Anna is impressed met wat sy sien, maar ook skepties

akkreditasie

HAAI, Sonlanders! Anna Baatjies en talle ander jongmense daag die volgende oggend by Evangelis Johnny se call centre op. Sy herken talle van hulle en wonder of die sondes wat hulle in die verlede gepleeg of steeds mee doenig is, hulle suksesvolle kandidate vir die job gaan maak. Geniet nou hoofstuk 4 van ELDRIDGE JASON se Anna Johanna Stoffelina en So Aantes...

NES Anna verwag het, is die dag toe niks anders as ’n sirkus nie.

Op die kop 08:00 swaai die gebou se deure oop.

Evangelis Johnny staan daar uitgevat in sy kerkpak en soos iemand wat daar is om aan te kondig dat vandag Krismis is. Nadat hy gesê het hy gaan nie lank praat nie, lewer die godsman ’n speech van byna ’n halfuur lank, een wat meestal gaan oor homself – al die tekkies wat hy al in sy leeftyd kon bekostig en hoe hy ’n sukses van die call centre gaan maak.

Maar toe sê hy iets wat Anna uit haar staan-en-slaap laat ontdooi: hulle sal training moet ondergaan. Opleiding wat die evangelis self aan hulle gaan gee.

Evangelis Johnny vra kort hierna of daar enige vrae is, maar voor iemand hierop kan reageer, jaag hy almal na binne.

Anna moet erken dat sy beïndruk is toe sy binne die gebou kom en die rye en rye cubicles sien. By elke cubicle is ’n rekenaarskerm, sleutelbord en ’n headset.

Evangelis Johnny draai in sy noppies na die groep.

“Ek gloe in on the job training,” sê hy vol bravade. Djy, mannetjie...”

Hy wys na Waanie wat hom verskrik aangaap.

“Kô sit hiesa en dan kom pretend djy djy bel my met ’n wonnelikke life policy offe.”

Alle oë is nou op Waanie, wie baie nervous lyk en baie hard sluk aan die knop in sy keel.

Anna ken Waanie en sy senuagtigheid. Hulle was saam in ’n klas op skool en as dit by mondeling gekom het, het Waanie altyd ’n nul gevat. Van kan hakkel as hy nervous raak.

“E-e-kke?” begin Waanie moes toe hoeka met sy Huckleberry Finn gedagtes.

“Natielik praat ek met djou,” antwoord Evangelis Johnny iewat geïrriteerd. “Wat mean djy dan ek kyk skiel en dat ek actually na iemand gekyk het wat buite innie straat staan?”

Niemand lag vir die Evangelis se joke nie. Almal is te bang dat as hulle ’n geluid maak, die godsman hulle vir sy marketing eksperiment gaan kies.

Tree vir tree stap Waanie vorentoe en gaan sit dan in die een cubicle op die kantoorstoel.

“Trieng, trieng,” sê evangelis Johnny en hou sy een hand amper soos ’n telefoongehoorstuk teen sy oor.

Waanie gaap hom net dom, verstom aan.

“Tríéng, tríéng,” herhaal Evangelis Johnny. Hierdie keer met meer mening. Waanie vang uiteindelik wat die godsman van hom verlang. Met bewende hande tel hy die headpiece op en sit dit met ’n groot gesukkel oor sy kop. ’n Voorbarige girl spring vorentoe en help hom om die mikrofoon gedeelte reg voor sy mond te monteer.

“Oukei, kô os try weer,” sê Evangelis Johnny. “Trieng, trieng.”

“W-w-wies daaso?” vra Waanie in ’n dun, skril stemmetjie.

“Good day, Sir,” antwoord Evangelis Johnny in smart, fênsie Engels wat die groep jongmense skoons verbaas.

“Can you please help me with my application for a life policy?”

“Die poeliesse? Die poeliesse?” vra Waanie. “Nie, menee. wrong number. Hoeko try menee nie vi ten-triple-one goetis nie? Moenie airtime kô môssie. Koebaai!”

Die groep bars uit van die lag. Anna lag so dat die trane langs haar wange afstroom. Yor, Waanie is mos diep vi’sin, dink sy.

