Die reünie begin goed, maar iets is tog aan die broei

akkreditasie
Oom Sonnie
Oom Sonnie

HAAI, Sonlanders! Praatjies van ’n reünie sit nie lekker met Erica nie. Ná ’n aand van klets en lag oor die past, vergeet sy ’n bietjie van al haar angs. Gaan die verlede opgegrawe word? Gaan daai aand se gebeure hulle kom byt?

Geniet nou die derde hoofstuk van ESMÉ CUPIDO se verhaal:  “Die Weersiens”.

Nee! Dan kan daar geen reünie wees as Leon daar is nie. Erica maak oorhaastig die koffie en stap bewend die sitkamer binne. Ivan, haar man, kyk vinnig op en frons voor hy verder praat.

“Ja, kyk, as hulle hom by die span insluit, dan wen ons. Kyk hoe vrot het ons in Saterdag se wedstryd gevaar. Swak man.”

Hy staan op om die skinkbord by Erica te neem. Selwin kyk na Erica.

“Dat ons mekaar vir vyftien jaar nie gesien het nie… ons het mekaar letterlik die aand van…” Hy stop, kyk na Erica se bleek gesig en skud sy kop.

“Ja, maar die lewe gaan aan. Is almal darem nog wel en gesond?” vra Ivan terwyl hy sy beker neem en langs Erica gaan sit.

“Daai nuus los ons vir die reünie.

Die enigste nuus wat ek julle kan vertel is… ek het vir Leon verlede week in die dorp gesien.

“Julle weet seker hy was vir ’n paar jaar in Zimbabwe, maar nou verneem ek dat hy terug is.

“Sy ma, ant Margie . . . Selwin, ek het vir Ivan en Cathy gesê die reünie- storie gaan nie werk nie. ’n Reünie gaan net weer dinge na die voorgrond bring.

“Ek weet nie hoe jy dit kon regkry om steeds op die dorp te bly nie, met alles wat daai aand gebeur het.

“Kyk, Erica, dit was nie maklik nie, veral toe julle almal pad gevat het nie.

“Dit was net ek en . . . ek en Leon wat agtergebly het.

“Die ergste was om ant Margie se hartseer te moes aanskou, te sien hoe sy van haar kop af geraak het.

“Sy’t haar glad gaan vasketting aan ’n sipresboom in die begraafplaas.

“Toe’s hulle met haar weg, Stikland toe. Leon . . .”

Selwin skud sy kop. “Maar ons planne is klaar vas vir volgende naweek.

“Dwayne het vir ons plek vir die naweek in die reservaat gekry, ons kan nie nou kop uit trek nie,” sê Ivan gou.

“Ja nee, ek stem saam. Die feit dat Leon by die huis is, beteken mos niks nie, of gaan julle hom nou ook nooi?” vra Selwin.

“Ek sweer as julle hom nooi, kan julle alleen gaan reünie hou,” sê Erica skerp en staan op om kombuis toe te stap.

Die week het gou verby gevlieg en Erica het traag hulle klere gepak en noodsaaklikhede aangekoop.

Ivan het vir hom ekstra serpe en ’n dik baadjie gekoop, so koulik is hy.

“Dit kan baie koud raak daar, liefiedief, moenie jou musse en warm sokkies vergeet nie.”

Die Donderdag voor hulle vertrek, word hulle hond, Tekkies, siekerig en Erica se pleidooi dat sy eerder by Tekkies moet bly, is gou in die kiem gesmoor.

Ivan het die hond na die veearts geneem en die volgende oggend het hulle ’n uitgelate en gesonde Tekkies by Ivan se ma afgelaai, vir Cathy gaan optel en hulle het die langpad Waterkloof toe aangedurf.

Die reservaat is 25 kilometer buite die dorp. Selfs ’n bedrukte Erica helder op toe sy die digte plantegroei, struike en bome sien.

’n Klipperige paadjie kronkel teen ’n pas af en weggesteek agter ’n plaat dennebome in die kloof, staan ’n manjifieke tweeverdiepinghuis wat behang is met pers bougainvilleas.

Voor die huis en in die oprit staan daar reeds vyf motors geparkeer en rook borrel by die skoorsteen uit.

“Sjoe, ek het vergeet hoe mooi die wêreld is,” sê Ivan toe hy uitklim en rondom hom kyk.

