
’N VROU van Blomnek, De Rust, wat haar voormalige werkgewer met ’n kapmes oor sy kop geslaan en aan poging tot moord skuldig bevind is, is Dinsdag in die Oudtshoorn-streekhof gevangenisstraf van vyf jaar opgelê.
Drieka Botha (65) het erken dat sy verkeerd opgetree het en gestraf moet word.
Volgens haar het sy die oggend van 10 Oktober 2021 na die woning van Schalk van der Sand (76) gegaan omdat hy haar glo nog R1 000 geskuld het vir werk wat sy as huishulp gedoen het.
Toe Van der Sand haar meedeel dat sy moet wag totdat hy sy staatstoelae ontvang, het sy kwaad geword. Sy het toe hom ’n paar keer met ’n kapmes geslaan.
Hy moes na die hospitaal geneem word vir behandeling van sy beserings.
Die staatsaanklaer, Brandon Smith, het die hof vir direkte gevangenisstraf gevra omdat ouderdom nie ’n waarborg is om uit die tronk te bly nie, iets wat selfs die land se vorige president nie kon vryspring nie.
Beplan
Sy is aan ’n ernstige misdaad skuldig bevind.
Volgens getuienis van haar dogter behoort die panga aan hulle, wat beteken dat sy beplan het om die bejaarde Van der Sand daarmee aan te val.
Botha se regshulpprokureur, Wenzel Botha, het die hof versoek om in ag te neem dat sy nie meer jonk is nie en direkte tronkstraf haar sal breek.
Hy het voorgestel dat sy onder korrektiewe toesig geplaas word.
Sy het ook van die begin af haar samewerking gegee en skuldig gepleit.
Streeklanddros Sylvia Mandla het egter met vonnisoplegging gesê dat dit nie nodig was vir Botha om so op te tree nie en dat ’n opgeskorte vonnis nie die regte boodskap sal uitstuur nie.