Al die aliens gaan ná Lucien se blink water-plan werk

akkreditasie

HAAI, Sonlanders. Juan Lieber verduidelik aan Lucien dat hy ’n virus in die alien-tuig se hoofrekenaar wil gaan plant om hulle almal te vernietig. Lucien besef dat as hulle dit sou regkry, dan loop die reddingspanne die gevaar om vergruis te word as die dorp na hulle dimensie terugkeer. Die brigadier in bevel is egter skepties. Lucien-hulle verdwyn nietemin voor sy oë deur ’n portal. Nou is hulle in die ander dimensie en twee bloeddorstige aliens storm op hulle af. Lees nou verder aan hoofstuk 5 van die spanningsvolle sci-fi verhaal van SALMON SMITH wat hy “Die Atlantis Phenomenon” noem.

LAM van skok staar hulle na die gedrogte wat op hulle afgejaag kom. Dit lyk soos ’n kruising tussen ’n renoster en ’n seekoei. Dit het drie massiewe horings op die neus en die lelike bek is oopgesper. Hulle lywe is oortrek met dik pantserskubbe en hulle ses pote storm donderend oor die aarde aan.

Maar dis die twee snaakse mensagtige wesens wat bo-op sit wat Lucien amuseer. Hulle velle is deurskynend en hulle organe is duidelik sigbaar. Op die lyf is ’n okkerneut-vormige kop met een oog in die middel. Die vier arms lyk eerder soos tentakels.

Dit is egter Lieber wat eerste tot verhaal kom.

“Seun, ons kan nie só staan en staar nie. Daardie is Makari’s van die planeet Oranius. En hulle is hier vir moord en doodslag!

“Hardloop jy nou die veld in en trek hulle aandag af.

“Ek gaan na die dorp probeer hardloop!” laat Lieber vinnig hoor.

Lucien trek weg en hardloop blindelings die veld in. Die trick werk, want albei die aanstormende gedrogte kom agter hom aan.

Lucien nael soos die wind oor die vlakte. Hy loer vlugtig oor sy skouers en sien dat die gaping tussen hom en die aliens vinnig kleiner word.

Hy kan al die gedrogte se warm asems in sy nek voel. Hy sien ’n dam so 50 m voor hom. Hy sit meer spoed in. Hy moet nou net daardie dam bereik. Miskien sal hy in die water veilig wees.

Hy bereik die dam op die oomblik toe een van die gedrogte sy voorpote op hom wil neerbring.

Met ’n sierlike duik beland hy in die water en swem kop onder die water weg van die oewer af.

’n Ent verder steek hy sy kop bo die water uit om asem te skep. Hy kyk in die rigting van die aliens. Hy sien dat hulle nog ’n tydjie daar op die wal ronddraai voordat hulle omdraai en stadig wegwaggel.

Hy wag totdat dit veilig is en swem oewer toe. Hy kruip op die wal uit. Hy lê eers ’n rukkie op sy rug om asem te skep.

Tóé val ’n groot skaduwee oor hom. Dit voel asof die bloed in sy are stol toe hy opkyk en ’n ander renosteragtige gedrog hier bokant hom sien uittroon. En bo-op sit ’n Makari gereed om aan te val …

Lucien se eerste instink is om sy hande in die lug op te steek, maar iets aan die houding van dié aliens slaan hom dronk. Hulle maal op die wal rond — soekend. Dit lyk asof hulle hom nie raaksien nie.

So byna word hy vergruis onder een van daardie massiewe pote. Hy rol uit die pad. Hy lê daar en bekyk nou die gedoente. Sy gedagte in die hoogste versnelling. Toe strike dit hom … hy is onsigbaar vir die wesens. Hy kan dit nie verstaan nie, want ’n paar minute gelede is hy dan nog gejaag deur hulle. Dís toe dit hom tref ... hy is nou papnat. Vroeër was hy droog.

So, die water maak hom onsigbaar vir die aliens. Hy staan op en loop tot voor die gedrog. Die gedrog snuif eers in die lug en draai dan lusteloos om en waggel met die Makari op sy rug weg die veld in.

