
SPIDERMAN hou hom toe met onwettige dinge besig.
’n Mens kan seker maar vergewe word vir dié afleiding nadat verdagtes in Kleinvlei in Eersterivier betrap is met ’n vuurwapen wat onwettig in hulle besit was. Dié vuurwapen was mooitjies versteek in ’n Spiderman-rugsak wat in die mans se besit gevind is.
Betrap
Lede van die Kleinvlei-polisiestasie het die mans Woensdag in die vroeë oggendure op heter daad betrap toe hulle elektriese toerusting in Da Gama-straat gevandaliseer het.
Die rugsakkie is deurgesoek en ’n 9 mm-Star-pistool en ammunisie is gevind.
Of hulle nou dalk familie van Spiderman is ofte not, die mans is gearresteer en word aangekla van die onwettige besit van ’n ongelisensieerde vuurwapen en ammo. Hulle sal binnekort in die hof verskyn.