Anna vertel haar ma als en dié kom tot haar redding

akkreditasie

HAAI, Sonlanders! Anna is geskok toe sy by ’n eetplek sien hoe cosy evangelis Johnny en haar broer, Keenan, dan saamkuier. Die twee is min gespin toe sy hulle sê dat almal gaan hoor oor hulle uitbuitery van mense. Maar min weet hulle dat sy wat Anna is, eers ’n video recording van hulle kuliery gemaak het voordat sy hulle confront het. Geniet nou die slothoofstuk van ELDRIDGE JASON se Anna Johanna Stoffelina en So Aantes...

DIE heel eerste ding wat Anna doen nadat sy by die eetplek uitgestorm het, is om huis toe te gaan.

Hier speel sy vir die eerste keer oop kaarte met haar ma oor al die abuse wat sy van Keenan moes verduur. Haar ma se mond hang oop van verbasing.

“Hoekô het djy mynie al lankal vitellie?” vra haar ma geskok.

“My kind, djy lat my nou baie sleg voel. Die Jirre gat my mos nooit vigiewe as ek hierie dinge lat aangattie. Ek promise djou nou: Nie late as vidag moen Keenan sy goet vat en trek.

“Of sy van nou Ferreira is ofte not, trek gat hy trek.”

Dit voel vir Anna kompleet of daar ’n berg van haar skouers gerol het. Verligting spoel soos ’n varswaterrivier oor haar.

Hoekom het sy nie al lankal haar ma in haar vertroue geneem nie?

Righto, een down, another groot vuil uil to go. Sy gaan na haar kamer en maak die deur toe. Nadat sy seker gemaak het dat sy genoeg data het, vat sy die video wat sy vroeër van evangelis Johnny en Keenan record het, en laai dit op Facebook met die cap­tion: Kyk hoe lekke kappie kêkbroe dit yt.

Die video is skaars gelaai, toe is dit al amper 50 keer gekyk en hordes kere geshare.

Anna is stom van verbasing en kan net haar kop in ongeloof skud. Sy besef al hoe meer dat social media ’n space is waar mense nie uithang nie, maar actually woon.

Daar is mense wat niks anders as sosiale media in hulle lewe het nie. Dis hoekom sy hulle sommer social media-boere noem. Die “b” in “boere” kan natuurlik ook met ’n “h” vervang word.

Sy gaan maak vir haar koffie in die kombuis en terwyl die ketel kook, check sy weer haar foon waarop die een ná die ander notification afgaan. Haar oë rek toe sy sien dat meer as duisend mense haar video binne ’n halfuur gekyk het. Dis ook al ’n paar honderd keer geshare en daar is byna vyfhonderd comments.

Sy is op die punt om die comments te begin lees, toe sy ’n commotion by hulle voordeur hoor. Haar ma se stem kan ’n mens wáár hoor. Sy stap vinnig daarheen, haar koffiemaak-planne vergete.

By die voordeur gekom, skrik sy toe sy evangelis Johnny en Keenan gewaar. Die evangelis swaai sy arms wild rond, selfoon in die een hand. Keenan staan eenkant, kop in die grond.

“Wyk, Satan!” gil haar ma.

“As djy vidag wil sien hoe trek ek my bekee’re baaitjee uit, da moet djy verde met my kô staan en môs.”

Dit lyk of evangelis Johnny beserk wil raak toe hy Anna gewaar.

“Daasie tief!” gil hy. “Djy gat sien,” dreig die kerkman. “Ken djy vi my? Wiet djy wie ek is? Ek gaat djou destroy, djou tie—”

Dit voel vir Anna of die volgende gebeure in slow motion voor haar afspeel. Maar tog gebeur dinge so vinnig. Sy sien net haar ma se arm beweeg. Dan sien sy hoe haar ma se vuis koennek met evangelis Johnny se kakebeen. Sy wat Anna is hoor ’n sagte kraakgeluid, dan sien sy hoe die evangelis deur die lug vlieg.

As evangelis Johnny nou vlerke gehad het, dan was hy wraggies in ’n Red Bull-advertensie, dink Anna. Haar ma skud haar hande af. “Hie bly nie tiewe nie,” skel sy. “Ek bel nou die poliese. So, djy biete maak lat djy wegkô.”

