Chucky het dit in vir sy klante en sy mert stuur ’n girl

akkreditasie

HAAI, Sonlanders!

­Ons begin vandag met ’n splinternuwe verhaal.

Die Laksman: Kinderdiewe is John Pietersen se jongste pennevrug. Geniet die eerste hoofstuk!

CHARLES “Chucky” Donson is buite homself van woede. Hy kan sy woorde nie vir homself hou nie!

Hy is ’n tik-mert en het reeds ’n shipment dwelms bestel, maar die bedrag wat hy daarvoor moet betaal, is nog nie voldoende nie.

Drie vroulike customers — Larney “Lollie” Kok, Monie “Boney M” Ontong en Vanessa “Nessa” Peters — het nog nie hulle skuld betaal nie.

“As ek daai tik-vreters kry, maak ek hulle vrek!’ skree Chucky.

Die girls is al van laas week af missing in action. Hulle skuld Chucky R1 500 vir tik en Mandrax.

“Moenie worry nie, ons gaan jou kom betaal sodra die AllPay in is,” het al drie mooi beloof.

Dit pla hom wat hy gaan sê vir Jo’burg, by wie hy altyd sy drugs koop en vir wie hy die geld skuld.

Soos wat hy nou voel, is hy nie lus vir slange vang nie, maar om ’n hit op daai girls te sit.

Jo’burg control nou die mark in Eer­ste­rivier. Almal suspect hom natuurlik vir die huurmoorde op sy rivals, maar die meeste mense is te bang om te praat.

Jo’burg is ’n hardcore criminal van Eldo’s in Johannesburg.

Volgens gerugte maak hy sélf sy vyande en kompetisie in die stilte dood en huur “wanna-be gangsters” om vir die sake te staan. Hy betaal dan glo korrupte polisie-lede om die dockets te laat verdwyn.

Niemand het nog ooit vir Jo’burg gesien smile nie en sy oë staan doodstil in sy kop. Al waarin hy belang stel, is geld en mag.

Hy is lig van kleur, lank op die been en atleties gebou. Hy het twee dik swastika-tatoes aan weerskante van sy nek, ’n grafsteen met die woorde “You’re next!” op sy linkerbors en ’n skeleton met “uit-pop-oë” aan die galg op sy regterbors. Hy’s die toonbeeld van evil, ’n regte psigopaat!

Chucky is nou al amper tien jaar uit die gevangenis en het kom sag raak. Hy wil nie weer tronk toe gaan nie en doen alles in sy vermoë om nie by hofsake betrokke te raak nie. Hy het ook vyf jaar gelede getrou en met ’n gesin begin. Hoewel Chucky self ’n generaal is, is hy vrekbang vir Jo’burg.

“Ek sal vir jou die geld kry,” bied sy vrou, Abigail, aan.

“In ruil vir ’n guns.”

Abigail Donson het al lank haar mes in vir Vanessa Peters, een van die skuldenaars.

Hulle het saam skoolgegaan en Abby was smoorverlief op Reo de Nero, die sokkerspan se aantrek­like kaptein. Maar toe kies Reo vir Vanessa. En van daai tyd af haat sy Vanessa soos gif!

“Abby, waar gaan jy R1 500 hierdie tyd van die maand kry?” vra Chucky agterdogtig.

“My niggie, Jenniway, die hairdresser van Rosy Hills, skuld my nog R1 000. Ek dink nie sy sal ’n probleem het om die res van die geld vir my te leen nie. Haar besigheid doen hoeka nou so goed,” verduidelik sy.

“En die guns?” vra hy nuuskierig.

“Baie eenvoudig: Daai drie tik-monsters betaal dan vir my. En as hulle nie kan betaal nie, dan moet hulle wérk vir die skuld. Jy het definitief te sag kom raak vir daai ex-mooi tik-koppies.”

“Deal,” sê Chucky, sonder om twee keer oor die saak te dink.

Abby is heel in haar skik met haar “transaksie”. Sy weet daai girls is nie in staat om die geld aan haar terug te betaal nie.

DIE volgende dag kom daar ’n jong meisie van so 15 jaar oud met ’n rugsak ongemerk in Chucky se huis in.

