Abby gryp haar kans om Vanessa ná jare by te kom

akkreditasie

HAAI, Sonlanders! Chucky is ’n mert wat worry oor die drug-skuld van drie vroue-customers van hom. Dit gaan sy besigheid met die gevreesde dealer, Jo’burg, beïnvloed. Sy vrou, Abigail, kom egter tot sy redding, maar teen ’n prys: die drie vroue wat haar man skuld, gaan nou vir háár skuld. Chucky aanvaar sy vrou se aanbod. Nie lank daarna nie kom drop ’n jong meisie die besending dwelms afkomstig van Jo’burg. Sy tel met groot sorg die geld wat Chucky haar gee, maar hoekom is Chucky so ongemaklik oor dié geld? Geniet nou hoofstuk 2 van JOHN PIETERSEN se Die Laksman: Kinderdiewe.

’N PAAR dae later word die drie meisies afgelaai wat vir Chucky geld skuld.

Eintlik word hulle uit die taxi gesmyt en die taxi-driver skree vir Abigail dat hy die drie franse wat haar geld skuld, kom drop het.

Abby kom full-force uit die huis uit en begroet die druggies met geweld onder die carport, terwyl Bollie, haar handlanger, die hekke vinnig toemaak.

“Waar’s my geld, huh?” vra sy kwaai.

Voor enige een nog kan praat, klap sy vir Vanessa kliphard deur die gesig.

“Ons is gerob,” lieg Lollie.

“Gerob, huh?” vra Abby smalend en haak af en gee Vanessa nog twee vuurwarme klappe.

“Ek gaan my broertjie se laptop vir jou bring,” skree Monie.

“Ek soek nie jou broertjie se laptop óf die boere hier by my plek nie,” sê Abby, terwyl sy vir Vanessa trap laat die rook draai.

Die ander twee tikkoppe is uit ’n tokkie uit geskrik en weet toe sommer dit gaan oor Reo, die hartebreker van destyds.

Abigail Donson wag al meer as 15 jaar vir hierdie geleentheid om Vanessa Peters so te verneder.

Sy kry eintlik lekker om te sien hoe hulpeloos Vanessa is.

Nadat Abby haar jare van frustrasies op Vanessa uitgeskop en geslaan het, sê sy in ’n doodmoeë stem: “Ek het vir julle werk gereël by Jo’burg. Hy verwag julle. Die pay is goed.

“Kom betaal my sodra julle geld kry. Ek sal bel om te sê julle is op pad.”

Die druggies se oë rek nóg groter van skok. Dis asof hulle ’n doods-tyding ontvang het. Net soos baie ander mense is hulle ook bang vir Jo’burg. Hulle weet hulle mag dalk nooit weer hul geliefdes sien nie.

Hulle is sommer nou baie spyt hulle het nie vroeër hul skuld kom betaal nie.

Dan kyk Abby na haar regterhand: “Bollie, vat dié tewe straight na Jo’burg se pos toe. Time is money.”

Die drie probeer nog pleit, maar Abby maak asof sy hulle nie hoor nie terwyl sy die huis in verdwyn.

Jo’burg woon in ’n spoggerige double storey-huis in Penhill, oorkant Eersterivier-stasie. Met hoë mure en ’n electrical fence.

Die guards laat die vroumense ingaan en beveel Bollie om te “march vannie yard af!”

By die voorportaal beveel die een guard dat hulle hom moet volg.

Hy maak ’n deur oop en daar sien hulle ’n hele paar mense met deftige klere in ’n groot entertainment room sit met ’n massiewe flatscreen-TV.

Die plek lyk soos ’n klein casino en daar speel sagte musiek in die agtergrond.

Sommige gebruik openlik dwelms, ander drink sjampanje en duur wyne terwyl ander lekker sit en dobbel.

’n Paar vroumense lyk soos “high class prostitutes” en die girls vergaap hulle omtrent aan hierdie lekker partytjie.

Twee poeliesmanne in uniform is besig om cocaine te sniff.

Toe hulle die nuwelinge sien, sit hulle vinnig donkerbrille op.

