
DIE hoë aantal Eskom-werkers wat ná die staking nie vir werk aangemeld het nie asook die intimidasie van diegene wat dit wel gedoen het, het die maatskappy gedwing om fase-6 beurtkrag Donderdag en Vrydag tussen 14:00 en middernag te implementeer.
Eskom sê in 'n verklaring die intimidasie van werkers het dit moeilik gemaak om roetine-instandhouding en ander bedryfsvereistes uit te voer. Dit het 'n verdere impak op die betroubaarheid van opwekeenhede.
"Weens die onwettige en onbeskermde staking, wat wydverspeide ontwrigting aan Eskom se kragaanlegte aangerig het, kan Eskom steeds nie sommige opwekeenhede in diens kry nie. Eskom is verplig om dié ongekende stap te neem om noodopwekkapasiteit te behou om die kragstelsel te beskerm. Die risiko bestaan steeds dat die fase van beurtkrag enige tyd kan verander afhangend van die stand van die aanleg," lui die verklaring.
Eskom sê die staking het 'n nadelige uitwerking, nie net op hulle nie, maar die breë Suid-Afrikaanse publiek en die ekonomie.
Altesaam 3161MW is weens beplande instandhouding onbeskikbaar, asook 'n verdere 17467MW weens breakdowns.
Die kragreus het intussen alle vakbondlede gevra om gehoor te gee aan die versoek van hul leierskap om onmiddellik vir werk aan te meld.