SA ster sterf skielik

akkreditasie
James Bhemgee is dood ná ’n kort siekbed.
James Bhemgee is dood ná ’n kort siekbed.
Peter Abrahams

JAMES Bhemgee sing nou in die hemel se koor.

Bhemgee (57), die wenner van SA’s Got Talent in 2010, het Dinsdagaand ná ’n kort siekbed in die hospitaal gesterf.

Die man met die magiese tenoorstem het Suid-Afrikaners destyds hoendervleis gegee toe hy as eertydse straatveër die gesogte kroon ingepalm het.

Regoor die vermaaklikheidswêreld tot in die wandelgange van die politieke arena het mense hul skok oor Bhemgee se dood uitgespreek.

Anroux Marais, Wes-Kaapse LUR vir kuns en sport, het Bhemgee se dood as ’n groot slag beskryf.

Marais het gesê: “Sy verhaal het baie Suid-Afrikaners geïnspireer om bo hul omstandighede uit te styg. Ons waardeer sy bydrae tot die musiek en kunste.

“Ons meegevoel gaan uit aan sy familie, vriende en diegene wat saam met hom in die bedryf gewerk het.”

Die komediant Ashley Pienaar het by tye ook as Bhemgee se bestuurder opgetree en sê dit is nie snaaks dat iemand wat so talentvol soos Bhemgee was, as ’n brandarm mens moes sterf nie.

hul held: Die PJ Twins, Peter en John Talmarkes sê Bhemgee het hulle geïnspireer om ook aan die SA’s Got Talent-kompetisie deel te neem.

Swaar

“Die meeste van ons kunstenaars gaan arm dood en dit is regtig iets wat die regering na moet kyk.

“In lockdown bel hy my en sê dit gaan ’n bietjie swaar en vra of ek hom ietsie kan stuur. Baie mense is net daar wanneer dit lights, camera en action is, maar mense is nie daar as die swaar tye kom nie.

“Ek haal my hoed af vir hom en sien hom as een van die beste operasangers in die wêreld,” het Pienaar gesê.

Salmon Smith, een van Son se eie, sê hy en Bhemgee het oor die jare ’n hegte band gesmee.

“James’ie was een van die nederigste mense wat ek al ooit ontmoet het. Toe ek hom in 2019 vra om by my neef se troue op te tree, het hy dit verniet gedoen. Ons Vader het James’ie geroep. Hy sing nou in die hemel se koor,” het Smith gesê.

suksesvol: Bhemgee het in sy leeftyd talle verhoë met groot musikale geeste soos die Nederlandse violis André Rieu gedeel.Foto’s:peter abrahams

Die golden oldie en gewilde Rockets-voorman Jerry Watt sê aan Kelly-Lee Ohlson hy was gebroke toe hy die hartseernuus van Bhemgee se afsterwe hoor.

“James was ’n nederige man. Regtig plat op die aarde. James, ’n Cape Flats boy. Maar as hy sy mond oopgemaak het om te sing, het jy onmiddellik daai international quality gehoor. Hy het ’n fantastiese goue stem gehad en ons sal daai stem lank onthou,” vertel Watt oor sy wyle vriend in die musiekbedryf.

Die Kaapse sanger en akteur Alistair Izobell, wat James baie keer vir events gebook het, het die woorde van Watt beaam.

“James is sekerlik een van die gaafste mense saam met wie ek gewerk het. Hy was ’n absolute gem. Dit was ’n delight om sy goeie hart en sy ongelooflike talent te expe­rience.

“As ek na sy optredes geluister het, het ek gedink hier is waar God besluit het om net ’n bietjie meer talent by te sit.”

Klassieke

PJ Twins, Peter en John Talmarkes, is net so geruk deur die dood van die man wat hulle ook geïnspireer het om aan SA’s Got Talent deel te neem.

Nes James is die PJ Twins ook van die Cape Flats. Toe hulle hom op die kassie sien klassieke musiek sing, het hulle besluit hulle kan ook.

“As jy die naam James Bhemgee hoor, dink jy dadelik aan die klassieke song ‘Nessun Dorma’. Suid-Afrika sal hom altyd by daardie song onthou. Hy was so ’n nederige en vriendelike mens vir elke persoon wat hy teëgekom het,” deel Peter.

Begrafnisreëlings vir Bhemgee was teen druktyd nie bekend nie. ’n Vrou wat sy selfoon beantwoord het, het gesê hulle is tans besig om alles te finaliseer.

Sê jou sê
Moet die salaries van Eskom-werkers gesny word oor load-shedding?
Kies asb. 'n opsie Oeps! 'n Fout het ingesluip. Probeer asb. weer.
Resultate
Hulle moenie betaal word nie
48% - 76 stemme
Haai nee, shame - hulle het families
16% - 26 stemme
Eskom se push
26% - 41 stemme
Gee my krag, elke dag
9% - 14 stemme
Wat is load-shedding?
2% - 3 stemme
Stem
Jongste Son

30 Junie 2022

Jongste Son
Klik hier om te lees!
Begin lees