
DIE EFF se hoof van presidensie, Vuyani Pambo, het Maandagaand na bewering self die slagoffer van 'n kaping geword.
Die party sê in 'n verklaring drie gewapende mans met maskers op het Pambo genader terwyl hy in sy kar was. Hulle het sy voertuig gevat en geld geëis.
Luidens die verklaring het die mans met presisie opgetree toe hulle die motor in 'n stil buurt buite sy ma se huis afgevat het. Pambo se paspoort, ID en ander waardevolle besittings was nog in die voertuig.
"Dit is duidelik in die manier hoe die operasie uitgevoer is, dat dit vooraf beplan is met die doel om te intimideer en om sekere waardevolle items en besittings te bekom," lui die verklaring.
Die party is bly dat Pambo en sy familie ongedeerd is.