Daar wag vir die groep ’n surprise ná hulle staptog

akkreditasie

HAAI, Sonlanders! Praatjies van ’n reünie sit nie lekker met Erica nie. Ná ’n aand van klets en lag oor die past, vergeet sy al haar angs ’n bietjie. Gaan die verlede opgegrawe word? Gaan daai aand se gebeure hulle kom byt?

Geniet nou die vierde hoofstuk van ESMÉ CUPIDO se verhaal “Die Weersiens”.

‘WIL julle nog iets drink?” vra Cathy en staan vinnig op en begin bekers bymekaar maak.

“ Kom, Erica en die ander dames, kom ons gaan was gou die paar goedjies op en dan moet ons nog besluit oor die etes.”

“Julle kan sommer vir my part ook besluit. Ek gaan die mans geselskap hou,” sê Justine terwyl sy haar teen Dwayne aanvly.

Sy dra ’n mini-skirt en lang, swart boots, en kruis haar lang bene sodat die mans vinnig wegkyk.

“Hier is nie merrims nie, hô. Elkeen moet sy of haar deel doen,” sê Bettie kwaai.

“Ek kan mos nie my nuwe wolbaadjie met skottelgoedwater bemors nie. Ek moes my bediende saamgebring het,” sê Justine.

“Ga! Bediende nogal. Dis van uitsoek en vir jou high hou dat jy... laat ek liewer my mond hou.”

“En wat sê julle van ons president? Ek voorsien ’n moeilike paadjie vir hom,” sê Ivan vinnig.

Die gesprek draai gou na die wel en weë van die president en ander landsake.

Erica volg Cathy die kombuis in, terwyl die ander traag opstaan.

Cathy plak die bekers in die wasbak neer en draai om, hand in die sy.

“Wee’ jy. Niks verander nie.”

“Ag, Justine is Justine. Moenie jou aan haar steur nie,” sê Erica. “Bekommer jou eerder oor die vrae wat —”

“Sjuut! beduie Cathy. “Ek stel voor ons stel ’n lys op wie vir watter etes en skoonmaak verantwoordelik is en daai merrim daar binne moet haar deel doen,” sê Bettie ferm en sit nog bekers in die warm water.

“Maar ons is genoeg dames. Los maar vir Justine,” sê Trixie. “ Buitendien staan hier ’n skottelgoedwasmasjien en onthou, die mans gaan môreaand vir ons braai, dan is dit klaar een ete minder.”

“Kyk, ons is vanaand uitgesort.

“Trixie het vir ons lekker sop en vars gebakte brood saamgebring. Môre ’n lekker vinnige ontbyt, want ons gaan ná ontbyt die staproete doen, as die weer hou,” sê Cathy.

“Oukei, maar Justine moet help sorg dat die plek netjies bly. Nogal bediende saambring. Kan jy nou meer?” sê Betsie en skud haar kop.

“Maar sy was nog altyd so. Haar neus opgetrek vir my skryfboeke, maar het altyd my huiswerk afgeskryf,” sê Trixie.

“Ja, maar, Trixie, jou boeke was altyd vol kolle. Koffiekolle en vetkolle,” sê Betsie. “En dan het jou broertjie gedurig karretjies en mannetjies met groot koppe in jou skryfboeke geteken.”

“En kyk waar sy nou is. Finansiële bestuurder, nogal,” sê Cathy trots. “Ek stem saam met Trixie. Ons wil hê die naweek moet sonder rusie verloop. So, kom ons los Justine af,” sê Erica.DIE volgende oggend toe Erica in die kombuis kom, is Betsie en Cathy reeds besig met ontbyt.

“Die weer lyk perfek. Ek het ’n kaart van die roete wat ons gaan stap — hier en daar moeilik, maar meestal ’n maklike roete,” laat Dwayne hoor.

“Ons eindpunt is die waterval, dan draai ons weer terug.”

“Ek wil net nie oor berge en dale stap nie. Ek wil ook nie sand en bossies onder my naels hê nie.

“My naels is gister gemanicure,” sê Justine.

“Ag, genade. Gaan ons nou heel naweek na jou mani’s en pedi’s moet luister? Het jy niks anders om te sê nie?” vra Betsie opgewerk.

“Ek is nie julle wat nie oor julle voorkoms omgee nie. Kyk hoe lyk jy, Betsie. Vyf kinders wys duidelik aan jou figuur.”

