouTube video gesien het: sneeu!

Waanie lag uitbundig en klap sy hande teen mekaar toe hy die sneeu gewaar.

“Naai, één ding, antie Fay, jy kannit doen,” sê Waanie so opgewonde soos die bul wat nie meer in ’n China-shop allow word nie.

Fay maak haar oë oop. Vir die eerste keer kan LuShondarella die kleur daarvan sien: goud, met spikkeltjies bruin daarin.

“Wel, waarvoor wag jy?” vra Fay en smile breed. “Wil jy nie gaan kyk hoe lyk dit buite nie.

LuShondarella staan met bewende kniekoppe van die couch af op. Waanie is kort op haar hakke.

Toe sy die voordeur oopmaak, is die eerste gedagte wat by haar opkom, dat iemand die deep freezer oopgelos het. Dan kyk sy om haar rond en trek haar asem skerp in.

Katjiepieringstraat is wit, spierwit getooi. Sy kan skaars die teerpad sien en daai speed hump van hulle wat al so uitgebleik is, dat al die karre in die lug vlieg as hulle daaroor ry.

Maar dis nie al nie. Op elke ligpaal, sit ’n wit uil, wat hulle koppe ritmies heen-en-weer beweeg.

Waanie hardloop verby haar en duik op sy maag in die sneeu. Hy gly ’n hele ent ver, draai homself dan op sy rug, terwyl hy sy hande en voete op en af beweeg.

LuShondarella buk af en tel ’n hopie sneeu op.

Maar pleks dat die kouete van die sneeu haar vingers moet byt, is dit verbasend warm en sag in die holte van haar hand. Sy draai verbaas na Fay.

“Is sneeu dan nie suppose om koud te wees nie?”

“Alles is in die lewe is wat jy daarvan maak,” antwoord Fay met ’n smile.

“Glo jy my nou? Oortuig hierdie jou dat jy my met jou diepste hartsbegeertes kan vertrou?”

  • Lees Maandag verder
Sê jou sê
Wat gebruik jy om Netflix, Showmax, etc te kyk?
Kies asb. 'n opsie Oeps! 'n Fout het ingesluip. Probeer asb. weer.
Resultate
My selfoon data
12% - 67 stemme
Ek het 'n selfoon-kontrak
1% - 5 stemme
Ek het wifi :-)
51% - 296 stemme
Ons is posh en het fibre!
36% - 208 stemme
Stem
Jongste Son

18 Augustus 2022

Jongste Son
Klik hier om te lees!
Begin lees