Die job is gedoen en die trio wil nou net huiswaarts

akkreditasie

HAAI, Sonlanders! Die drie vroue wat so van tik likes, besef nou dat dit glad nie meer so lekker is nie. Abigail, die vrou van die tik-mert Chucky, koop die trio se skuld by haar man oor.

En op haar beurt gee Abigail opdrag aan die drie om vir die dwelm-kingpin Jo’burg te gaan werk. Hier kom hulle agter dat daar ’n moeilike taak op hulle wag: Hulle moet ’n baba steel vir ’n skatryk kinderlose egpaar.

En as hulle dit nie doen nie, is nie net hul eie lewe, maar ook dié van hulel loved ones op die spel. Geniet nou hoofstuk 3 van JOHN PIETERSEN se Die Laksman: Kinderdiewe.

BY VANESSA se huis huil die drie tikkoppe snot en trane.

“Hoe het ons in hierdie twak beland?” vra Boney-M snikkend.

“Ek wil nie meer tik nie. Issie tik se skuld!” huil-skree Vanessa.

“Ek gaan vir Abby vrek maak. Dis haar nommer dié!’ huil Lollie.

Toe almal ná ’n ruk uitgehuil is, sê Lollie: “Ons sal hierdeur kom.

“Ons het mos al drugs verkoop, oppie pad gewerk, mense gerob en seer gemaak, en gesteel in die winkels.

“Ons het deur ál daai dinge gekom, en ons het dit gemaak.

“So, ek glo ons sal ook hierdeur kom.

“Plus, dis nie die eerste keer dat ons ’n kind sal steel nie.”

Vyf jaar vantevore het die trio die kind van iemand op die plaas gesteel en vir Nessa se niggie in Vredendal gevat wat nie kinders kon kry nie.

Toe verwerp die vrou se man die kind en later vir haar ook.

Dit was die einde van die vrou se huwelik.

’n Ander keer weer het ’n swanger skoolmeisie gesê sy wil nie die kind hê nie. Sy wil nog skool klaarmaak én college toe gaan.

Toe die baba drie weke oud was, het hulle gedink hulle doen haar ’n guns om die kleintjie te steel.

Toe pleeg die mammie selfmoord van verlange na haar baba.

Hulle kan die job doen, maar is ook bewus van die pynlike nagevolge van ma en kind skei.

DIE next dag gaan betaal Lollie vir Abby terwyl die ander twee op die hoek van die straat wag.

Die girls het pruike en make-up op om hulle onherkenbaar te maak. Dan kies hulle koers skiem toe en soek en vra na “Laat op Straat”.

Die ding ruk omtrent oppie yard en die skiem se yard-katte dans laat die stof so staan.

Carmen “Konyntjie” is nog nie daar nie en hulle koop solank twee biere en skud hulle biscuits terwyl hulle wag.

Omtrent so elfuur kom Carmen met die baba ingestap en begin onmiddellik by die mense aanklop vir ’n sigaret.

Die girls herken haar onmiddellik en kyk senuagtig na mekaar.

“Ek sal praat,” bied Lollie aan. “Hou net vir julle kalm.”

Konyntjie kom loaf-loaf aangestap na hulle kant toe, met ’n regte “kry-my-jammer-gesiggie”.

Lollie gee haar ’n skyf van haar sigaret.

“Drink jy ’n bier?” vra Lollie, terwyl sy vir Carmen ’n glas vol bier skink.

“Bier maak my siek, my skat.

“Ek drink net vaalwyn. Doctor’s orders,” antwoord Konyntjie skamerig.

Die girls besluit om vir Konyntjie haar gunstelingdop en ’n glas te koop.

Konyntjie is heel happy en begin sommer dans.

Ná ’n paar doppe en biere raak Lollie en Carmen sommer gou tjommies.

Hulle gee hulle lywe omtrent ’n lekker tyd op die dansbaan terwyl Vanessa en Monie baby-sitting doen.