Sy is lig van kleur en het bruin oë. Haar ligbruin hare is netjies in ’n bolla vasgemaak. Sy het ’n denimrokkie met ’n kort toppie en ’n paar pumps aan.

Chucky kom uit die kamer aangestap en rek hom gapend uit. Hy skrik hom boeglam om die vreemde kind in die huis te sien.

“Hey, wat soek djy in my huis? Wie’s djy?” skree hy op haar.

“Julle tikkoppe moet daar agter in die bungalow gaan tjoef!”

Die meisiekind kyk hom skeef aan met ’n diep frons.

“Jo’burgh het my gestuur!” druk sy die naam luidkeels uit.

Chucky se oë rek net met die aanhoor van sy mert se naam. Sy valstande val sommer uit sy mond.

“O, okay, thorry my darling. “Jammer vir daai, my thkat,” maak hy sleeptong verskoning terwyl hy bewend sy tande terug sit in sy papmond.

Stacey, wat al van kleins af betrokke is by dwelm-smokkelary, besluit om af te koel en sy laat sak haar pangas.

“Kan ek vir jou Coke gooi?” probeer Chucky haar guns wen.

“Niks vir my nie, dankie. Ek’s hier vir besigheid,” antwoord sy heel sarkasties, baie bewus daarvan dat sy Chucky nou uit sy geloof laat skrik het.

Bliksem, hierdie kind is darem ernstig. Sy’s nes haar baas, dink Chucky by homself

“Okay, ek gaan gou die hekke toesluit. Sit maar solank.”

Toe hy terugkeer, is die tafel mooi skoongemaak en die dwelms is netjies in ’n ry gepak.

Stacey verduidelik: “Okay, hier is jou 100 gram tik en 200 Mandrax-pille. Hierdie is jou free samples heroine, cocaine en crack- cocaine ...”

Sy beduie met haar hand na elke pakkie.

“Jo’burg sê jy moet die samples toets en as jy belang stel, moet jy order. Vyftig persent afslag op die eerste shipment.

“Ons verskaf nét die beste kwaliteit in die Wes-Kaap. Enige vrae?”

Chucky se kop draai van ál die syfers en verduidelikings.

En die kind het té vinnig gepraat na sy sin. Maar hy wil nie dom lyk nie en sê met ’n aangeplakte smile: “Nee, niks nie. Dit klink of alles orrait is.”

“Okay, nou waar’s my geld?” vra Stacey vinnig.

Chucky druk sy hand onder die tafel in en bring ’n vrag R100-note te voorskyn.

“Tel dit,” beveel Stacey hom in ’n stemtoon wat hom glad nie aanstaan nie. Vandag se kinders het f*kkol respek, dink hy vies.

Chucky hou nie van hierdie kind se grootmens-maniere nie, maar hy’t nie ’n keuse nie en begin die geld stadig tel.

Hy wil nie foute maak met Jo’burg se geld nie. Toe hy klaar is, druk Stacey die geld in haar rugsak en haal haar selfoon uit.

Sy druk nommer 6 op speed-dial en sê: “Die wet van Transvaal sê djy moet my nóú kom haal.”

Sonder om te groet, stap sy die huis uit. ’n Tjoepstil Chucky volg haar gedwee.

Binne ’n minuut stop daar ’n pikswart BMW met getinte ruite en ’n netjies geklede boef klim agter uit en maak die voorste deur vir Stacey oop.

Die boef hou Chucky stip dop, terwyl Stacey links voor inklim.

Chucky bid dat die kar net moet ry, want sy maag werk al klaar van al die stres ...

  • Lees môre verder
Sê jou sê
Moet die salaries van Eskom-werkers gesny word oor load-shedding?
Kies asb. 'n opsie Oeps! 'n Fout het ingesluip. Probeer asb. weer.
Resultate
Hulle moenie betaal word nie
48% - 76 stemme
Haai nee, shame - hulle het families
16% - 26 stemme
Eskom se push
26% - 41 stemme
Gee my krag, elke dag
9% - 14 stemme
Wat is load-shedding?
2% - 3 stemme
Stem
Jongste Son

30 Junie 2022

Jongste Son
Klik hier om te lees!
Begin lees