Suspect wys waar lyk lê

akkreditasie
Polisielede baken die toneel af voordat hulle die liggaam opgrawe.
Polisielede baken die toneel af voordat hulle die liggaam opgrawe.
verskaf

INWONERS van Rocklands in Mitchells Plain is in skok nadat die liggaam van ’n onbekende man Woensdag in ’n vlak graf op ’n sportveld daar ontdek is.

Volgens Cedric Daniels (65), voorsitter van die Rocklands-buurtwag, is hierdie gru-ontdekking nie ’n alledaagse ding vir die gemeenskap nie.

Daniels sê die buurtwag dra nie veel kennis van die omstandig­hede rondom die liggaam nie, maar verskeie bespiegelinge doen die rondte.

“Daar word beweer dat die liggaam moontlik dié van ’n ou van Strandfontein kan wees wat as vermis aangemeld is.

“Ons kan nie sê dit is hy nie, want huidig is die liggaam nog nie geïdentifiseer nie.

“Dit is nie ’n norm dat mense vermoor word en in vlak grafte begrawe word hier in Rocklands nie. Hierdie is nou ’n uitsonderlike voorval. Daar was wel ’n paar insidente naby ons waar liggame in vlak grafte ontdek is in Baden Powell- en Lukannon-rylaan,” sê Daniels.

’n Inwoner wat verkies om anoniem te bly, sê ’n verdagte in dié verband het die polisie na die toneel geneem waar hy na bewering die liggaam begrawe het.

Volgens die vroulike inwoner, wat op die toneel was toe die liggaam opgegrawe is, was die polisie heelweek sigbaar in hulle area en dit blyk nou dat hulle na die verdagte of die slagoffer gesoek het.

“Hulle het klere en komberse by die verdagte se huis gekry en toe het hy vir die polisie gaan uitwys waar hy die liggaam begrawe het.

Bewyse

“Ek is nie seker wanneer die moord gepleeg is nie, maar blykbaar is daar nog mense betrokke wat moontlik gearresteer gaan word.

“Die polisie het op die oomblik net genoeg bewyse om die een arrestasie te maak,” sê die bekommerde inwoner.

AO Joseph Swartbooi, ’n polisiewoordvoerder, sê ’n 24-jarige man is gearresteer in verband met die liggaam wat in die vlak graf gevind is by die sportveld in Seafire-straat.

“Die slagoffer is deur mediese personeel dood verklaar op die toneel.

“Die verdagte word tans aangehou op ’n klag van moord en die motief agter die aanval is nog onbekend.

“Sodra hy aangekla is, sal hy na verwagting ’n verskyning in die Mitchells Plain-landdroshof maak op die genoemde klag.

“Enigiemand met inligting word versoek om die ondersoekbeampte speursers. Angus November by 079 897 1511 te bel of alternatiewelik Crime Stop by 08600 10111 te bel,” sê Swartbooi.

Sê jou sê
Wat gebruik jy om Netflix, Showmax, etc te kyk?
Kies asb. 'n opsie Oeps! 'n Fout het ingesluip. Probeer asb. weer.
Resultate
My selfoon data
12% - 53 stemme
Ek het 'n selfoon-kontrak
1% - 4 stemme
Ek het wifi :-)
51% - 227 stemme
Ons is posh en het fibre!
37% - 164 stemme
Stem
Jongste Son

8 Augustus 2022

Jongste Son
Klik hier om te lees!
Begin lees