PAK maar vir jou ’n kosmandjie met iets in vir brêkvis en lunch.
Só voel die siekes wat die primêre gesondheidsorg-klinieke in Kannaland moet besoek, omdat hulle glo vir forever and a day moet wag.
Ronecia Julies vertel: “Jy kan maar ’n afspraak het. Wat is die doel van ’n afspraak as jy heel bleddie dag daar moet wag om gehelp te word?
“Jy maak die vorige dag of week ’n afspraak, maar keer nog steeds huiswaarts sonder dat jy gehelp is.
“Alles is so ongeorganiseerd by hierdie kliniek in Calitzdorp.
“Ek is nou die derde een wat hierdeur geraak word.
“Ek het gister afsprake gehad vir 10:00 en nog een vir 10:30, vir my chroniese medikasie. My suster het letterlik five past four by daai kliniek uitgekom.
“Mense hardloop rond soos mense wat nie weet wat om te doen nie.”
Pasiënte voel alles is so stadig, en dit is die rede hoekom die rye by die klinieke so lank is.
“Mense raak skoon siek net van hoop om gehelp te word,” het ’n nog vrou gekla.
Afsprake
Hulle wil nou weet wat die doel is, as hulle dan nog vir mense afsprake maak as hulle nie mense kan help op daardie spesifieke tyd soos aangedui word, nie.
Nadia Ferreira, ’n woordvoerder vir die Wes-Kaapse departement van gesondheid, het by navraag gesê: “Ons is jammer om te hoor dat een van ons kliënte ’n negatiewe ervaring gehad het by een van ons fasiliteite.
“Volgens ons rekords was die pasiënt soos genoem nie by die kliniek nie, maar wel ’n familielid.
“Waar pasiënte laat is vir hul afsprake word geskeduleerde pasiënte eers gesien en daarna word die res gesien.
“Pasiënte wat laat kom word dus steeds gesien, maar word gevra om asseblief ’n bietjie te wag tot die geskeduleerde pasiënte vir daardie tydgleuf gesien is.”