Anna het sommer min lus vir werk of haar kollegas

akkreditasie

HAAI, Sonlanders! Anna Baatjies is min lus om by Evangelis Johnny se call centre te gaan werk. Veral nadat ’n tjommie van haar, Terence, gesê het dat dié kerkman nie vertrou kan word nie. Maar Anna het nie veel van ’n keuse nie. Nie met ’n ma wat nie vir haar verskonings gaan val nie. Geniet nou hoofstuk 3 van ELDRIDGE JASON se Anna Johanna Stoffelina en So Aantes...

DIT is ’n baie beteuterde Anna wat die volgende oggend voor die spieël staan.

Beteuterd is nog eintlik sagkens gestel. Sy voel asof sy ’n jas kan aantrek en al wat ’n giftige slang is kaalhande kan vang.

Sy is min lus om vir evangelis Johnny en sy call centre te gaan werk. Terence se woorde van gister spook by haar en sy weet voor haar siel dat sy dié job diep gaan berou.

Almal in die dorp weet evangelis Johnny is g’n weldoener nie, maar wel ’n indoener.

Die lidmate van sy kerk samel al vir jare geld in om ’n kerk vir hulle te bou. Daar is nog geen sien van dié beloofde kerkgebou nie, maar elke Krismis ry evangelis Johnny met ’n splinternuwe SUV. Elke keer moet sy gemeentelede net hoor dat hy deur iemand gebless is.

Dié “iemand” het net nooit ’n naam en kom nie na vore nie.

Sy sug swaar en check vir ’n laaste keer haar hare. Haar krulle wil maar net nie gaan platlê nie, maar dis ’n battle vir ’n ander dag.

Vir nou beter sy sorg dat sy uit die huis uit kom voordat haar ma weer die een ná die ander tantrum gooi.

Waar haar pa is, weet sy nie. Dié is al vroegoggend uit die huis nadat haar ma hom die vorige aand met die strykyster gebrand het. Toe sy in die kombuis kom, staan ’n bakkie Oats en wag vir haar op die tafel. Natuurlik alwéér verbrand, lei sy af van hoe die reuk daarvan haar neusgate kielie. Langs dit staan ’n koppie stomende koffie en ’n pak Cremora wat duidelik vanoggend oopgemaak is.

Maar wat haar die meeste interesseer, is die liederlike pienk kosblik wat ook daar staan. Toe sy opkyk, sien sy dat haar ma haar heel in haar skik dophou.

“Ek het vi djou brood ingesit, net soes djy daa’van likes met ’n klompie kaas op. Djy ka mossie op djou eeste wêksdag honge lynie,” sak haar ma af.

Anna is verbaas. Haar ma spoil haar byna nooit. Elke oggend moet sy hoor die kos op die stoof, die brood of die kaas in die yskas, is nie vir loafers nie. En nou word sy, nog voordat sy al gepay het, só op die hande gedra?

“Err... dankie, Mammie,” brom sy. Sy vat ’n groot sluk van haar koffie, maar moet dit vinnig neersit toe haar mond verbrand.

“Starag nou,” maan haar ma. “Djy kannie met djou eeste wêksdag al met winte-lippe byrie wêk aankô nie.

“Haai jinne, Antjie, djy wietie hoe proud voel ek nounie. Ek mean maa, hie het djy oek nou ’n djob. Issie Jirre nie goetie?”

Anna moet haar met moeite inhou om nie deur haar neus te snork nie.

Sy haat dit mos as haar ma haar “Antjie” noem en wat is so wonderlik aan hierdie job?

’n Mens sal sweer sy het die Lotto gewen die way hoe haar ma kan aangaan.

Haar ma gloei kompleet soos iemand wat deur die Heilige Gees bevrug is. Voordat sy nog verder kan uitpak van hoe trots sy op haar is, begin Anna die Oats met ’n haas afsluk. Sy gaan sit die leë bakkie en koppie in die sink neer, brom ’n koebaai en is al op pad om te waai toe haar ma haar aan die pienk kosblik herinner.