Teen die namiddag koop hulle ’n parcel vis en chips om te eet en Lollie vra vir Carmen: “Carmen, is dit oukei as ons vanaand by jou oorslaap, asseblief?

“Ons manne het nie uitgekom nie en ons bly eintlik innie Plain. Ons sal kos koop en vir jou iets gee vir jou moeite.”

“Anytime, my skat,” sê Carmen dadelik.

Die girls sorg dat hulle Carmen op die smokkelhuis hou tot laat toe. Hulle wil nie hê Carmen se bure moet hulle sien nie.

Hulle neem ook extra wyn saam vir Carmen.

By die huis speel Lollie met die babatjie totdat sy aan die slaap raak op haar bors.

Carmen skink wyn en dans en sing, maar wil net nie aan die tiep raak nie.

Sy het so te sê al ’n volle kan wyn alleen gedrink vir die dag.

Die girls rook skelmpies ’n tik-pyp in die kamer sonder dat Carmen iets agterkom.

Carmen sit die musiek harder en vat elkeen om die beurt vir ’n dans.

Sy’s omtrent in ’n party mood en drink sonder om eens te eet.

Die drie is al gatvol soos wat hulle ook moet luister na Carmen wat heel vals die een ná die ander Judy Boucher song sing.

Maar slaap vang ons almal, of jy nou wil of nie. En iewers diep in die nag klok Carmen finally uit en gaan tiep.

Die volgende oggend vieruur stop daar ’n Uber voor Carmen se deur.

Vanessa stap stilletjies en vinnig in die donkerte na die kar toe en klim in.

Sy beveel die driver om te wag vir haar twee tjommies, kyk op en af in die pad en toe dit lyk of alles oukei is, wink sy vir die ander twee.

Lollie kom ook vinnig aangestap met die slapende baba en klim in die kar.

Monie maak die huis se deur saggies toe en maak asof sy die deur sluit. Dan stap sy met lang treë kar toe.

In die kar gee hulle die driver die directions Worcester toe.

Die driver kies koers na die R300 via Silversands, sodat hy op die N1 kan kom.

Die baba slaap rustig en Lollie hou sommer daai bottel gedokterde water in haar mond.

Ná omtrent twee uur is hulle by die winkel voor die plaas waar hulle wil wees.

“You can drop us here, thank you,” sê Lollie aan die driver.

Hulle betaal en klim uit.

Terwyl die ander twee girls op die winkelstoep sit en rook, bel Vanessa vir Tracey en binne tien minute stop daar ’n wit Golfie met ’n vet vrou agter die stuurwiel.

Die trio klim in. Lollie sit met die baby langs haar.

“Ooh, maar sy’s te pragtig!” koer die vrou.

“Miss Tracey het my weer aan’t babysitting vir die next drie maande, dan breek my hart weer wanneer ons moet afskeid neem. Wat’s haar naam?” vra sy vir Lollie.

“Bianca,” antwoord Lollie.

“Ek noem haar sommer Bienkie,” sê die vrou.

Dan draai sy na Lollie en sê: “Ek neem aan dat julle soos gewoonlik haastig is en nie nog saam plaas toe kom nie?”

Lollie knik. “Gaan drop ons net by die stasie, asseblief.

“Ons wil sommer die trein terug Kaap toe vat, want dis cheaper.”

  • Lees Vrydag verder
Sê jou sê
Moet die salaries van Eskom-werkers gesny word oor load-shedding?
Kies asb. 'n opsie Oeps! 'n Fout het ingesluip. Probeer asb. weer.
Resultate
Hulle moenie betaal word nie
47% - 75 stemme
Haai nee, shame - hulle het families
16% - 26 stemme
Eskom se push
26% - 41 stemme
Gee my krag, elke dag
9% - 14 stemme
Wat is load-shedding?
2% - 3 stemme
Stem
Jongste Son

30 Junie 2022

Jongste Son
Klik hier om te lees!
Begin lees