Tóé weet Lucien hoe om die aliens te uitoorlê. Hy soek vinnig vir ’n skepding en vind ’n plastiekemmer eenkant lê. Hy skep dit vol water en hardloop daarmee in die rigting van die dorp. Vreesloos hardloop hy verby verskeie Makari’s tot hy die eerste gebou bereik.

Hy kyk op na die massiewe tuig wat oor die dorp hang. Hy moet so gou moontlik in daardie tuig kom om Lieber te help.

“Hi, Meneer, wie’s jy? Kom jy ons help?” Lucien se kop ruk om en hy kyk vas in die smekende gesig van ’n ou man.

“Hier was netnou ook ’n ou mannetjie. Maar hy is in daai straal op tot in daai tuig,” gaan die man voort.

“Foei tog, hy is seker nou al —”

“Oom, jy moet my help, asseblief!” val Lucien die man in die rede. Hy verduidelik aan die man sy plan. En ook dat water hulle onsigbaar vir die aliens maak.

Sommer gou-gou mobiliseer hy van die sterk manne wat nog in die dorp oorgebly het.

Elkeen waternat en met ’n emmer water in hulle hande, vaar hulle teen die straal op tot binne die ruimteskip.

Daar binne soek hulle naarstig na Lieber totdat Lucien geskok vassteek. Nie ver van hulle nie sien hy hoe die aliens met Lieber in die gang af loop.

“Hulle het hom gevang!” hyg hy dit uit.

Op die ingewing van die oomblik storm hy op hulle af en gooi Lieber papnat met die water.

Lieber skrik so groot. “Wat maak jy nou?!” hyg hy dit uit.

“Sjuut! Water maak jou onsigbaar vir die aliens!” fluister Lucien dringend terwyl die Makari’s daar verdwaas rondmaal. Hulle wonder nou wat so skielik van hulle gevangene geword het.

“Waar’s jou apparaat? vra Lucien dringend.

“Hulle het dit gekonfiskeer. Ons is verdoem,” kerm Lieber dit uit.

Lucien kyk na die ander inwoners hier saam met hom, elkeen nog steeds met hulle emmer vol water in hulle hande.

“Nee, ons is nie! Ek het ’n plan!” sê hy. “Wys my waar die hoofrekenaar is.”

Lieber snap sommer onmiddellik Lucien se plan. Gou wys hy hulle waar die enorme groot rekenaar met die aantal sleutelborde en flitsende, groen liggies is.

Lucien hang nie nog slange nie. Hy shower die sleutelborde met die emmer water.

Die ander volg ook sy voorbeeld.

Gou skiet rook en vonke by die rekenaar uit. Die ruimtetuig kantel gevaarlik eenkant toe.

“Nou moet ons hol!” gil Lucien en nael vir een van die uitgange.

Een vir een spring hulle by die uitgang naaste aan die grond uit. Hulle kry gou die ander inwoners bymekaar en versamel daar eenkant op ’n vlakte. Grootoog staar hulle na waar die massiewe skip rukkend op die dorp neerstort.

Al die aliens buite die skip begin aaklige doodsroggels gee toe hulle lewenskrag afgesny word.

Verbaasde uitroepe agter Lucien laat hom vinnig omswaai. Agter hulle staan brigadier Holster en sy reddingspanne.

Hulle kyk grootoog na die massiewe ruimteskip wat die hele dorpie nou platgeval het, en die sterwende aliens.

Lucien besef hulle is nou weer terug in hulle eie dimensie — met aliens en al.

“Daar is julle misterie wat julle al eeue aan die raai gehou het!” sê hy aan Holster en beduie na die ruimtetuig.

Holster se oë rek soos pierings. Hy haal sy selfoon bewerig uit sy sak.

“E-ek m-moet die p-president dringend op die lyne kry!”

  • Lees Maandag verder
Sê jou sê
Wat gebruik jy om Netflix, Showmax, etc te kyk?
Kies asb. 'n opsie Oeps! 'n Fout het ingesluip. Probeer asb. weer.
Resultate
My selfoon data
12% - 53 stemme
Ek het 'n selfoon-kontrak
1% - 4 stemme
Ek het wifi :-)
51% - 227 stemme
Ons is posh en het fibre!
37% - 164 stemme
Stem
Jongste Son

8 Augustus 2022

Jongste Son
Klik hier om te lees!
Begin lees