Die drie vroue se sondes haal hulle sommer lelik in

akkreditasie
Oom Sonnie
Oom Sonnie
~

HAAI, Sonlanders! Die drie vroue slaag daarin om Carmen se kind te gaps en reis na Worcester waar hulle die baby los. Dan, baie opgemaak met hulself, vertrek hulle per trein terug Kaap toe. Geniet nou die slothoofstuk van JOHN PIETERSEN se Die Laksman: Kinderdiewe.

DIE drie beraam planne oor wat hulle met hul geld gaan maak.

Klere koop, nuwe selfoon, hul kinders uitsort... die hele lot.

Vanessa raak op ’n kol aan die slaap en skrik dan met ’n gil wakker. Haar tjommies is heel verskrik en bekommerd oor haar.

“ ’n Man...’n man het my aangeraak en gesê ek moet my slegte weë laat staan,” vertel Vanessa angstig.

Die ander twee trek hul skouers op, vas oortuig daarvan dan hul vriendin maar net tokkies gevang het.

Intussen ontvang Die Laksman van Kaapstad ’n oproep vanaf sy Meester en word oor die ontvoering van die babadogtertjie ingelig.

“Ons intel dui daarop die drie vroue is nog in die Bellville-area nadat hulle per trein gereis het. Ek stuur die identikits deur aan jou,” sê Meester.

Toe die oproep beëindig word, ry Die Laksman met ’n spoed in Bellville se rigting.

Binne vyf minute is hy op die brug wat uitkyk op die Bellville- taxi-rank en bespied die area.

Hy bespeur die drie vroue en zoom in op hulle.

Soos die girls onder die brug oor die treinspore stap, kom daar ’n ligte warrelwind met papiere en plastiek-afval van voor.

Dit beweeg baie stadig in hul rigting en net voor dit die Strand-/Muldersvlei-spoorlyn bereik, stop die wind en papiere en plastieksakke lê verstrooid voor hulle rond.

“O-oh, dis spooktyd,” sê Boney-M verspot.

Maar net toe hulle op die spoorlyn kom, is dit asof almal se voete vassit aan die treinspoor!

“O Here, help my,”skree Vanessa met haar oë gerig na bo.

Maar al probeer hulle hoe hard, hulle kan nét nie beweeg nie.

Dis asof hul voete op die spoorlyn vasgeglue is. Die Laksman verskyn soos ’n nagspook op dagdiens agter hulle. Hy het die beeld van ’n man, maar is onsigbaar, ’n silhoeët. ’n Mens kan wel die buitelyne van sy postuur sien, maar die liggaam en kop is onsigbaar.

Hy bestudeer hulle en die beskrywing van die kinderdiewe stem 100% ooreen met dié trio.

“En waar is die baba? Wat het julle met die kind gemaak?” vra Die Laksman met ’n donderweer-stem.

Hulle kyk om en sien niemand nie.

Die Laksman kom staan reg voor hulle en maak homself aan hulle bekend. Hy is ’n massief – 1,8 meter lank, fris gebou en lyk soos ’n donkergrys skaduwee met bloedrooi oë.

“Ons het niemand se kind gesteel nie, ons is self ma’s van kinders,” sê Lollie, wat maar hoeka baie hou van lieg.

“Praat, of ek hou julle hier tot ’n trein verbykom,” dreig Die Laksman. Hy val nie vir Lollie se liegstories nie.

Dis Vanessa wat nie meer al die drama kan vat nie en besluit om bos te los.

Sy begin deur te vertel hoe hulle deur die tik-merts, Chucky en Abby, uitgelewer is aan Die Sindikaat om hul tikskuld af te betaal.

Sy vertel hoe hulle daai vrou in Kleinvlei dronk gemaak het, die kind gesteel en Worcester toe geneem het. Sy bevestig almal betrokke se name, adresse, alles!

Die Laksman kyk Vanessa ondersoekend aan.

