
ELF leerlinge is geskors nadat 'n bakleiery tussen 'n groep kinders in 'n klaskamer van die Hoërskool George uitgebreek het.
'n Video wat gemaak is, het soos 'n veldbrand versprei. 'n Mens kan in die video sien hoe kinders mekaar takel. Lessenaars word omgegooi en sommige leerders word op die grond neergegooi, geslaan en getrap.
Volgens Bronagh Hammond, direkteur van kommunikasie vir die Wes-Kaapse onderwysdepartement, is die voorval na bewering bendeverwant.
Elf leerders is intussen geskors en staar 'n tugverhoor in die gesig.
"Ongelukkig het gebeure vanuit die gemeenskap na die skoolomgewing oorgespoel, wat gelei het tot 'n bakleiery by die skool. Kalmte is herstel en ons wag op 'n amptelike verslag oor die volgende stappe in terme van dissiplinêre en ander optrede," het Hammond gesê.
Volgens onbevestigde inligting het 'n onderonsie vroeër die oggend in die bus op pad skool toe begin en tot die bakleiery gelei kort voordat die skool begin het.
'n Woordvoerder van die polisie, kapt. Malcolm Pojie, het gesê hulle is bewus van die voorval, maar geen saak is gemaak nie.