Arme Anna se pay-dag draai niks lekker uit

akkreditasie

HAAI, Sonlanders! Niemand likes verniet werk nie. Veral nie as ’n werkgewer jou uitbuit om maar net sy eie sakke te vul nie. Dís die penarie waarin Anna en haar kollegas sit. Heelmaand het hulle hard gewerk, maar pay-dag het gekom en gegaan sonder dat hulle vergoed is. Maar in die meantime eet evangelis Johnny en Rosemary, sy team leader, hulle dik agter geslote deure. Die werkers moan en aan die voorpunt is Waanie, die tikkop wat dreig om die evangelis se hele call centre-besigheid af te brand as hulle nie gepay word nie. Geniet nou hoofstuk 6 van ELDRIDGE JASON se Anna Johanna Stoffelina en So Aantes...

DAAR is nie ’n ander nommer nie, hy sal die mense moet betaal. Dít besef evangelis Johnny baie goed.

Maar mense wat mos dink hulle het ’n bietjie geld, is dikwels geneig om te dink hulle is ’n bietjie slim ook.

Pleks van sy werkers net betaal, besluit evangelis Johnny om slim te trek. Hy gluur Waanie uitdagend aan.

“Brand my plek af, dan kan djy maa vi djou ’n pôitjee Vaseline ga koep vi djou Pollsmoor outing,” sê die kerkman baie vermakerig.

“Hierie isse respectable business en djy kannie hie law en order kô speelie.”

Waanie gee ’n skalkse laggie. Daai laggie wat ’n tikkop gee as ’n idee teen ’n duisend kilometer per sekonde deur hul mind vlieg.

“Dink djy ek maak jokes?” vra hy dan. “Lyk ek vi djou soes Trewwa Noah offe ding? Djy gat nou sien.”

Waanie draai net daar om en stap die gebou uit. Anna besef groot moeilikheid is aan die kom.

Sy het al die rumours gehoor dat Waanie met die Ugly Boys uithang. Hul community se enige gangsters.

Dié ouens het sy al van ’n distance af gesien. Hulle is nie net lelik met al die spyker-tjappies in hul gesigte nie, hulle het glo werklikwaar ook die ugliest van maniere. Sy maak hard haar keel skoon.

“Evangelist, hierie goete is mossie nôrag’ie. Hoekô pay djy nettie vi o’sie?

“Niemand speel mettie Ugly Boys nie. Daai ouens is lillik vi’by, sonne jokes.”

’n Groot groepie beaam haar woorde.

“Issoe,” laat Imelda ook van haar hoor. “Ek het een van hulle gedate. My kind se pa is ’n Ugly Boy.

“Hy’s soe gevaa’lik die mense byrie maintenance court willie ees my non-support papers process’ie.

“Ek het gehoo dat hulle laaswiek oek soe vir Lange van antie Mary-hulle geslattit dat Lange nou te disabled virre Sassa grant is.”

Evangelis Johnny se oë rek groot. Almal kan sien die kerkman is nie lus om eendag mank en met ’n hoppetie-hop rol-stappie deur die poorte van die hemel te loop nie.

Net daar besluit evangelis Johnny indoen is nie die main ding nie. Hy wink Rosemary nader, fluister iets in haar oor en Rosemary stap haastig weg.

Dis nog nie vyf minute later nie, toe gaan daar SMS’e op almal se selfone af.

Anna loer ook na haar selfoon en smile van oor tot oor toe sy haar bank notification sien.

Waanie kom ook by die deur ingestorm met sy selfoon wat hy triomfantelik omhoog hou. Anna besef op daai oomblik dat Waanie die hele tyd buite gestaan het en glad nie manskappe gaan opkommandeer het soos wat hy gedreig het nie.

Daar heers eensklaps ’n gemoedeliker atmosfeer in die gebou. Hier en daar skimp mense van Nando’s. Een of twee laat sigbaar verlig hoor dat hulle boeke weer oop is by die smokkie.

Niemand complain toe evangelis Johnny hulle aanjaag om weer te begin werk nie.