Haastig draai sy om, prop dit in haar rugsakkie en is woeps uit by die voordeur voordat haar ma nog met ander dinge kan kom.

Soos sy verstaan, is evangelis Johnny se nuwe call centre in die main road, nie ver van hul huis af nie. Seker so 15 minute se stap.

Sy is met mening aan lang treë gee toe sy iemand agter haar hoor roep. Toe sy omkyk, is dit die bure se dogter, Rosemary Julies. Die een wat so likes verkeerde Engels praat en wat ook al so amper in evangelis Johnny se kloue beland het.

“Waantoe gaat djy na?” vra Anna verbaas.

“Are you also on your way to the call centre them?” vra Rosemary uitasem toe sy by Anna kom.

Anna knik bot. Ná haar ma se verbrande Oats en bitter koffie, is dit nog te vroeg in die môre vir haar gestel vir call centre them- goeters.

“Ek dink dan djy’s diep bang vi evangelis Johnny en sy los gulp. Of het djyra vigiet wat hy laas getry het?”

Rosemary raak bloedrooi in haar gesig.

“No, I did remember what he tried to do the last time,” sê sy saggies. “But everybaady deserves a second chance and remember I also make kids big. I must uhm... sorg... you know.

“I must uhm... ja, look after them because why their dads don’t give them a packet of Dimes. And I don’t smaak to wash nappies with the hand in winter, you know.”

Anna kyk haar net aan en skud haar kop.

“ ’n Stywer panty-rek sou much bietere gewerk het,” sê sy dan.

“How do you mean then now?” vra Rosemary confused.

“Is oukei,” antwoord Anna en sug swaar. “Is min wattit vistaan. But ek kan nou al vi djou sê dat ’n slang ’n slang bly.

“Evangelis Johnny isse creepy slang met ’n kriewelragge slang in sy broek oek nog.”

Rosemary trek net haar skouers op. Die twee stap in stilte verder.

In die main road gekom, wonder Anna vir ’n laaste keer of sy nie maar moet omdraai nie. Dit het ook al deur haar mind gegaan om ’n paar hoesies te gee en dan te sê sy voel nie lekker nie.

Maar sy ken haar ma. Dié gaan nie val vir haar hoesie-symptoms nie. Haar ma sal haar net één kyk gee en terug call centre toe jaag. Daar is nie ’n ander nommer nie.

Dis klaar wat dit so is: sy werk van vandag af vir evangelis Johnny.

Van ’n hele ent af al sien sy ’n groep mense by die ingang van ’n gebou saamdrom en toe hulle by die groep kom, merk sy met ’n smile op dat dit die who’s who van k*k-aanvangers is wat aangemeld het by evangelis Johnny se nuwe call centre.

Sy herken vir Waanie, wie se ma hoog en laag sweer hy rook net okkapyp, maar wat ’n tikkop van formaat is.

Jarred is ook daar met sy spikey hare. Hy glo mos vas hy is God’s everyday Valentine’s gift to women.

Sy het gehoor hy het al vyf kinders waarvan hy nie vir een sorg nie. Sy verskoning bly net pal dat die paternity test gewys het hy is nie die pa van die kind nie.

En dan is daar nog Imelda wat haar so sturvy wil hou, maar wat laas die Sondagskool se basaar-geld gesteel het.

Ja-nee, dink Anna. Die universe is regtig daarop uit om haar van nou af te straf. Wat het sy dan nou gesondig om met hierdie clowns te werk?

  • Lees môre verder
Sê jou sê
Moet die salaries van Eskom-werkers gesny word oor load-shedding?
Kies asb. 'n opsie Oeps! 'n Fout het ingesluip. Probeer asb. weer.
Resultate
Hulle moenie betaal word nie
47% - 76 stemme
Haai nee, shame - hulle het families
16% - 26 stemme
Eskom se push
25% - 41 stemme
Gee my krag, elke dag
9% - 14 stemme
Wat is load-shedding?
2% - 4 stemme
Stem
Jongste Son

30 Junie 2022

Jongste Son
Klik hier om te lees!
Begin lees