BINNE ’n paar maande het die dogtertjie van ’n energieke mensie in ’n siek pasiënt verander wat na asem snak.
Die mooi, jong ma, Shantay Schalkwyk (22) van Ravensmead, sê haar hart pyn om haar enigste dogtertjie, Shakeenah (5), in dié toestand te sien.
Shantay vertel Shakeenah is ’n tweede keer vir ’n lang tyd in die Tygerberg-hospitaal nadat ’n harttoestand in November 2021 by haar gediagnoseer is.
Sy samel tans fondse in om ’n tweede opinie by ’n Kanadese dokter oor haar dogtertjie se toestand te kry.
Opstoot
“Ons het laas jaar op 23 November die daghospitaal in Ravensmead besoek omdat sy koors gehad het. Daar is gesê sy het moontlik ’n borsinfeksie, maar is na die Tygerberg-hospitaal verwys vir nader ondersoek.
“Dokters het ontdek sy het ’n vergrote hart waar die regterventrikel ’n gat in het wat vloeistof na haar longe opstoot.
“Pulmonale hipertensie is ook by haar gediagnoseer. Die vloeistof is in haar longe en nie op haar longe nie. Dus is dit moeilik vir hulle om te opereer.
“Die vloeistof in haar longe veroorsaak dat daar ook vloeistof na haar lewer toe stoot en dokters het gesê Shakeenah se lewer is ook intussen vergroot.”
Shantay sê sedert November ontvang hulle maandeliks slegte nuus, maar ten spyte daarvan bly sy en Shakeenah hoopvol.
Die mammie verduidelik haar dogtertjie kan tans nie op haar maag, sy of rug lê nie. Sy moet sittend slaap weens die vloeistof op haar longe. Dokters het genoem Shakeenah is met die harttoestand gebore.
“Omdat haar longe vol vloeistof is, sukkel sy met asemhaling en sy kan nie lang afstande loop nie.
“Om toilet toe te loop, is selfs te ver vir haar en maak haar uitasem. Dus moet sy nappies dra. Volgens dokters is sy veronderstel om maagpyne te ervaar oor haar vergrote lewer, maar Shakeenah sê sy ervaar dit nie.
“Dit is net die werk van die Here. Die dokters by Tygerberg sê my dogtertjie is ongelukkig te swak om te opereer. Hulle sal ná ses maande weer kyk hoe haar toestand is.”
Shantay meen sy kan nie sit en toekyk hoe haar dogtertjie voor haar o? wegkwyn nie. Sy soek ’n tweede opinie. Dis toe sy op ’n mede-ouer afkom wat dieselfde stryd met sy dogtertjie deurgaan. Hy het haar verwys na ’n Kanadese dokter. Sy is tans in kontak met die dokter en hulle wag vir scans van Tygerberg.
“Sodra die dokter in Kanada die scans ontvang, sal hy kan sê of hy ons kan help. Ek kan nie nog ses maande wag en niks doen nie. Shakeenah raak by die dag swakker. Ek het intussen my werk gelos om na haar om te sien en as die dokter van Kanada ons kan help, sal dit geld kos.
“Ek het intussen mense begin vra vir skenkings, al is dit ook net ’n R10, want die behandeling gaan duur wees,” vertel Shantay.
Sy voeg by sy sal alles vir haar dogter doen en selfs haar eie hart skenk.
Sy sê Shakeenah is positief dat sy gesond gaan word en skool toe sal gaan.
“As daar iets is wat ek kan doen om Shakeenah beter te laat word, sal ek dit doen. Daar is dae wat ek nie meer weet hoe om te bid nie.
“Ek vra ook vir gebede vir Shakeenah, want ek weet dit sê in God se Woord wanneer twee of meer in sy Naam vergader, sal Hy by ons wees.”