Die drie word na ’n vertrek geneem. Hulle is omtrent op hul nerves en praat nie met mekaar nie.

Daar is orals kameras binne en buite die huis, let hulle op.

Ná vyf minute kom daar ’n baie mooi wit vrou in met ’n swart broekpak aan.

Sy het ’n groot, wit koevert in haar hande, kyk op haar polshorlosie en sien dis net ná elfuur.

“Goeiemôre. My naam is Tracey. Jo’burg vra om verskoning, hy kan julle ongelukkig nie nou sien nie, want nuwe besigheidsgeleenthede het onverwags opgeduik en dit geniet nou sy aandag.

“Welkom by Die Sindikaat,” sê sy met ’n baie mooi glimlag.

“Ons kliënt in Seepunt is ’n middeljarige couple wat nie kinders by kan verwek nie en as gevolg van hul donker verlede sal hulle nie in staat wees om ’n babatjie aan te neem nie.

“Ons kontak in die veld het ’n vrou, ‘Carmen Konyntjie’, geïdentifiseer in Kleinvlei.

“Sy’s by kind nommer vyf, is brandarm en ’n totale alkoholis.

“Sy het nie ’n man of ’n inkomste nie en haar kinders moet maar self skarrel om aan die lewe te bly.

“Die welfare het alreeds twee kinders uit haar sorg verwyder omdat sy nie in staat is om na hulle om te sien nie.

Die ander twee bly by haar ma in Keerom-straat.”

Tracey sit die wit koevert versigtig op die tafel neer.

“In hierdie koevert is Carmen en die kleintjie se foto’s, haar adres, R2 500 in kontant en ’n selfoon. My nommer is op speed dial 1. Bel my indien julle vashaak.

“Ek’s beskikbaar 24 uur ’n dag. Julle sal nog R5 000 kry by aflewering van die kind.

“Julle moet Konyntjie entertain en haar vertroue wen sodat sy julle na haar huis toe kan neem. Maak haar dan dronk totdat sy tiep.”

Dan haal Tracey ’n klein botteltjie met ’n deurskynende vloeistof uit haar baadjiesak en gaan voort:

“Maak vir die baba ’n waterbottel en gooi hierdie in sodat sy kan slaap. Dis nie toksies nie. Sy sal net vir 12 ure aaneen slaap.

“Bel dan ’n Uber en verdwyn stilletjies. Julle sal die kind neem tot by Sonop, ’n plaas naby Worcester, totdat die stof gaan lê.

“’n Mammie daar sal wag vir julle en die kind neem. Kom dan terug hierheen en ontvang die uitstaande R5 000.

“Die selfone het ’n tracker in en as julle dink aan verdwyn, sal ons jul kinders vat en verkoop, julle opspoor en van die map afhaal,” sê Tracey en smile dan liefies vir die drie vroue wat haar verstom aangaap.

Die drie tikkoppe luister met groot oë en bewende kniekoppies.

“O, ja. Die smokkelhuis waar julle Konyntjie sal kry, se naam is ‘Laat op Straat’. Enige vrae?”

Bang-bang waag Lollie dit: “Wanneer presies moet ons die kind gaan kry?’’

“Gister! skree Tracey kwaai met groot oë en nekare wat skielik uitstaan.

“Want as daai kind nie môre in ons hande is nie, trek ons oormôre van jul pay af!”

En die vrou se mood verander van good to evil in net twee sekondes!

  • Lees môre verder
Sê jou sê
Moet die salaries van Eskom-werkers gesny word oor load-shedding?
Kies asb. 'n opsie Oeps! 'n Fout het ingesluip. Probeer asb. weer.
Resultate
Hulle moenie betaal word nie
47% - 76 stemme
Haai nee, shame - hulle het families
16% - 26 stemme
Eskom se push
25% - 41 stemme
Gee my krag, elke dag
9% - 14 stemme
Wat is load-shedding?
2% - 4 stemme
Stem
Jongste Son

30 Junie 2022

Jongste Son
Klik hier om te lees!
Begin lees