Dit voel anders by Fay en Waanie is boonop ’n no-show

akkreditasie

HI, SONLANDERS! Ná die verrassing met die sneeu is LuShondarella oortuig dat Fay Oggenddou haar drome ook kan bewaarheid. Sy moet immers weer later die aand by Fay ’n draai gaan maak. Maar eers moet sy deal met haar pa wat weer drinkgeld by haar loaf, of anders vertel hy haar ma hy het haar en Waanie die vorige nag op straat gewaar. Is dit die regte besluit om Fay te vertrou? Ons sal seker maar moet wag en sien.

Geniet nou hoofstuk 7 van ELDRIDGE JASON se “LuShondarella”.

SO KWART voor 12 se kante staan en wag Lu­Shondarella in die straat op Waanie.

Sy het besluit om hierdie keer nie weer deur haar kamervenster te klouter nie. Smaak dan vir haar sy kry nou nog krampe ná daardie episode.

Sy trippel ongeduldig rond en loer dan weer na haar selfoon om die tyd te check. Waanie is laat.

Eintlik, as sy mooi daaraan dink, het sy hom die hele dag nie met ’n oog gesien nie.

En dis nie hoe sy Waanie of enige van haar straat se tikkoppe ken nie. Gewoonlik is hulle mos all over in ander mense se jaarte.

Maar Waanie was die heeldag skaars. En noudat sy hier staan en wag, wonder sy of hy onthou het van hul afspraak met Fay.

Maar al wat uitsteek, is Waanie en toe dit vyf minute voor middernag is, besluit LuShondarella om maar op eie stoom aanstaltes na Fay se huis te maak.

Sy voel bietjie bangerig. Dit sal maar haar tweede keer by Fay se huis wees en die eerste een waar sy alleen is.

Waanie is die meeste van die tyd ’n onnodige skepsel, maar hy het haar comfort gebied met sy presence. LuShondarella klop op die kop twaalfuur aan Fay se deur.

Sy skrik toe die deur byna onmiddellik oopswaai. Voor haar staan ’n koddige mannetjie wat sy nog nooit in Katjiepieringstraat gewaar het nie. Die man het ’n swart hoed op sy kop, is geklee in bloedrooi pajamas en dra ’n paar goudgeel kapalangs wat duidelik ’n paar sizes te groot is vir sy voete.

“Err... is... is Fay hier?” vra sy versigtig.

Die man kyk haar streng aan.

“Wie wil weet?” vra hy dan kortaf.

“Ek... ek het ’n afspraak met haar,” antwoord LuShondarella steeds verskrik.

“Is jou naam ‘Ek’ of is dit ‘Het” of is dit ‘Afspraak’? Maak op jou mind,” sê die kort mannetjie snipperig.

LuShondarella vererg haar diep vir die ooglopende onbeskoftheid.

“Kykie, midget, jy praat nie met my asof ek ’n stuk ding is nie.

“Is dit nodig om so onbeskof te wees?”

Die man kyk haar uit die hoogte uit aan.

“Met daai attitude gaan jy nie ver in die lewe kom nie, Missy.

“Maar daai is seker maar jou worries daai. Ek is Klaus. Klaus Dopey. En niemand sien vir Fay voor ek nie so sê nie.”

“Ek was nourie aand hier,” kap LuShondarella terug.

“Toe was daar nie ’n probleem nie. Nou Klaus, Klaas, whatever jou naam is, my attitude is soos jy sê, my worries.

“Ek het ’n afspraak met Fay, maar as dit is hoe jy met mense praat, dan gaan ek maar weer.”

Klaus maak sy mond oop om iets te sê, maar dan klink Fay se stem vanuit ’n ander vertrek op.

“Laat sy deurkom, Klaus.”

Klaus sug swaar, duidelik onwillig om aan die versoek gehoor te gee.

“Sy is moeg,” sis hy. “Sy kan nie net elke dag ander se drome waar maak en nie aan haar gesondheid dink nie,” sis hy deur dun lippe.

Voordat LuShondarella kan antwoord, draai hy om en stap vooruit, sonder om haar te vra om hom te volg.