“Maar my! Hou my vas voor ek —”

“Toe nou, julle.” Ivan stoot sy stoel agteruit. “Ons kry mekaar oor ’n halfuur buite.”

Erica help om gou die vuil breekgoed in die skottelgoedmasjien te sit voordat sy ’n dik wolserp gaan kry om haar warm te hou. Dis ysig buite en die mans staan laggend en gesels, rugsakke gepak.

“Ons hoef seker nie te sluit nie, nè?” sêvra Cathy. “Justine,” roep sy. “Trek die deur toe as jy uitkom.”

Tien minute later stap hulle teen ’n gemaklike pas op die klipperige wandelpad, met Dwayne vooraan. Die staproete neem hulle verby kranse en rotse met geurige fynbos bedek, plek-plek moet hulle op of af teen rotse klouter of van rots tot rots spring.

Dis eers toe hulle ná meer as ’n uur se stap uitgeput by die waterval kom dat hulle rus. Die waterval en die uitsig oor die kloof is asemrowend.

“Ek sal my huis net hier bou as ek die Lotto wen,” sê Betsie.

“Dis net arm mense wat Lotto speel,” sê Justine.

“En as dit nie vir jou oorlede man was nie, het jy ook nou kaalgat gesit,” sê Betsie kwaad.

“Tyd om terug te stap!” sê Dwayne gou voordat gemoedere verder versuur. Die terugtog is makliker, maar hulle kom kapoet by die huis aan. “En nou ’n lekker warm stort en later kan ons manne die vuur solank aansteek,” sê Ivan toe hy die voordeur oopmaak. Hy en Erica kom geskok in die sitkamer tot stilstand. Op die vloer hurk ’n man en pak hout in die kaggel. Dis eers toe hy rustig omdraai dat hulle hom herken. “Sean Louwrens! Joh, dis ’n verrassing!”

“Dingetjie … ek bedoel Sean! My genade, waar val jy uit?” vra Cathy verras toe sy agter Erica instap.

Sean staan op en kom glimlaggend nader. “Dagsê, julle! Ek het gedog ek verras julle met ’n vuurtjie wanneer julle terugkom.”

Erica, en sy kan sien Cathy ook, kyk verstom na die man wat eens so tingerig was en nou ’n breedgeskouerde man geword het.

Hy lyk aantreklik in sy polisie-uniform.

“O, dis jy, Sean. Ek sien nie jou kar hier buite nie; hoe’t jy tot hier gekom?” vra Davies.

“Ek het sommer met die polisiemotor gekom. Dit staan agter die huis, om julle te verras. Ek is mos aan diens, maar ek het vir ’n paar uur weggeglip.

“Mense, dis kaptein Louwrens wat voor julle staan,” sê Betsie in haar skik. “Sean, het jy nie huismoles wat jy moet opbreek nie? Dis mos al wat in Waterkloof gebeur, en dronkies wat julle teen die pad oplaai.

“Julle’t mos nie werk vir julle hande nie,” sê Justine snipperig.

“Ag, Justine. Een van die huismoleste wat die polisie al moes opbreek, was tussen jou en jou oorle man, Bertie, of het jy vergeet?” vra Betsie.

“Justine, alles is darem nou rustig op Waterkloof, daarom kon ek wegglip,” sê Sean rustig.

“Well, well, well. Lekke’ reunion sonner my, hè?”

Almal draai om. In die deur staan ’n bebaarde man, sy grys hare hang in wanordelike toutjies teen sy gesig af. Sy grys baadjie en jeans hang slordig aan hom. “Leon?”

“Die einste. Julle het nogal ’n fine cheek om ammal te invite, maar die lekke’ ekke kry niks invite nie. Ma’ moet’ie worry nie, ou Leon is nou hier om die ou boring reunion op te spice.”

  • Lees môre verder
Sê jou sê
Wat gebruik jy om Netflix, Showmax, etc te kyk?
Kies asb. 'n opsie Oeps! 'n Fout het ingesluip. Probeer asb. weer.
Resultate
My selfoon data
12% - 53 stemme
Ek het 'n selfoon-kontrak
1% - 4 stemme
Ek het wifi :-)
51% - 227 stemme
Ons is posh en het fibre!
37% - 164 stemme
Stem
Jongste Son

8 Augustus 2022

Jongste Son
Klik hier om te lees!
Begin lees