
TWEE van die vier amptenare wat vir hul betrokkenheid by seksuele wangedrag tydens die voormalige LUR Albert Fritz se ampstermyn geskors is, is afgedank met onmiddellike effek.
Die Wes-Kaapse departement van gemeenskapsveiligheid en polisietoesig het die afdankings bevestig. Ishaam Davids, die departement se hoof van kommunikasie, het Vrydag aan News24 gesê die amptenare is weens wangedrag afgedank.
News24 verneem die afgedankte amptenare is die voormalige ministeriehoof, David Abrahams, en ondersteuningsbeampte Michael Kwaaiman. Hulle is ná 'n interne ondersoek ontslaan.
“Een amptenaar is aan wangedrag skuldig bevind: Twee aanklagte van seksuele teistering en het die seksuele wangedrag wat deur Fritz gepleeg is, gefasiliteer en/of moontlik gemaak.
“Die ander amptenaar is skuldig bevind aan wangedrag: Versuim om aan te meld en op te tree op bewerings van wangedrag wat deur Fritz gepleeg is en versuim om die vertroulikheid en vertroue van klaers van seksuele wangedrag deur Fritz te eerbiedig, deur hom indirek/regstreeks op die aantygings teen hom te waarsku. "
Verslag
In Januarie is Fritz se woordvoerder, Wade Seale, en nog 'n amptenaar, Lazola Ndubela, ook geskors te midde van eise van seksuele wangedrag.
Davids het gesê die ondersoek teen die ander twee amptenare duur steeds voort. In Maart het ’n verslag wat deur advokaat Jennifer Williams saamgestel is, “voldoende geloofwaardigheid” gevind in die aantygings van seksuele wangedrag en alkoholmisbruik wat teen die voormalige LUR gemaak is.
Williams is aangestel as hoof van 'n onafhanklike ondersoek ná bewerings van seksuele wangedrag teen Fritz.Premier Alan Winde het Fritz onmiddellik afgedank nadat hy die bevindings van die onafhanklike ondersoek ontvang het.
Fritz het daarna as die DA se provinsiale leier bedank.