Die voordeur gaan oop en twee mans en ’n vrou kom glimlaggend uitgestap.

“Ivan! Mensig, maar dis lekker om jou weer te sien. En kyk die mooie Erica en Cathy!

“Welkom, ons wag net vir julle dat die sports kan begin!”

Ivan stap nader.

“Julle lyk dan nog presies soos julle gelyk het toe julle agttien was! Hallo Davies en Dwayne!”

“Hy wil nie meer Davies wees nie, dis nou Abra-ham,” sê Dwayne spottend.

“Ek is mos nou ’n man, nie meer ’n jellierige . . . uhm uhm-”

“En ons los die gesprek maar daar,” onderbreek Ivan hom laggend.

Erica bondel ’n paar goedjies bymekaar en volg Cathy wat ook uitklim.

“Hallo julle! Wonderlik om julle weer te sien.”

“Hallo Trixie, kyk hoe pragtig pas die kort haarstyl by jou!”

Hulle stap al gesels-gesels na binne waar die res in ekstase groet en lag.

Toe almal later met warm drinkgoed voor die kaggel sit, word ou herinneringe weer opgebring.

“Onthou julle die keer in standerd nege toe mister Titus vir ons in die klas toegesluit het?”

“Ja, hy’t ons mos agtergehou vir detensie, want iemand het sy pakkie sigarette weggesteek.”

“Dit was Selwin wat sy entjies gesteel het.”

“Ja, maar toe moet die hele klas gestraf word. Julle het nie reg met die ouman gemaak nie.

Die paar haartjies rondom sy bles het daai dag ekstra wild gestaan,” sê Betsie.

“Maar toe vergeet die ou van ons in die klas. As dit nie vir oom Klasie, die opsigter was wat ons rumoer gehoor het nie, het ons seker die hele nag daar gesit.”

“En ou Dronka . . . meneer De Haas?’ Wie’t dan sy flas met sy ‘koffie’ in gesteel daai dag? Was dit julle, Ivan?

“Jy, Selwin en Davies . . . agge Abra-ham was soos die drie musketiers gewees, altyd in die moeilikheid,” sê Cathy en skud haar kop.

“Ha a, ons pleit onskuldig. Dit was Leon gewees.

“Ons het net lekker saam afgekoel met daai ‘koffie’ in ou Cloete se klas. Die ou was daai dag afwesig, hy’t mos altyd baie afwesig gebly, toe staan sy klas oop. Nou ja . . .”

“Maar Betsie, vertel gou vir ons hoekom jy daai dag vir Dwayne so met die klippe gejaag het? Shame man, arme Dwayne moes daai dag vir sy lewe hardloop!”

“Nee, hy’t mos sand op my perm gegooi toe die skool uitkom. Gedink hy’s snaaks.

“En ek het dan net die vorige dag my hare gewas en ingedraai. Weet julle hoe’t ek gesukkel om daai sand uit my hare te kry.”

“Jy kan mos nie dit aan ’n girl doen nie, Dwayne.

“Jy weet dan ons hare is ons kroon, dis ons alles. En Betsie het mos iemand gesmaak daai tyd. Wie was dit nou weer?” vra Cathy.

“Ou Leon van alle mense. Watter aantrekkingskrag het hy dan op jou gehad, Betsie?” vra Trixie laggend.

“Leon was cool daai tyd. Ek het hom hoeka Dinsdag daar by sy ma se huis sien staan.

“Die ou lyk verwaarloos, ek het gedink dis ’n bergie wat daar op die stoep staan en rook.”

“Ja, hy’s terug. Hoekom het julle hom nie invite nie? Hy was dan altyd deel van ons pack gewees, Ivan?”

“Jaaa . . .”

“Maar wat presies het dan dáái aand gebeur, julle? Die aand met klein Mossie se dood?”

  • Lees môre verder
Sê jou sê
Wat gebruik jy om Netflix, Showmax, etc te kyk?
Kies asb. 'n opsie Oeps! 'n Fout het ingesluip. Probeer asb. weer.
Resultate
My selfoon data
12% - 53 stemme
Ek het 'n selfoon-kontrak
1% - 4 stemme
Ek het wifi :-)
51% - 227 stemme
Ons is posh en het fibre!
37% - 164 stemme
Stem
Jongste Son

8 Augustus 2022

Jongste Son
Klik hier om te lees!
Begin lees