
JEREMY Sias wat weens moord op Meghan Cremer aangekla word, het wel beserings gehad soos iemand wat geslaan is, maar hy kon nie sê waar dit vandaan kom nie.
Die getuienis is Donderdag in die Wes-Kaapse hooggeregshof aangehoor, toe die dokter wat aan diens was die dag toe Cremer se lyk gevind is, getuig het.
Dr. Matthew Wilson was aan diens by die Heideveld-gemeenskapssgesondheidsentrum, die dag toe Sias aan die polisie in die vroeë oggendure van 8 Augustus 2019 gaan wys het waar Cremer se lyk was. Wilson het die beskuldigde ook daardie oggend ondersoek.
Wilson sê Sias het "klinies gesond" gelyk.
Sy kollega, dr. Fatima Karjiker, wat Sias die vorige aand ondersoek het, het getuig dat Sias gesê het die polisie het hom drie dae lank geslaan.
Al wat sy kon vind was 'n skaafplek wat besig was om te genees.
Daar was geen aanduidings van beserings aan sy ribbes nie. Sy het getuig Sias het gesê hy is geskop en geslaan.
Sy het toe Panado en Brufen pille voorgeskryf.
Sias het die polisie in die vroeë oggendure gaan wys waar is die lyk en hy het erken hy het die lyk op 'n plaas in Olieboomstraat, Philippi gaan dump.
Hy het beweer hy het Cremer se Toyota Ayris vir 'n joyride geneem van Vadelansche Rietvlei-plaas waar hy werk en Cremer bly.
Volgens hom het hy haar lyk agter in die boot gekry, maar hy ontken hy het haar vermoor.
Sias het ook gesê hy is nie weer aangerand nie.