Dan aktiveer Die Laksman sy “Oog van Onderskeid en Oordeelkundigheid” en ’n infrarooi lens scan die drietal van onder na bo, terwyl dit hul harte en emosies lees.

Ná ’n paar sekondes volg die uitsprake: Larney Kok: Boos en manipulerend, toon geen berou. Kans op rehabilitasie 20%. Uitspraak: Skuldig!

Monie Ontong: Boos en vol leuens, toon geen berou. Kans op rehabilitasie 23%. Uitspraak: Skuldig!

Vanessa Peters: “Was eers boos, maar haar hart is skoon en sy toon berou. Kans op rehabilitasie 87,5%. Uitspraak: Kwalifiseer vir kwytskelding. Onskuldig!”

Dan praat Die Laksman kliphard: “Vanessa Peters, Ontvang jou verlossing.”

Die Laksman verlos sy greep op Vanessa totaal. Dit voel vir haar asof haar voete en lyf los gemaak is van onsigbare kettings.

Haar liggaam voel ligter en dis asof sy nuwe kragte ontvang het van Bo.

Sy hardloop sonder om om te kyk pad se kant toe!

Sy besef nie eens haar pruik en brille het afgeval nie.

Die Laksman gaan staan in die middel van die spoorlyn.

Met sy elektriese krag verlam hy die diewe tot bokant die heupe vir ’n volle minuut.

“Larney Kok en Monie Ontong, ek vind julle skuldig aan ontvoering, kinderdiefstal, dwelmmisbruik, dwelmhandel en mensehandel.

“Ek vonnis julle twee tot die dood.

“Dood per trein!”

Larney en Monie gil, maar dit is asof niemand hul angsgille kan hoor nie.

Op die platforms staan mense rond en scroll rond op hul selfone asof daar nie ’n saak in die wêreld is nie.

Toe gewaar die twee die trein wat met ’n stinkspoed op hulle afpyl.

“Ons sal verander, ek sal verander,” pleit Monie.

“Asseblief, meneer, asseblief!”

“Jy het al meer as genoeg kanse in die lewe gehad. Albei van julle,” bulder Die Laksman.

“Jul uurglas het leeggeloop. Ek sal die baba gaan haal, Die Sindikaat verwoes en seker maak dat daar minder slegtes soos julle in die Kaap ronddwaal. Koebaai!”

Larney en Monie kyk met wyd oopgesperde oë hoe die trein op hulle afpyl. Kan die man hulle dan nie sien nie? wonder albei.

Dan, as die trein hulle tref, tref dit hulle amper soos in die movies waar hulle kan sien hoe hul ledemate aan flarde geruk word.

Dan sak ’n pikdonkerte op albei neer...VANESSA gaan die volgende dag na die huiswinkel om die draai van haar huis af. Sy wou ’n paar Panado’s kry vir die kopseer wat haar net nie wil los nie.

Haar oog vang die voorblad en opskrif van ’n gewilde poniekoerant: “TREIN TRAP TWEE”.

Sy koop die koerant en stap met ’n bonsende hart huis toe.

Met skok en ’n mond wat oophang, lees sy die berig en besef dat dit haar twee tjommies is wat so wreed aan hul einde gekom het. Sy maak die koerant toe, val op haar knieë en begin bid.

“Help my, o Here, dat ek op die nou paadjie bly en nooit weer paaie kruis met Die Laksman nie. Amen.”

  • Slot
Sê jou sê
Moet die salaries van Eskom-werkers gesny word oor load-shedding?
Kies asb. 'n opsie Oeps! 'n Fout het ingesluip. Probeer asb. weer.
Resultate
Hulle moenie betaal word nie
47% - 76 stemme
Haai nee, shame - hulle het families
16% - 26 stemme
Eskom se push
25% - 41 stemme
Gee my krag, elke dag
9% - 14 stemme
Wat is load-shedding?
2% - 4 stemme
Stem
Jongste Son

30 Junie 2022

Jongste Son
Klik hier om te lees!
Begin lees