Vir die res van die dag werk Anna se mind soos ’n calculator soos wat sy al klaar haar salaris in haar mind spend.

Sy het gehoor hoe praat van haar kollegas van nuwe Redbat-toppies en tekkies koop, maar dit is die laaste ding op haar mind.

Haar ma skimp al heelweek hul water is agterstallig en van hoe duurder die verhoogde petrolprys alles kom staan en maak het.

Toe sy later die middag uitklok, gaan sy eers by die ATM om.

Haar ma se oë skiet vol trane toe Anna by die huis kom en die opgevoude rolletjie note in haar hand druk.

“Koep tog vi Mammie ’n tjoklit oek,” sê Anna en stap na haar kamer toe.

Sy kan nie anders as om te smile toe sy hoor hoe haar ma vir “Hy kô innie môre” kliphard innie kombuis sing nie.

Maar in haar slaapkamer gekom, stol die smile op haar gesig toe sy haar broer op haar bed sien sit.

“Keenan, hal djou blerrie voete van my duvet af,” sê sy deur stywe lippe. “En wat soek djy hie? Djy wiet mos hierie is my private space. Ek gat nou vir Mammie-”

“Djy gat net f*kk*l virrie taanie sê nie,” val Keenan haar kras in die rede. “Nie as djy wiet wat goed is vi djounie.

“En besides, o’s het mos gepay...issitie soenie?

“Djy het nou virrie outaanie net mee gel gegie om meerdere peanut butter te koep om op my brood te smee. Ek voel al soese Black Cat, wiet djy daai?”

“Mense wattie wêkie, kannie uitsoekrag wiesie,” laat Anna snipperig van haar hoor.

Sy is skytbang vir dié tronkvoël-broer van haar, maar het oor die jare geleer vrees is nie iets wat jy soos fake news op Facebook kan share nie.

Keenan lig homself van haar bed af op. Daar is ’n wrede trek in sy oë.

“Djy moetie my bôs kô warm maakie,” sê hy inne dreigende stemtoon.

Binne ’n paar hale is hy by haar en gryp haar rugsakkie. Anna voel magteloos en probeer moedig haar sak terugkry, maar Keenan stoot haar dat sy hard op haar bed val en haar kop teen die muur stamp.

Met minagting krap hy deur haar sak en bring ’n hopie geldnote te voorskyn. Die geld wat sy getrek het om haarself bietjie mee te spoil.

Hy tel drie R100-note uit en smyt dit in haar rigting.

“Dè,” spoeg hy die woorde uit. “Koep vi djou ’n Bibo en ’n paar pakkies Snaks.

“Die res vat ek vi tax. As djy nie wil hê ek moet djou in djou tjops maakie, sal djy my van nou af moet betaal.”

Hy smyt haar rugsak eenkant toe en stap haar kamer uit. Vol nuwe krag om weer ’n comeback by sy gunsteling-mert se jaart te maak. Anna druk haar gesig in haar kussing en bars in trane uit.

Hele maand! Hele maand het sy gewerk en dít vir haar luisgat- broer wat nie wil uitkruip en vir hom ’n werk gaan soek nie?

Sy snuif hard, droog haar trane af en sit dan regop op haar bed.

As Keenan gedink het sy gaan ’n maand-tot-maand pushover wees, dan maak hy hom laat.

Keenan ken nog min jokes. Hy mors met die verkeerde een. Sy gaan hom ’n les leer wat hy nooit gaan vergeet nie...

  • Lees môre verder
Sê jou sê
Moet die salaries van Eskom-werkers gesny word oor load-shedding?
Kies asb. 'n opsie Oeps! 'n Fout het ingesluip. Probeer asb. weer.
Resultate
Hulle moenie betaal word nie
47% - 76 stemme
Haai nee, shame - hulle het families
16% - 26 stemme
Eskom se push
25% - 41 stemme
Gee my krag, elke dag
9% - 14 stemme
Wat is load-shedding?
2% - 4 stemme
Stem
Jongste Son

30 Junie 2022

Jongste Son
Klik hier om te lees!
Begin lees