Dan draai sy na Keenan. “En djy ... djý ... Djy moen oekie my bôs kô staa warm maakie. Djy trap nou. Nie wanne nie, nóú!”

“Maa, Mammie,” probeer Keenan walgooi. “Waa’natoe moen—”

“Mammie se gat,” val sy ma hom kwaai in die rede.

“Moenie nou kô engeltjie speelie. Smaak djy wee vi tronk vriete vriet, ha? Djy moen net sê. Hierie kee sit ek self djou gat vi djou innie tronk. Try my.”

Evangelis Johnny het intussen opgestaan, hom met die een hand begin afstof, terwyl hy met sy ander hand sy kinnebak vashou. Die pyn sit vlak in sy oë.

“Siste,” probeer hy deur geswelde lippe praat.

“Siste se gat,” val die antie hom egter kwaad in die rede.

“Ek is klaa gepraat. Ek gie djulle ten secôns, da bel ek die poliese. Ten, nine, onety-eleven, seventeen ...”

Evangelis Johnny en Keenan skarrel om weg te kom. Hulle is so in ’n state van panic dat hulle nie eens agterkom hoe sy gruwelik verkeerd tel nie.

Toe hulle uit sig verdwyn, bars Anna uit van die lag.

“Mammie gattie hiemel toe nie. Ek kan daai sien.”

Haar ma gee ’n halwe glimlaggie.

“Die hiemel is oekie vi ammalie, my kind.

“En mind you, wie wil oek nou hiemel toe gaat en daa gekô, da sit daa rubbish soes evangelist Johnny met blinkgevriete bekke.”

Anna kan nie onthou of sy al ooit haar ma so vurig en opgewerk gesien het nie. Maar sy kla nie – veral nie as dit in haar guns werk nie.

“En djy gat wêkie mee vi daai skeleme evangelissie,” tier haar ma voort.

“Ekkit klaa vi djou ’n anne job in mind. Ene waa djy nie ge-exploit gat wôdtie.

“Jinne, my bloed koek nou soe ... ek sal sieke maa moet gaat bely voo ek onne sin’suu geplace wôdt.”

Haar ma draai om en stap die huis binne.

Anna bly alleen agter en gloei behoorlik van joy.

Sy weet nie watter nuwe werk dit is wat haar ma vir haar in gedagte het nie, maar dis ’n ander dag se worries daai.

“En as djy soe staanin smile?”

Sy kyk op en gewaar haar vriend Terence by die voorhekkie staan.

“Ek moes nou gou daa byrie skoolhek gat staanit vi free data,” sê Terence.

“But ek moes vi djou kô sê dit gan geroek op daai boek sonne blaaie, ’m ... Facebook.

“Daa koman nou vi djou files uit van evangelist Johnny.

“Die mense is djas vi hom en moan oo’ gêl wat hy al lankal vi hulle skuld.

“Daa wôdt danou gepraat van sake maak en wat-wat.”

Anna smile.

“Naai, een ding, girl, djy hêrrit,” sê Terence.

Die bewondering glinter skaamteloos in sy oë.

“Hoe kry dyrit reg om soes Supergirl te is?”

Weer lag Anna.

“Ag, yous know, soes Rosemary sil sê.

“Dit vat manet ’n brein, ’n desire om niemand se slaansak te wies, en dan móét djou naam oek Anna wies en soe aantes, yous know.”

  • Slot
Sê jou sê
Moet die salaries van Eskom-werkers gesny word oor load-shedding?
Kies asb. 'n opsie Oeps! 'n Fout het ingesluip. Probeer asb. weer.
Resultate
Hulle moenie betaal word nie
47% - 75 stemme
Haai nee, shame - hulle het families
16% - 26 stemme
Eskom se push
26% - 41 stemme
Gee my krag, elke dag
9% - 14 stemme
Wat is load-shedding?
2% - 3 stemme
Stem
Jongste Son

30 Junie 2022

Jongste Son
Klik hier om te lees!
Begin lees