Suspect gee sy eie game weg

akkreditasie
herken: Die slagoffer het getuig sy het die man wat haar gelem en vir dood agtergelaat het, op ’n Facebook-inskrywing herken. FOTO TER ILLUSTRASIE: netwerk24
herken: Die slagoffer het getuig sy het die man wat haar gelem en vir dood agtergelaat het, op ’n Facebook-inskrywing herken. FOTO TER ILLUSTRASIE: netwerk24

SY WEET dit was hy, want by was bo-op haar.

Só het Grace Mafadu (27) Woensdag in die Kaapse hooggeregshof onder kruisondervraging getuig oor die man wat haar na bewering met ’n mes aangeval, haar keel probeer afsny en haar verkrag het.

Haar vermeende aanvaller, Leonard Mzingeli, staan tereg op vier klagte — twee van verkragting, een van poging tot moord en moord.

Die moordklag hou verband met die dood van Amahle Quku (17), wat op Vrydag 19 Junie 2020 verkrag en vermoor is.

Quku was die Vrydag met vriende, sowel as met die beskuldigde in die Siya­nyanzela-plakkerskamp in Browns Farm, Nyanga, waar hulle saam gedrink het.

Volgens die klagstaat het Mzingeli vir Quku na buite geroep. Hulle het die huis saam verlaat en nie teruggekom nie.

Quku is nie weer lewend gesien nadat sy die huis met Mzingeli verlaat het nie.

Haar liggaam is die volgende oggend gevind.

Sy het beserings aan haar geslagsdele opgedoen en is verwurg.

Quku se verkragting en moord volg byna ’n jaar nadat Grace aangeval is.

Grace is op 26 Oktober 2019 na bewering deur die beskuldigde aangeval.

Volgens die klagstaat was sy op pad na ’n winkel in die Sinyagena-plakkerskamp in Brown’s Farm.

Sy het getuig dat die winkel sowat vyf tot sewe minute se stap van haar boy-friend se huis af is en dat sy 22:00 na die winkel gestap het.

Mafadu het onder kruisondervraging getuig sy kan nie onthou of enige ander mense gesien het toe sy gestap het nie.

Sy het verder getuig dat sy nie presies kan onthou hoe laat dit was toe sy besef het dat iemand haar agtervolg nie.

“Ek kan nie onthou nie. Ek kon net aanvoel daar is iemand wat my volg,” het sy getuig.

Sy het verder getuig sy het geweet dat die beskuldigde in haar gebied woon, maar is nie seker wat sy adres is nie.

Mafadu het ook getuig dat sy kan onthou die beskuldigde het vroeër die betrokke dag met haar geflirt en hom as Mzi aan haar voorgestel het.

Die staat voer aan dat die beskuldigde Mafadu agtervolg het, haar gepootjie het — wat veroorsaak het dat sy op die grond beland het — en haar toe met ’n mes begin steek het.

Mafadu het veelvuldige steekwonde aan haar liggaam en nek opgedoen.

Sy is gevind deur verbygangers, wat haar na ’n nabygeleë hospitaal geneem het.

Mafadu het volgens die klagstaat in Junie 2020 ’n Facebook-inskrywing gesien en die beskuldigde daar geïdentifiseer as die persoon wat haar die vorige jaar aangeval het.

In kruisondervraging is Mafadu gevra hoe sy weet dat die persoon wat sy op Facebook gesien het en die persoon wat nou in die beskuldigdebank is, dieselfde persoon is wat haar in Oktober 2019 aangeval het.

“Hy was bo-op my. Ek het hom gesien.

“Ek het sy gesig gesien. Ek weet dit is hy!” het Mafadu getuig.

Die saak duur voort.

Sê jou sê
Is jy al ingeënt
Kies asb. 'n opsie Oeps! 'n Fout het ingesluip. Probeer asb. weer.
Resultate
Ja, ek het al die jab gekry
43% - 1494 stemme
Nee, ek het nog nie die jab gekry nie
20% - 694 stemme
Ek laat my nie steek nie
36% - 1250 stemme
Stem
Jongste Son

24 Mei 2022

Jongste Son
Klik hier om te lees!
Begin lees