LuShondarella volg hom maar gedwee, maar kan nie anders as om haar te verkyk aan die koddige mannetjie voor haar nie.

Hy lyk soos iets uit ’n sprokiesverhaal, dink sy verwonderd. Soos een van Sneeuwitjie se dwerg...

LuShondarella gaan skielik staan. Was... was een van Sneeuwitjie se dwergies se naam dan nie Dopey nie?

“Halloooo, staan en slaap speel nie saam nie,” ruk Klaus se geïrriteerde stem haar uit haar gedagtes wakker. Sy gluur hom net aan en volg hom dan sonder ’n woord.

Hy lei haar ’n vertrek binne. Dis glad nie die sitkamer waarin sy, Fay en Waanie die vorige aand was nie, merk sy onmiddellik op.

Dié vertrek is karig gemeubileer. Dis koud, sonder die gul warmte van die kaggel in die sitkamer.

Op ’n rusbank sit Fay. LuShondarella skrik toe sy die groot, donker kringe onder Fay se oë sien.

Sy lyk moeg. En oud. Glad nie meer so jeugdig soos die vorige aand nie. Klaus gaan sit ’n ent weg van die couch waarop Fay sit. Hy plak homself neer en gryp dan ’n tydskrif naby hom. Hy lyk so beteuterd soos iemand wat baie lus is om sy speelgoed uit ’n cot te gooi.

“Kom nader, Shonda,” nooi Fay.

“En laat ek maar verskoning vra vir die way hoe ek lyk. Dit was ’n lang dag en ek het nie altyd tyd om na my voorkoms te kyk nie.”

Klaus snork hard deur sy neus en blaai dan verwoed verder deur die tydskrif. Fay loer in sy rigting en skud net haar kop.

“Kom, kom sit. Ek sien jy het vir Klaus ontmoet. Klaus is nie ’n people’s person nie, maar glo dit of nie, hy het ’n hart van goud.”

LuShondarella draai in ongeloof in Klaus se rigting. Sy sukkel baie swaar om te glo dat Klaus enigiets anders as grumpy of onbeskof kan wees. Maar nou ja, wie is sy om te judge?

“Ek is jammer as ek dalk te laat gekom het,” maak LuShondarella verskoning. “Maar ek het gewag vir Waanie en al wat uitkom, is hy. Ek verstaan nie so mooi nie, want Waanie weet dan dat ons weer hiernatoe moes kom.”

“Waanie is besig met ’n takie vir my,” antwoord Fay. Haar stem klink anderkant doodmoeg.

LuShondarella is diep nuuskierig hieroor, maar as sy gedink het Fay gaan uitbrei oor die job wat sy vir Waanie gegee het, dan maak sy haar laat.

“Jou matriekafskeid is om die draai,” sê Fay. “Jy hoef dit nie vir my te explain nie.

“Ek weet dat dit een van jou grootste drome is om daarheen te gaan, maar die geld knyp mos.”

Weereens is LuShondarella verbaas oor hoe Fay nie vrae vra nie, maar die goed wat sy sê, as feite stel.

“Dit is so, ja,” antwoord sy dan. Wat anders kan sy anyway sê?

“Wel, ek het darem goeie nuus vir jou: jy gaan na daardie afskeid.

“Jy is hier vanaand, want Klaus is die een wat jou vir jou groot aand moet uitsort.”

LuShondarella kan nie anders as om die min lus in Klaus se gesig te bespeur nie.

  • Lees môre verder
Sê jou sê
Wat gebruik jy om Netflix, Showmax, etc te kyk?
Kies asb. 'n opsie Oeps! 'n Fout het ingesluip. Probeer asb. weer.
Resultate
My selfoon data
12% - 67 stemme
Ek het 'n selfoon-kontrak
1% - 5 stemme
Ek het wifi :-)
51% - 296 stemme
Ons is posh en het fibre!
36% - 207 stemme
Stem
Jongste Son

18 Augustus 2022

Jongste Son
Klik hier om te lees!
Begin lees