Evangelis Johnny gooi sy hande in die lug. “Met soe ’n volk, sou Moses nie ytie woestyn gekô hettie,” skel hy.

Tot Anna en die res se verbasing, tree Rosemary na vore, vat die headset wat ’n steeds verskrikte Waanie op die lessenaar geplak het, en sit dit op haar kop.

“Good day, Sir. It is Rosemary speaking. How may I assist you?”

Evangelis Johnny se gesig helder op. Hy raak so opgewonde dat hy sommer weer wil staan en ‘trieng-trieng’ sê, maar slaag betyds daarin om sy pose te behou.

“Good day, young lady. Yes, thank you. I just want to know about your life policies.”

Rosemary is in haar element. Mens kan sommer sien sy likes dit om in die limelight te wees, dink Anna vies. Sy kan nie anders as om half jaloers te voel op Rosemary se Engels nie. Plek-plek praat sy ’n tipe Mitchells Plain se krom you-know-mos Engels, maar Evangelis Johnny is so opgewonde soos iemand wat die hek na die Koninkryk ontdek het. Net daar, op die spot, besluit die kerkman sommer dat Rosemary hom gaan help om die anders op te lei.

“Djy moet wiet van die proeduk wat os vikoep,” sê Evangelis Johnny en draai na Waanie.

“ ’n Proeduk issie iets wat djy moet proe nie, but iets wat djy moet vikoep. Die triek is om mense te convince dat hulle iets moet koep wat hulle nie necessarily me’kee nie. Djy vi’staan?”

Waanie knik ’n hele paar keer sy kop, maar Anna kan sien dat Waanie nie weet of ’n vis sit of staan nie.

Hulle word op die spot in groepe ingedeel wie training by óf Evangelis Johnny óf Rosemary gaan ontvang. Net daar word Rosemary sommer deur Evangelis Johnny tot team leader bevorder.

Iemand agter haar brom van ‘witvoet’ en ‘gatlekker’, maar Anna kan nie mooi uitfigure wie dit is wat so sê nie.

Vir nou is sy net dankbaar dat sy in Rosemary se groep ingedeel is, en nie by Evangelis Johnny en sy hands-on training gedagtes nie.

Dis beslis nie Waanie se dag nie, dink sy toe sy sien dat hy by die kerkman se groep ingedeel is. Waanie se oë mik-mik deur se kant toe. Sy onderste lip bly bewe. Sy wat Anna is, kan nie uitmaak of dit van vrees is en of Waanie nie meer lus is om produkte van die dood aan mense te verkoop wat nog lewe nie.

En so gaan dit die heeldag aan. Rosemary wat vol selfvertroue hulle wysmaak tydens mock-calls oor hoe om met kliënte te deal.

Hulle kry kort breaks, maar ook net vir die rokers om vinnig hul longe vol te maak. Anna voel die hongerpyne knaag, maar sy is te skaam om die lelike pienk kosblik uit haar sak te haal. Sy besluit haar honger sal maar nou aan ’n hongerstaking gewoond moet raak.

Net voor tjaila-tyd, klap Evangelis Johnny se hande om hul aandag te kry.

“Reg, reg, mense. Ek dink o’s is ready om môre te go en Do or Die Funeral Solutions se policy te bemark.”

Anna wonder vir ’n oomblik of sy die evangelis reg verstaan het. Hoerre hel gaan sy ’n produk met só ’n naam verkoop kry?

  • Lees môre verder
Sê jou sê
Moet die salaries van Eskom-werkers gesny word oor load-shedding?
Kies asb. 'n opsie Oeps! 'n Fout het ingesluip. Probeer asb. weer.
Resultate
Hulle moenie betaal word nie
47% - 75 stemme
Haai nee, shame - hulle het families
16% - 26 stemme
Eskom se push
26% - 41 stemme
Gee my krag, elke dag
9% - 14 stemme
Wat is load-shedding?
2% - 3 stemme
Stem
Jongste Son

30 Junie 2022

Jongste Son
Klik hier om te lees!
Begin lees